My baba, die supermodel

akkreditasie
Thinkstock
Natuurlik is jou kind die oulikste op die planeet, maar kan sy ook model speel? Hier is wat jy moet doen om jou kleinding in advertensies te laat optree.

Ja, daar ís baie mense wat meen die woorde model en kind hoort nie in dieselfde sin nie. Daar’s immers baie programme op Amerikaanse TV-kanale wat ’n mens benoud maak oor kinders wat ryp gedruk word – maar daar is net so baie positiewe advertensies en programme waar kinders steeds soos kinders lyk en optree.

Daar’s byvoorbeeld talle kleremaatskappye wat kinders vir katalogusse nodig het en daar is ontelbare advertensies wat met oulike kleintjies spog.

As jy nog altyd gedink het jou kind se kuiltjies hoort in ’n advertensie, moet jy eerstens ’n agent kry, sê Wayne Berger, eienaar van Infinity Models.

“Agentskappe verteenwoordig modelle. As daar na ’n kind gesoek word vir ’n fotosessie of verfilming van ’n advertensie, word daar na ’n spesifieke soort kind gesoek.

Kliënte kontak dan agentskappe en vra wie ons het wat geskikte kandidate is. Daar sal gewoonlik ’n spesifieke lengte, ouderdom, haarkleur, oogkleur, kleregrootte en so aan gevra word. Jou eerste stap is dus om ’n goeie modelagentskap te vind.”

Maar waarna kyk agentskappe? Dis nie regtig iets wat jy in woorde kan omsit nie, verduidelik Wayne. “Jy sal egter weet wat dit is as jy dit sien. ’n Groot glimlag en lag is baie belangrik.”

Nicky Greyling van Kool Kids Casting Club se agentskap spesialiseer in werk vir babas, kinders en tieners. Sy sê hulle is altyd op soek na babas wat gelukkige, gemaklike klein mensies is, asook na gemoedelike kleuters met ’n borrelende persoonlikheid.

“Kindermodelle moet daarvan hou om by mense te wees en dit geniet om ander te vermaak. Kliënte verkies kinders met ’n vars spontaneïteit,” sê Nicky.

Volgens haar vra die meeste agentskappe ’n aansluitingsfooi en die bedrag wissel na gelang van die agentskap.

“Dis omdat die agentskap kostes moet aangaan soos administrasiekostes en programmatuur wat nodig is om kinders se inligting te laai. Portefeuljefoto’s moet ook geneem word.”

Baie ouers meen kindermodelwerk is ’n ontspanne, prettige aktiwiteit, en besef nie dit vereis hul tyd, moeite en toewyding nie, sê Nicky.

“ ’n Agentskap moet ’n goeie werkverhouding met produksiemaatskappye handhaaf. Daarom is professionaliteit noodsaaklik. Dit gebeur dikwels dat die ateljeeruimte reeds bespreek is en ’n kind opgeroep is vir oudisies, en dan kan die ouers nie hul kind bring nie en vergeet om ons te verwittig.

“Daar moet iemand beskikbaar wees wat die kind tydens kantoorure na oudisies kan neem.”

STAPPE TOT SUKSES

1. Vind ’n agent.
2. Maak kontak en stuur duidelike foto’s van jou kind. Dit moenie kunsfoto’s wees nie, net gewone foto’s van jou kind sonder ’n hoed, sonbril of fieterjasies en grimering. Stuur al jou kind se besonderhede soos lengte, haarkleur, oogkleur, gewig en ander eienskappe saam.
3. Die agentskap sal jou kontak as hulle belangstel. Daar sal professionele foto’s vir jou kind se portefeulje geneem word. Hierdie foto’s moet elke jaar geneem word omdat kinders so vinnig groei. Kinders moet gewoonlik twee someruitrustings vir die foto’s saamneem.
4. Die agentskap sal ’n duidelike afskrif van jou kind se geboortesertifikaat nodig hê. Dit word gebruik om vir werkpermitte by die departement van arbeid aansoek te doen om te verseker dat aan sekere regulasies voldoen word.
5. Jy moet ook ’n bankrekening in jou kind se naam oopmaak en ’n belastingnommer kry. Kinders word ongeag hul ouderdom belas, maar hierdie belasting word gewoonlik aan die einde van die belastingjaar terugbetaal.
6. Al wat dan oorbly, is om seker te maak jou kind verskyn wel op die agentskap se lys. Baie agentskappe se portefeuljes is aanlyn beskikbaar.
7. Wag vir daai oproep.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees