Met Klaas Vakie op vakansie

akkreditasie
Of julle nou ’n week of ’n maand lank weggaan, vakansie saam met ’n baba is ’n heel ander storie as voor julle ouers geword het. Een van die grootste uitdagings is om baba op ’n vreemde plek te laat slaap – en om haar weer terug in haar slaaproetine te kry wanneer die blaaskans verby is. Beplanning kan verseker dat almal dié vakansie genoeg rus inkry.

Daar's geen beter kuur vir moegheid as ’n lekker vakansie nie – maar hoe gemaak as die vakansie jou kind se slaappatroon omvergooi?

Babas se normale roetine word dikwels deurmekaargekrap tydens vakansies of wanneer ’n mens van die huis af weggaan, sê Jenny Perkel, ’n Kaapstadse sielkundige en skrywer van Babies in Mind (Juta). “Enige verandering het ’n invloed op babas en as ’n mens van die huis af weg is, kan dit hulle onseker en onrustig laat voel. Om veilig te voel het hulle dan hul ouers nodig.”

As ’n baba in die middel van die nag in ’n vreemde omgewing wakker word, kan hy groot skrik en het hy waarskynlik sy ouers se vertroosting nodig. Berei jou dus maar voor op meer slaaponderbrekings en wees effens buigsaam sodat jou baba op sy eie manier by die verandering kan aanpas. Hy sal dalk in dieselfde kamer as jy wil slaap of jou ’n paar keer in die nag wil sien. Hy kan meer borsvoedings of bottels vra of meer gereeld sy fopspeen wil hê.

Roetine, roetine, roetine

Die eintlike vakansie-slaapprobleem is nie die baba of kind nie, maar die ouers wat húl roetine verander, sê Ann Richardson, ouerafrigter en medeskrywer van Sleep Sense (Metz Press).

“Uiteraard is ’n vakansieroetine anders. Die ouers is heeldag daar en die gesin bring dalk meer tyd buite of in motors deur. Dikwels vlieg ’n gebalanseerde dieet ook by die venster uit omdat ’n mens meer ontspanne is oor wat jou kind eet en jy maklike, vinnige maaltye kies, asook wegneemetes, restaurantkos en hope lekkergoed. Kinders is gevoelig vir dié soort verandering en dit kan hulle moeilik maak.”

Ann se raad is om waar moontlik by jul bestaande roetine te hou, al wil jy juis in die vakansie van jou roetine wegbreek. Jou kind se liggaamsritme is ingestel op vaste slaaptye en as jy daarvan afwyk, kan jy moeilikheid verwag. Hou dus maar by jul gewone aandpatroon: badtyd, eettyd, storietyd, slaaptyd.

“Klein kindertjies verstaan nie hoekom dinge een dag sus en die volgende dag so is nie,” verduidelik Ann. “Hulle hou van roetine en konsekwentheid en wil weet wat volgende kom. Verander hul verwysingsraamwerk en hulle raak angstig en klouerig.”

Die kuns is om so georganiseerd moontlik te wees en almal kans te gee om aan die nuwe omgewing gewoond te raak. “Dit kan beteken dat jy nie dadelik kan afhardloop strand toe nie, of liewer ’n dag later moet vertrek sodat jy nie in die aand by ’n bestemming uitkom nie.”

Dit maak nie saak waar jou baba slaap nie, solank sy roetine min of meer dieselfde bly, sê Ann. “ ’n Vakansiehuis is net ’n ander stel stene en sement. As julle móét uitgaan om te eet, bad jou kleinding voor die tyd, neem hom saam en maak seker jy neem sy spesiale kombersie saam asook sy stootwaentjie, sodat hy kan slaap wanneer hy moeg is.”

Hoe gemaak as baba weier om te slaap?

Met vakansie kan jy maar meer buigsaam wees, sê Ann. Hou baba se slaaptydroetine so normaal moontlik, maar kom haar tegemoet deur te verstaan dat sy dalk meer liefde en koestering as normaalweg nodig het. Dit kan beteken dat jy haar om die braavleisvuur in jou arms aan die slaap sal laat raak of ’n rukkie by haar sal lê tot sy slaap.

“Die kuns is om haar te laat besef dis net omdat julle op ’n ander plek is, en dat julle na jul normale roetine sal terugkeer sodra julle weer tuis is.”

Wie gaan saam?

As julle saam met familie of vriende vakansie gaan hou, moet jy so georganiseerd moontlik wees. “Kies jou geselskap slim,” sê Ann. “As jou baba klein is, moet jy liefs ’n vakansie saam met raserige kleuters en peuters met ’n jaar uitstel. Vir ouer kinders kan julle storie-CD’s saamneem wat op ’n iPod gespeel kan word. Dit help om teen slaaptyd ander geluide uit te doof.

“As julle vakansie hou saam met vriende wat kinders het, kan julle gerus aan die begin van die vakansie ’n paar basiese reëls neerlê, soos dat baba se slaaptye stil en rustig moet wees. Dit sal onnodige konflik keer.”

Gebruik die vakansie om ’n sterker verhouding tussen baba en die ander mense in jou lewe aan te moedig, is Jenny se raad. “So kry jy self ’n blaaskans en kan jy dalk soggens selfs ’n bietjie laat slaap!”

Ann se topwenke

  1. Wees georganiseerd. Wees georganiseerd. Wees georganiseerd.
  2. Wees realisties oor wat julle in die slaapdepartement kan verwag.
  3. Hou jul roetine so na aan normaal as moontlik.
  4. Wees buigsaam oor waar jou kind slaap, maar streng oor wanneer.
  5. Waak teen te veel kitskos en ’n ongesonde dieet – dit het ’n groot invloed op gedrag en slaap.
  6. Lê van die begin af basiese reëls oor stilte en slaaptyd neer.

Terug by die huis

Dikwels steek slaapprobleme eers ná die vakansie kop uit, sê Jenny. “Snaaks genoeg is die vakansie dikwels ’n tyd wanneer baba betreklik goed slaap, maar dan word sy van voor af snags wakker sodra julle weer tuis is.”

Dit gebeur waarskynlik omdat ’n baba ná so ’n vakansie die eerste keer besef dat sy die betroubare en veilige plek wat sy “huis” noem, kan verloor. “Voor sy met vakansie gegaan het, het hierdie gedagte nooit by haar opgekom nie.”

Die oplossing? Probeer om jul normale roetine so gou moontlik te herstel. “As jy in die vakansie so ver moontlik by jul normale roetine gehou het, behoort baba gou weer rustig te word,” sê Ann. “Jou kind sal waarskynlik die eerste twee dae ’n bietjie ongedurig wees, maar laat haar verstaan dat die lewe nou weer normaal voortgaan en dat die pret verby is. Sy sal haar leiding van jou neem en as jy kalm en rustig is, sal sy ook wees.”

Nog wennerwenke

  • Maak seker jou peuter of kleuter kry deur die dag genoeg fisieke oefening in die buitelug.
    Waak teen oorstimulasie. Kleingoed word maklik te midde van baie mense en prettige uitstappies oorgestimuleer. Doen kalmerende dinge voor slaaptyd.
  • Begin ’n paar weke voor die vakansie om voor slaaptyd ’n spesifieke CD met rustige slaapmusiek vir jou kind te speel. Tydens die vakansie sal dit vreemde geluide help uitdoof, baba sal dit met slaap verbind, en dit is iets wat vir haar bekend sal voel.
  • Slaap op baba se kombersie sodat sy jou kan ruik wanneer sy gaan slaap – dit sal haar nader aan jou laat voel.
  • Kies baba se slaapplek slim. As sy tuis in ’n donker kamer slaap, sal sy dalk moeiliker aan die slaap raak in ’n vertrek met baie ligte gordyne.
  • Probeer sorg dat baba ’n ruk voor die vakansie reeds ’n gevestigde slaaptydroetine en slaappatroon het. As jy jou baba nog in ’n slaappatroon inoefen, moet jy dit dalk maar laat vaar tot ná die vakansie.

Nog steeds raadop?

Besoek Jenny se webtuiste by www.babiesinmind.co.za.
Besoek Ann se webtuiste by www.toddlersense.co.za of bel 011-705 2711 vir ’n afspraak by haar kliniek.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees