Maak sin van sy sintuie

akkreditasie
Van dag een af is jou baba se sintuie sy belangrikste stukkie ontwikkelingsgereedskap en gebruik hy dit om die wêreld te verken. Ons vertel jou hoe dit gebeur en hoe jy kan help

Ek sien met my kleine ogies...

Só ontwikkel jou baba se visie

Klein babatjies is sensitief vir lig. Hulle sien net dowwe beelde en kan nie ver sien nie. Perfekte visie is 20/20 en klein babatjies se visie is 20/400. Dit beteken dat jou baba slegs 20 tot 25 cm ver kan sien. Interessant genoeg is dit presies hoe ver jou baba se gesig van joune af is wanneer jy borsvoed!

Soos baba ouer word, verbeter sy visie. Waar pasgebore babatjies slegs die buitekant van patrone kan sien, herken hulle op 3 maande die buitelyn van jou gesig wanneer jy die kamer binnekom.

Op 4 maande begin jou baba kleure onderskei. Op 6 tot 7 maande oud begin hy speelgoed bestudeer. Hy kan nou ook kleure net soos ’n volwassene onderskei.

Van 8 tot 12 maande af kan hy al ’n speelding aan die ander kant van die kamer sien! So ’n groot baba sal ook graag dieselfde boekie oor en oor wil bekyk.

Wat jy kan doen

  • Maak oogkontak met baba wanneer jy borsvoed.
  • Gee hom speelgoed met kontrasterende kleure; dit help hom om kleur en vorm te onderskei.
  • Moenie jou baba oorstimuleer met te veel speelgoed met flitsende ligte nie.
  • Gee hom ’n veilige spieël om mee te speel.
  • Hang tot 6 maande oud ’n bewertjie bo sy bed en stootwaentjie sodat hy die voorwerpe met sy ogies kan volg.
  • Wissel speelgoed elke dan en wan af sodat baba iets nuuts het om visueel te ondersoek.

Het jy geweet?

  • Babas wat net ’n paar dae oud is, reageer op ’n ouer se glimlag of frons met dieselfde gesigsbewegings!
  • Babas verkies dit om na menslike gesigte te kyk.

Klein muisies het groot ore

Só ontwikkel jou baba se gehoor

’n Pasgebore baba kan niks van die mengelmoes klanke om hom verstaan nie, maar hy is klaar besig om die wêreld deur sy oortjies te leer ken. Babas verkies menslike stemme bo ander geluide. Hulle verkies ook hoë stemme, daarom is jou instink om babataal te praat in die kol!

Soos jou baba ouer word, word sy vermoë om te hoor en klanke van mekaar te onderskei beter. Op net 4 dae oud kan jou klein Einstein al sy moedertaal van ander tale onderskei.

Tussen 3 en 7 maande begin hy verskillende klanke uitken en op 7 maande herken hy sy naam. Tussen 8 en 12 maande luister baba wanneer daar met hom gepraat word en herken hy woorde soos "bal" en "bad".

Wat jy kan doen

  • Gesels gedurig met jou baba.
  • Speel vir hom musiek.
  • Vermy onnodig steurende klanke, soos die televisie wanneer niemand kyk nie.
  • Sing vir jou baba. Jou baba is dol oor jou stem.

Het jy geweet?

  • Babatjies hou van geluide soos die wasmasjien, waarskynlik omdat dit hulle herinner aan die geluide wat hulle in die baarmoeder gehoor het.
  • Binne ’n paar uur ná sy geboorte kan jou babatjie klaar jou stem tussen ander uitken.

Voel-voel deur die lewe

Só ontwikkel jou baba se tassintuig

In die eerste paar maande van sy lewe is jou baba van jou afhanklik vir aanraking. Hy beskik nog nie oor die hand-oog-koördinasie om self aan goed te vat nie.

Jou klein baba is baie sensitief vir aanraking en verkies sagte materiale. Babas voel ook met hulle mondjies en vanaf 4 maande leer hulle baie deur voorwerpe in hul mond te sit.

Dit is nou die tyd om jou baba aan verskillende teksture bloot te stel. Wanneer hy begin beweeg, is hy vry om die wêreld te ontdek en die teksture en oppervlakke in jul huis en tuin te verken.

Wat jy kan doen

  • Maak baie vel-tot-vel kontak met jou baba. Dit laat hom geborge voel en kan selfs sy immuniteit versterk.
  • Masseer jou babatjie (meer inligting hier).
  • Stel jou groter baba aan verskillende teksture en temperature bloot.
  • Laat jou baba toe om morsig te speel.

Het jy geweet?

  • Babas wat gereeld liefdevol aangeraak word, huil minder en word minder siek.
  • Vroeggebore babas wat gemasseer word, groei en ontwikkel vinniger.
  • Babas wat nooit aangeraak word nie, ontwikkel nie normaal nie.
  • Aanraking het ’n positiewe uitwerking op groei, bloeddruk en algemene gesondheid.

Njammies!

Só ontwikkel jou baba se smaak

Jou baba se smaak begin al in die baarmoeder ontwikkel. Geure van die kos wat jy eet, bereik hom deur die vrugwater, en dieselfde gebeur wanneer jy later borsvoed. Babas het van dag een af ’n suikertand – waarskynlik omdat borsmelk soeterig is – en huil as hulle iets bitter of suur gevoer word. Dis ’n natuurlike beskermingsmeganisme om hulle teen giftige kos te beskerm!

Tot en met 3 of 4 maande oud is bors- of formulemelk genoeg om baba se smaak te laat ontwikkel. Wanneer jy daarna met vaste kos begin, begin sy smaak al beter ontwikkel.

Omdat babas van nature ’n suikertand het, moet jy hulle aanvanklik liewer aan groente en ander minder soet smake blootstel.

Iewers tussen 8 en 12 maande begin baba ’n goeie idee te kry van die smake waarvan hy hou en nie hou nie. Hou net aan om ’n nuwe kossoort aan te bied, al lyk dit nie of hy dit wil eet nie.

Wat jy kan doen

  • Gee net een nuwe soort kos op ’n slag. So kan jy allergieë uitken en jy ontdek van watter smake jou babatjie hou.
  • Babas is baie sensitief vir die tekstuur van kosse. Dikwels is dit die tekstuur wat hulle pla en nie die smaak nie. Hou aan om dit aan te bied, sodat hulle gewoond kan raak aan die smaak en tekstuur van verskillende kosse.

Het jy geweet?

  • Kosse waaraan baba blootgestel was tydens swangerskap en borsvoeding, is die kosse waarvan hy geneig is om te hou.

Neusie in die lug!

Só ontwikkel jou baba se reuksintuig

Jou baba se reuksintuig is al met geboorte goed ontwikkel en hy ken jou geur. Hy is baie sensitief vir reuke en hou nie van slegte reuke nie.

As jy jou baba fyn dophou, sal jy agterkom hoe sy reuksintuig ontwikkel. Iewers tussen 3 en 7 maande sal hy die kos wat jy vir die res van die gesin voorberei, begin ruik en daarin belangstel.

Wanneer hy gemaklik met vaste kos is, kan jy van julle kos vir hom fynmaak. So leer hy om die geur en die smaak met mekaar te vereenselwig. Van 8 maande af kan jy begin om sy reuksintuig te stimuleer. Stap buite en gee hom dinge om te ruik: van blommetjies se soet geur tot die reuk van ’n rubberbal.

Wat jy kan doen

  • Vermy sterk gegeurde sepe en waspoeiers omdat dit ’n baba se reuksintuig kan oorstimuleer.
  • Vermy sterk parfuum terwyl jy borsvoed. Dit kan dalk veroorsaak dat jou baba nie so goed drink nie

Het jy geweet?

  • Pasgebore babas kan hulle mamma se borsdoekies tussen ander mammas s’n uitken.
  • Daar word gereken dat geure soos vanielje en suurlemoen gunstelinge by babas is.
  • Jou baba se goeie reuksintuig help hom om tydens borsvoeding jou tepel te vind.

Leer babamassering

Wil jy leer hoe om jou baba te masseer? Bel The International Association of Infant Massage om te hoor waar jou naaste instrukteur is. Tel. 011-886-2661.

Die volgende boeke kan jou ook leer hoe om baba te masseer. Vra by jou boekwinkel of bestel dit aanlyn van www.kalahari.net.

  • Baby Massage: Expert Know-How at your Fingertips deur Gayle Berry
  • Baby Touch: Massage and Reflexology for Babies and Children deur Wendy Kavanagh

Boekies vir baba

Hierdie boekies help baba om op ’n speelse manier sy sintuie te ontwikkel.

  • Let’s Play Baby Senses deur dr. Miriam Stoppard (kyk by jou boekwinkel of bestel van www.kalahari.net).
  • Lapa-uitgewers se interaktiewe Vat, Voel en Luister-reeks, waarvan die Afrikaans geskryf is deur Jaco Jacobs. Twee van die boeke beskikbaar is Eendjie en sy Maats; en Hondjie en sy Maats. Kyk by jou boekwinkel of bestel dit van www.lapa.co.za.

’n Boek vir jou

Wil jy nog meer leer oor jou baba se sintuiglike ervarings? Dan is hierdie boek vir jou:

  • Baby Sense: Understanding your Baby’s Sensory World – The Key to a Contented Child deur Ann Richardson en Megan Faure (kyk by jou boekwinkel of bestel van www.kalahari.net).
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees