V&A: Leer hom slaap

akkreditasie
My elf maande oue kind is omtrent heelnag wakker. Ek is uitgeput en het al alles behalwe slaapafrigting beproef. 

Dr. Gerrit De Villiers, pediater, antwoord:

Tot 25 persent van kinders slaap op twee jaar oud nog nie deur die nag nie. Slaapafrigting werk beslis en veroorsaak nie emosionele skade nie. Die gebrek aan slaap wat ouers ondervind kan eerder skade aan die ouer-kindverhouding aanrig!

Kinders van omtrent 12 maande oud slaap gemiddeld 10-12 uit 24 uur, waarvan omtrent agt uur in die nag en tot vier uur in die dag as twee tot vier kort dagslapies deurgebring word. Die aantal dagslapies en die duur daarvan neem gewoonlik ná die eerste verjaardag af.

Teen 18 maande oud slaap kinders agt tot 10 uur per nag en geniet gewoonlik een dagslapie van een tot twee uur lank.

Wat dagslapies betref: Kleuters is baie aktief in die dag – hulle verken hul omgewing, kruip, loop en hardloop rond en speel. Dis dus goed as hulle ’n stil tyd in die dag het om te rus. Probeer ’n dagslapieroetine vestig waar jou kind op ’n vasgestelde tyd in sy slaapkamer slaap.

Gewoonlik is 30 minute tot ’n uur genoeg vir kinders ouer as een, terwyl jongeres langer kan slaap.

En nou vir slaapafrigting:

Dis belangrik om saam met slaapafrigting te kyk na slaaptydroetine en slaapassosiasies. Die belangrikste deel van die vestiging van ’n slaaptydroetine is om kinders te leer om op hul eie aan die slaap te raak, nie deur gewieg of gestreel te word of aan ’n bottel te suig nie.

Dis omdat alle kinders in die nag wakker word wanneer hulle ’n fase van ligte slaap ingaan. Hulle moet dus leer om in hierdie tyd weer self aan die slaap te raak, sonder jou hulp. Kinders met goeie slaapassosiasies en ’n slaaptydroetine doen dit makliker.

Die eerste stap is dus om jou kind te leer om op sy eie aan die slaap te raak met ’n vaste slaaptydroetine wat eindig met hom in sy eie bed op sy eie (sonder musiek, ’n bottel, of jy wat by hom lê). Sê vir hom nag terwyl hy nog wakker is, maar vaak.

Die volgende stap is progressiewe wag. Dit beteken dat wanneer hy snags wakker word, jy ál langer wag voor jy inloer. Jy gaan kyk ook nie om hom aan die slaap te maak nie, maar om hom gerus te stel dat jy nog naby is.

Die eerste aand kan jy byvoorbeeld gaan inloer nadat hy drie minute lank gehuil het, dan ná vyf minute en uiteindelik ná 10 minute. Dan gaan jy elke 10 minute inloer tot hy slaap. As hy weer wakker word, wag jy 3,5 en 10 minute. Jy kan die tussenperiodes oor die volgende aande geleidelik langer maak as jy wil.

Dié metode laat die meeste kinders binne vier tot sewe nagte beter slaap.

Die idee is nie om ’n kind te los dat hy uithuil nie, maar om hom te leer om self aan die slaap te raak. Sy gehuil is waarskynlik nie uit vrees nie, maar eerder weens frustrasie omdat hy moeg is en sukkel om aan die slaap te raak.

Nog ’n paar wenke:

  • Beplan en wees konsekwent wat slaaptydroetine en dagslapies betref.
  • Kies ’n tyd vir slaapafrigting wanneer jy self met minder slaap kan klaar kom, soos ’n lang naweek.
  • Verander jou kind se bed-toe-gaan-tyd na die tyd wanneer hy gewoonlik aan die slaap raak. As hy 19:00 gaan slaap maar eers 20:00 aan die slaap raak, neem hom 20:00 bed toe.
  • Stel grense, soos oor iets ekstra om te drink, peuselhappies in die bed en die lees van nog ’n storie.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees