Maak planne met daai tande

akkreditasie
Wanneer die tande hul verskyning maak, en wat jy te wagte kan wees.

Jou ma sê tande kry maak kinders siek. Jou dokter sê dis snert. Jou vriendin lig ’n wenkbrou omdat jou baba al 9 maande oud is en nog nie met ’n enkele tand spog nie... So heerlik as wat dit is om ’n klein pienkvoet in die huis te hê, so verwarrend kan dit wees wanneer tandekry-tyd aanbreek. Dan help dit om te weet wat al die waarhede en die naarhede oor hierdie mylpaal is.

Sommige babas se eerste tand maak so stil-stil sy verskyning dat jy amper voel jy het iets misgeloop. As jy weer sien, lag jou kleinding oopbek met die wit tandjie wat kordaat vir jou loer. Vir ander babas – en hul ouers – is die geboorte van ’n eerste tand ’n ietwat meer pynlike affêre: Baba is weke voor die tyd al ongedurig, kwyl sy borslappe sopnat en hou jou ’n ongewenste aantal nagte uit die slaap voor die groot oomblik aanbreek.

Hoe babas tande kry is ’n interessante storie wat reeds in die baarmoeder begin. Prof. Gert Kirsten van die departement pediatrie en kindergesondheid by die Tygerberg-kinderhospitaal vertel die eerste melktande, oftewel die sentrale snytande wat in die middel voor sit, begin reeds in maand 3 of 4 van jou swangerskap ontwikkel.

Daarna volg die laterale snytande net langsaan op vier en ’n half maande swangerskap en die oogtande teen vyf en ’n half maande.

Jou baba se eerste tandjies wat verskyn, is dié wat eerste ontwikkel het. Die onderste twee sentrale snytande kom tussen ses en sewe maande uit, dan die boonste twee sentrale snytande (sewe tot agt maande), gevolg deur die laterale snytande (agt tot nege maande), die voorste kiestande (twaalf tot sestien maande), die oogtande (sestien tot twintig maande) en die agterste kiestande (twintig tot dertig maande). Uiteindelik spog jou kleinding met altesaam twintig melktande.

Soms word ’n baba met ’n tand gebore. In so geval moet hy dadelik deur ’n tandarts gesien word om te besluit of die tand verwyder moet word, sê Gert. “Hierdie tande is bekend as natale tande. Dit het dikwels geen wortels nie en is net aan die tandvleis vas,” verduidelik hy.

Dieselfde geld tande wat verskyn wanneer baba ’n maand oud is, oftewel die “neonatale tande”. “Hierdie tande kan ook baie los wees. Daar is ’n gevaar dat dit só los is dat dit ingeasem word.”
Dit kan ook gebeur dat tande heelwat later as normaalweg uitkom, sê Gert. “Die oorsaak kan oorerflik wees of die gevolg van toestande soos ’n skildklier wat nie genoeg skildklierhormoon afskei nie, ragitis, sindrome en chromosoom- abnormaliteite.”

As baba laat tande kry, neem hom dokter toe dat hy die oorsaak kan vasstel, beveel hy aan. En as die tand ’n abnormale vorm het, neem jou kind tandarts toe.

Kan tande kry baba regtig siek maak?

Nie alle kenners stem saam oor die simptome van tandekry nie. Alle babas ervaar en hanteer pyn verskillend. Vir sommiges is dit makliker as vir ander, maar die meeste babas sal moeilik en prikkelbaar raak,” sê Teresa Hayward, ’n suster in die private praktyk wat ’n postnatale-sorgkliniek in Port Elizabeth bedryf.

Teresa sê die eerste tekens van tande kry is al te sien ’n paar maande voor die tande hul opwagting maak. Tipiese simptome sluit in rusteloosheid, prikkelbaarheid en versteurde slaappatrone, seer tandvleis, rooi wange, verlies aan aptyt, ’n effens hoër temperatuur, ’n gekwyl en die skielike drang om te kou of byt.

As ‘n kind baie kwyl, kan jy ook die volgende sien: ’n rooi uitslag rondom die lippe en ken, diarree vanweë oormatige speeksel wat los stoelgang veroorsaak, ’n matige luieruitslag, asook koors en prikkelbaarheid wat veroorsaak word deur inflammasie van die tandvleis.”

Maar Gert verskil met haar. Hy sê tandekry kan ’n baba knieserig maak, maar dit veroorsaak nooit koors, diarree, slaapversteuring, kwyl, rooi wange of enige siektesimptome nie.

Tande begin verskyn tussen ses en agt maande en babas begin van vier maande af meer kwyl, lank voor die tande begin uitkom,” sê hy.

Rooi lig!

As jou baba siek is, moet dit nie net toeskryf aan tandekry nie. Neem hom dokter of kliniek toe.
Die ouderdom waarop babas tande kry, is ook die ouderdom wanneer baie babasiektes voorkom. Daar is altyd die gevaar dat ’n mens tande die skuld gee vir wat eintlik ernstige siektesimptome is, en dan word diagnose en behandeling vertraag.

Tande kry word dikwels geblameer vir alles van ’n loopneus en ’n uitslag tot ’n gehuil en besonder vuil doeke. Maar al dié dinge kan ook simptome van ’n ander probleem wees.

Tande se vyande

Daar is ’n paar dinge wat baba se tandontwikkeling kan beduiwel, sê Gert. Dit sluit in swak mondhigiëne, blootstelling aan suiker, te veel of te min fluoried en sekere antibiotika soos tetrasiklien. (Laasgenoemde gebeur egter selde omdat tetrasiklien nie vir babas voorgeskryf word nie.) Aangebore afwykings speel ook ’n rol.

Die grootste sondebok is egter tandbederf, wat gebeur as baba met ’n bottel in die mond slaap of ’n peuter heeldag met ’n bottel in die mond rondloop.

Tandbederf kan reeds teen tien maande oud baba se tande vernietig,” sê Gert. “Dis veral die boonste snytande wat aangetas word en dis as gevolg van koeldrank, gegeurde melk, vrugtesap en koladrankies wat gedrink word terwyl baba aan die slaap raak. Dit gebeur ook met gewone melkvoeding.”

Die onderste tande word gewoonlik nie aangetas nie omdat dit deur die tong beskerm word. Gewoonlik word bakterieë deur die spoeg in die mond geneutraliseer,” verduidelik Gert. “Maar as baba met ’n bottel in die mond aan die slaap raak, word sy boonste tande in die melk of sap gebaai. Die spoeg kan nou nie by die bakterieë uitkom nie en hulle verander die suiker in die melk of koeldrank na sure wat die tandemalje oplos en tandverrotting veroorsaak. Dieselfde kan gebeur as heuning, konfyt of kondensmelk aan ’n fopspeen gesmeer word om ’n kind te laat slaap.”

Tandbederf kan uiteindelik die tand en tandwortel vernietig, en kan natuurlik erg seer wees. Daarby kan dit veroorsaak dat die permanente tande later skeef en opmekaar uitkom, want die tydelike tande wat vir hulle plek moes hou, is nie meer daar nie.

Pas tandjies so op

  • Moenie jou baba met ’n bottel in die mond aan die slaap maak of laat slaap nie.
  • Moenie ’n fopspeen deur ’n bottel vervang nie.
  • Vervang bottelvoeding deur voeding uit ’n bekertjie wanneer baba ses maande oud is.
  • As jou baba nie die bottel wil los nie, gee hom net water in sy bottel.
  • Baba behoort teen 12 maande heeltemal van die bottel gespeen te wees.
  • Gee vrugtesap en gegeurde melk slegs met etes omdat dit baie suiker bevat.

 4 belangrike tandsorg-vrae

Wanneer is fluoried nodig en wanneer nie?

Tot op ses maande behoort jou baba geen fluoriedaanvulling te kry nie, maar daarna kan jy ekstra fluoried gee indien daar min fluoried in julle water is. Vind by jou tandarts uit wat die fluoriedinhoud van die water in jou omgewing is, sê Gert. Hoor ook by hom of haar hoeveel fluoried nodig is omdat te veel fluoried ook die tande kan skaad.

Wanneer moet ek my baba se tande begin borsel?

Sodra jou baba se eerste tandjie verskyn, behoort jy dit 2 keer ’n dag te borsel, verkieslik met ’n tandeborseltjie wat spesiaal vir babas ontwerp is.

Waarmee moet ek borsel?

Teresa beveel aan dat babas óf ’n fluoriedvrye tandepasta gebruik óf spesiale babatandepasta. Gert sê normale fluoriedtandepasta is velig, maar gebruik net ’n stukkie so groot soos ’n ryskorrel.
Wanneer moet ek my baba tandarts toe neem?

Sodra jou baba tande het, kan hy gerus begin om elke ses maande ’n tandarts of mondhigiënis te besoek, sê Gert.

Wenke wat verligting bring

Teresa het die volgende raad vir ma’s en babas wat deur tande kry ondergekry word:

  • Drukkie-terapie: ’n Bietjie ekstra liefdevolle aandag en vertroeteling sal help om ’n ongelukkige baba te troos.
  • Vryf die tandvleis: Masseer jou baba se tandvleis met ’n skoon vinger.
  • Tanderinge: Om te kou aan ’n sagte tandering sal vir baba verligting bring en tande help “sny”. Koue voorwerpe is veral strelend – sit die tandering dus eers in die yskas, maar moenie dit vries nie.
  • Koukossies: As baba ouer as ses maande is, kan jy suikervrye beskuitjies gee waaraan hy kan byt. Solank jou kind nog nie stukkies kan afbyt nie, kan jy ook wortelskyfies of verkoelde snytjies brood beproef (altyd onder toesig om verstikking te voorkom). Vermy kos wat hard is en die tandvleis kan kneus.
  • Koue kos: Bied verkoelde (nie gevriesde) jogurt en babakos aan. Die koue sal die mond help streel. Jy kan ook afgekoelde kookwater, borsmelk of formulemelk uit die yskas aanbied.
  • Tandekryjel: Masseer dit in die tandvleis met ’n skoon vinger – dit bied vinnigwerkende verligting. Teresa beveel Bonjela, Teejel of Pansoral aan. “Dis belangrik om altyd doseringsaanwysings te lees en na die vervaldatum op te let,” sê sy. Gert sê tandekryjel moet versigtig gebruik word omdat dit newe-effekte kan hê.
  • Pynstillers: Pynstropies soos Panado of Calpol kan die pyn van tandekry help verlig en koors laat daal. As die koors voortduur, besoek jou dokter.
  • Seer kennetjies: Te veel kwyl kan baba se velletjie op sy ken, nek en selfs bors irriteer. Probeer die vel droog hou met ’n borslap en trek nat klere uit. Wend ’n skermroom aan.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees