Magietyd maak baba sterk

akkreditasie
Die tipiese leefstyl van 'n hedendaagse baba maak dit belangriker as ooit dat jou baba genoeg tyd op sy maag deurbring.

As jou kleinding luidkeels protes aanteken die oomblik dat jy hom op sy magie neerlê, is dit maklik om hom liewer net weer op te tel. Maar dink twee keer voor jy dit doen.

’n Gebrek aan magietyd kan lei tot agterstande in ontwikkelings-, verstandelike en organisatoriese vaardighede. Dit kan ook veroorsaak dat ogies sukkel om voorwerpe te volg, sê die Amerikaanse fisioterapeut Judy Jennings in die navorsingstuk Conveying the Message About Optimal Infant Position.

Dit klink erg. En navorsing toon ons moderne leefstyl kan dié komplikasies vererger. Omdat so baie ouers deesdae motorstoeltjies vir baie aktiwiteite buite die motor ook gebruik – soos om hul kinders daarin rond te dra of dit in die stootwaentjie vas te knip sonder dat hulle baba uithaal – bring hedendaagse babas baie tyd in dieselfde posisie deur. Terwyl hulle wakker is, moet babas in ’n verskeidenheid posisies gehou en geplaas word sê Judy – en magietyd is een van die belangrikste
maniere om hiermee te help.

Magietyd help om al jou baba se spiere van kop tot toon te strek en versterk, maar is veral belangrik vir die ontwikkeling en oefening van die nek-, rug- en rompspiere. Dié spiere is baie belangrik vir jou baba se gesonde ontwikkeling.

As baba nie elke dag oefening kry om sy koppie te lig uit ’n maagliggende posisie nie, sal sy nekspiere nie vinnig genoeg versterk om werklik met die toenemende gewig van sy vinnig groeiende kop by te hou nie.

Magietyd help ook om die lyfie gereed te maak om om te rol, te kruip en te sit deur die nodige spiere hiervoor oefening te gee.

Voldoende magietyd het dus ’n invloed op jou kind se ontwikkelingsmylpale. ’n Gebrek aan genoeg magietyd kan uiteindelik daartoe lei dat dit ’n baba langer kos om mylpale te bereik.

As jy jou baba gereeld op sy magie neerlê terwyl hy wakker is, kan dit ook help keer dat hy plat kolle op sy koppie ontwikkel soos gebeur as ’n baba meestal op sy rug lê.

’n Baba het daarby genoeg magietyd nodig om al die vroeë reflekse in bruikbare patrone te integreer sodat hy uiteindelik goed kan beweeg, sê Pathways Awareness, ’n Amerikaanse groep wat fokus op
die vroeë bewuswording van motoriese agterstande in kinders.

Op lang termyn lê magietyd die grondslag vir sterk spiere wat gekoördineerd kan werk sodat jou kind eendag op skool sy potlood met gemak kan hanteer, ’n goeie balans het, kan spring en loop en goed met sy oë kan volg sodat hy kan lees en fokus.

Wanneer moet ek begin?

Jy behoort van geboorte af jou baba vir kort rukkies op sy magie te laat lê, sê kenners. Dis nie nodig om drama daarvan te maak nie – laat hom op jou bors lê terwyl jy televisie kyk of lê hom ’n kort rukkie op sy magie neer terwyl jy sy badwater regkry.

Aanvanklik hoef jy nie jou baba op die grond neer te sit nie, maar doen dit wel namate hy ouer word sodat hy maksimum vryheid van beweging het. Selfs al kan jou baba nog nie sy kop oplig nie, sal magietyd steeds die nodige spiere help versterk. Op sowat ’n maand oud behoort jou baba al sy koppie van kant tot kant te kan draai terwyl hy op sy magie lê.

Hoeveel magietyd is nodig?

“Ideaal gesproke moet ’n baba op sy magie geplaas word ná elke slapie, elke doekruiling en elke voeding, aanvanklik een tot twee minute op ’n slag,” beveel Judy aan. Namate hy groter word, kan jy sy magietyd geleidelik vermeerder.

Teen drie maande behoort jou baba altesaam sowat ’n uur per dag magietyd te hê wat in korter sessies ingedeel is.

My baba haat dit. Wat nou?

’n Baba wat nie gewoond is daaraan om gereeld op sy magie te lê nie, sal nie daarvan hou nie. Selfs babas wat van kleins af gereeld op hul magies neergelê is, kan protesteer.

Moenie ophou net omdat jou baba ongelukkig is nie. Daarvoor is sy langtermynontwikkeling te belangrik. Hou egter magietyd-sessies baie kort – selfs net ’n paar sekondes op ’n slag – maar doen dit
kort-kort deur die dag as deel van sy roetine (byvoorbeeld ná elke doekruiling) tot hy daaraan gewoond is.

Magiesessies op jou skoot of bors (sien Pathways se posisies hieronder) is ’n goeie begin.

Rug vir slaap, magie vir speel

Magietyd is geweldig belangrik, maar moenie in die versoeking kom om jou baba op sy magie te laat slaap nie. Dit verhoog die gevaar van wiegiedood beduidend. Laat jou baba op sy magie lê as hy wakker
is en terwyl jy by hom is.

Bel die dokter of arbeidsterapeut as jou aspatat ...

  • Net altyd sy kop na die een kant toe wil draai.
  • Teen drie maande nog nie sy koppie kan lig en hom op sy voorarmpies kan opstoot nie.

Hoe vroeër motoriese agterstande raakgesien en behandel word, hoe groter is die kans dat dit verbeter kan word.

Pathways Awareness se 5 lekker magie-posisies

Magie-op-magie: Lê plat op die bed of ’n bank en laat jou baba op jou bors of maag lê sodat julle mekaar in die oë kan kyk. Hou jou hande op jou baba om te keer dat hy afrol. Gesels met hom en
sing vir hom.

Skoot-troos: Laat jou kleinding met sy gesiggie ondertoe uitgestrek op jou skoot lê. Dit werk veral lekker as jy windjies uitvryf. Jy kan hom ook in hierdie posisie met jou bene heen en weer wieg terwyl jy sy ruggie streel en hom sus. Hou jou hand op sy sitvlak sodat hy veilig bly en voel.

Kyk-vir-my: Druk ’n opgerolde handdoek onder jou baba se bors en boarms in vir ekstra ondersteuning, gaan lê plat op die grond reg voor hom en kyk in sy ogies terwyl jy liefdeswoordjies fluister en glimlaggies deel. Beweeg jou gesig van kant tot kant of op en af om kopbewegings aan te moedig as hy eers sy koppie effens kan lig.

Arm-dra: Dra jou baba met jou arm tussen sy beentjies en sy magie oor jou voorarm gedrapeer. Stut sy kop en skouers met jou ander hand. Hou hom naby jou lyf.

Plat-op-die-aarde: Dis die tradisionele magie-posisie, waar jy jou kleinding plat op ’n speelmat op die grond laat lê. Jy kan ook hier soms ’n opgerolde handdoek gebruik vir ekstra steun. Kies ’n speelmat
of kombersie met interessante patrone en teksture wat hom kan motiveer om later sy koppie te lig om dit te bekyk.

Wenke:

  • ’n Pasgeborene sal nog nie haar koppie kan lig nie. Wissel die rigting waarin sy kyk, dus dikwels
    af.
  • Moenie jou baba lank aanmekaar op haar magie laat lê nie. Verdeel magietyd in ’n paar minute ’n paar keer in die loop van die dag.
  • Hoe vroeër jy begin, hoe minder sal jou baba protesteer.
  • Doen dit elke dag en werk dit by jul roetine in sodat jy dit later doen sonder om daaroor te dink.
  • Gebruik dit as bindingstyd tussen julle twee; dan sal dit vir baba ook meer pret wees.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees