As ons gelukkig genoeg is om die lewe te skenk aan gesonde en fisiek normaal ontwikkelde babas wil
ons graag hê hulle moet probleemloos deur al die verdere ontwikkelingsfases gaan. Ons hou hulle ontwikkeling fyn dop en weet presies op watter ouderdom hulle sit, rol, kruip, loop ...

Dikwels vergelyk ons hul vordering met boeties, sussies en maatjies en raak ons bekommerd as dit stadiger gebeur as wat die boeke sê. Onthou egter dat elke mens sy hele lewe lank aanhou ontwikkel, en dat die verdeling in fases in ’n groot mate ’n praktiese maatreël is sodat kenners ontwikkeling
makliker kan begryp, ondersoek en bestudeer.

Babas, peuters en kleuters ontwikkel teen ’n verskillende pas. Elke fase impliseer dat nuwe, moeiliker
en meer vermoëns nou nodig is as wat in die vorige fase bereik is. Omdat daar interaksie tussen die verskillende fases is, kan gebreke of agterstande in een fase ’n invloed hê op die ontwikkeling van ander fases.

Kinders verskil van mekaar en daarom sal almal se ontwikkeling nie ewe vinnig plaasvind nie. ’n Mens moet ontwikkelingsmylpale dus net as riglyne beskou en nie as onverbiddelike bakens nie. Jy hoef nie
beangs te raak as jou kind ’n bepaalde mylpaal selfs ’n paar maande laat haal nie – solank sy ontwikkeling binne redelike perke geskied, skort daar nie noodwendig iets nie.

Wanneer buitengewoon stadige ontwikkeling of eienaardige optredes egter begin inmeng met hoe jou kind in die wêreld klaarkom, moet jy professionele raad gaan soek. Daar kan dalk ’n onderliggende
probleem wees.

Die arbeidsterapeute van die Et alterapie-en-leersentrum in Somerset-Wes het vir ons riglyne gegee waarvolgens jy kan bepaal of jou kind se vordering op standaard is in al die belangrike ontwikkelingsfases: sensories, groot- en fyn motories en visueel-perseptueel.

Sensoriese ontwikkeling

Dit vorm die basis van die ontwikkelingsfases. Babas leer hoofsaaklik deur middel van hul sintuie en fisieke aktiwiteite. Sensoriese ontwikkeling is die vermoë om al vyf sintuie te gebruik, maar sluit ook terselfdertyd beweging en die ontwikkeling van die gewrig- en spierstelsel van die liggaam in.

’n Kleuter moet weet hoe dit “voel” om ’n potlood korrek vas te hou om ’n skryf- of teken aksie te kan uitvoer. Hy moet die potlood nie te hoog, laag, styf of lossies vashou nie sodat hy die korrekte beheer kan uitoefen en nie te hard of sag druk nie.

Dié sensoriese ontwikkelingsaksie hang egter nou saam met sy fyn motoriese ontwikkeling: Om die skryfaksie te kan uitvoer moet hy op sy sintuie kan reageer, maar ook uiteindelik in staat wees om ’n klein voorwerp korrek vas te hou en te manipuleer, wat ’n fyn motoriese tegniek is.

Kinders kan onder meer oorsensitief wees vir klanke, reuke, smake, aanraking, bewegings of visuele en ouditiewe prikkels. Dié sensitiwiteit kan inmeng met hul emosionele en sosiale ontwikkeling asook hulle aandag- en konsentrasievermoë.

Sulke kinders word letterlik oorlaai met te veel prikkels uit hul omgewing en raak oorversadig – in so ’n mate dat hul liggaam fisiek op die prikkels reageer en dat hulle nie behoorlik kan funksioneer nie. Hulle kan suksesvol behandel word deur arbeidsterapeute wat in sensoriese integrasie opgelei is.

Een van die algemeenste reaksies op oorstimulasie is dat jou aandag en konsentrasie aangetas word en daarom lyk dit soms of kinders met sensoriese oorsensitiwiteite hiperaktief is of aan aandaggebrek ly.

’n Terapeut sal dus eers vasstel of spesifieke gedrag ’n sensoriese oorsaak het voor sy behandeling vir ’n neurologiese toestand soos aandaggebreksindroom (ADD) of aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom
(ADHD) oorweeg.

Kom ons kyk na ’n paar van die sensoriese probleme wat kinders kan hê.

Oorsensitiewe tassintuig (tasdefensief)

Dit is wanneer kinders se tassintuig oorgestimuleer word. Hulle sal tipies sekere soorte aanraking
vermy of afwysend reageer as hulle daarmee in aanraking kom.

  • Hulle vermy of hou nie van liggaamskontak (drukkies en soentjies) met ander mense nie.
  • Hulle hou nie daarvan om in groepe met ander kinders te wees nie.
  • Hulle is kieskeurige eters omdat hulle nie van sekere teksture kos hou nie.
  • Hulle hou nie van sekere selfsorgaktiwiteite nie (hare was of borsel, tande borsel, gesig was, naels knip).
  • Hulle hou nie van vingerverf nie en wil nie met of in modder, sand, klei of water speel nie. Etikette aan klere irriteer hulle en moet dikwels afgehaal word.

Oorsensitief vir beweging

  • Hulle vermy klimapparate, swaaie en enige bewegende apparate.
  • Hulle hou nie van bollemakiesie slaan of wanneer hul voete nie grond raak nie.
  • Hulle raak maklik motorsiek.
  • Hulle hou nie van rowwe spel wat beweging insluit nie, soos wanneer Pappa speels vir baba rondswaai.
  • Hulle toon min waagmoed tydens groot motoriese of buitespel.

Motoriese ontwikkeling

Een van die belangrikste dinge wat kleuters moet regkry is die bemeestering van motoriese vaardighede sodat hulle meer beheer oor hulle liggaam kan kry. Motoriek is die vermoë om jou liggaam te beweeg en word verdeel in groot (growwe) motoriese en fyn motoriese ontwikkeling.

Hoewel dié twee fases ook interaktief is, leer ’n kind eers om sy liggaam “groot” te beweeg voor hy die fyn bewegings begin bemeester. Onthou weer eens dat motoriese vaardighede stelselmatig van geboorte af aangeleer word en dat kinders die verskillende mylpale nie altyd op dieselfde ouderdom bereik nie.

Jou eersteling het dalk op nege maande geloop en jou tweede kind eers ná ’n jaar. As kleinman teen 18 maande nog nie loop nie is dit nie noodwendig rede tot kommer nie, maar moet jy liefs professionele
raad inwin.

’n Tweejarige se balans gaan beslis ook nie so gevorderd wees soos ’n sesjarige s’n nie, maar om op die sesjarige se vlak te kom moet jou kind se balanstegnieke stelselmatig verbeter namate hy ouer word.

Ten einde later ’n potlood korrek vas te hou en met genoeg beheer te kan teken en skryf, moet jou kind van peuterstadium af al stapsgewys begin om dié taak te bemeester.

Groot motoriese ontwikkelingsareas

  • Balans
  • Koördinasie
  • Postuur
  • Om die twee kante van die liggaam gekoördineerd te gebruik

Fyn motoriese ontwikkelingsareas

  • Vingerbewegings
  • Potloodgreep en potloodbeheer
  • Skêrhantering
  • Manipulasie van klein voorwerpe
  • Om hande gekoördineerd saam te gebruik

Arbeidsterapeute beklemtoon dat kinders moet beweeg en aktief moet wees. Beweging beïnvloed al die
ontwikkelingsfases regstreeks of onregstreeks. As hulle kruip, ontwikkel hulle groot motoriese vermoë en visuele persepsie.

As hulle onder ’n tafel inkruip en probeer opstaan, kom hulle agter dat hul liggaam nou in ’n ruimte is wat hulle verhinder om regop te staan en leer hulle so waar hul liggaam in die ruimte om hulle inpas.

Passiewe kinders wat lang rukke voor ’n televisiestel of rekenaar deurbring, se ontwikkeling word gestrem. Beweging bevorder onder meer spierontwikkeling, korrekte postuur en kinders ontdek die liggaamlike en ruimtelike verhouding wat deel vorm van die visueel-perseptuele ontwikkelingsfase.

Visueel-perseptuele ontwikkeling

  • Dis ’n meer gevorderde ontwikkelingsfase. ’n Kind moet die volgende basiese visueel-perseptuele
    vermoëns hê:
  • Hy moet voorwerpe kan uitken volgens kleure, vorms en getalle.
  • Hy moet bewus word van die dele van sy liggaam.

Hy moet ook bewus word van ruimte en tyd. Voor hy in staat is om tweedimensioneel te teken of skryf, moet hy verstaan hoe sy liggaam in die ruimte om hom inpas. Hy moet byvoorbeeld eers besef dat sy
liggaam uit twee helftes bestaan voor hy die begrippe links en regs op homself en ander mense of voorwerpe kan toepas.

Wanneer het my kind terapie nodig?

As jou kind nie ontwikkelingsmylpale haal soos van sy ouderdom verwag kan word nie of as hy liggaamlik gestrem is, kan ’n arbeidsterapeut agterstande of gebreke evalueer en behandel sodat hy
sy volle potensiaal kan bereik. Terapie kan baie suksesvol wees, veral as die probleem vroeg genoeg raakgesien word.

’n Mens hoef ook nie met alles goed te wees nie ...

’n Vriend van ons is een van die briljantste rekenaarghoeroes wat ek ken. Toe hy ses was, kon hy steeds nie ’n bal behoorlik vang of skop nie. Hy is vandag 38 en kan dit steeds nie doen nie.

Hy het nie ’n greintjie ball sense nie, maar dit beteken nie hy is dommer as mense wat wel balvaardig is nie. Hy het genoeg common sense gehad om vroeg te kon besef daar is dinge waarmee hy beter is as ander en daarop te fokus.

Sy onvermoë is nie vir hom ’n verleentheid nie – hy kan trouens daaroor lag, want hy weet min mense kan by hom kers vashou as die gesprek draai by goeie musiek, wonderlike plekke in die wêreld, goeie kos, sy geliefde, die sin van die lewe ... en rekenaars.

Onthou altyd dat jou kind se ontwikkeling nie ’n wedstryd is nie en dat dit nie altyd ’n resep gaan volg nie. Ons het almal sekere vaardighede wat beter ontwikkel is as ander.

Visueel-perseptuele ontwikkelingsmylpale

1 jaar

  • Jou kind reageer op speelgoed en voorwerpe in sy visuele veld.
  • Hy stel belang in speelgoed en mense in sy omgewing.
  • Jy is aktief en reageer toepaslik op prikkels en mense.

3 jaar

  • Hy heg reeds vier dele aan ’n tekening van menslike liggaam.
  • Hy kan eenvoudige vorms pas.
  • Hy begin die begrippe links en regs verstaan.
  • Hy ken die basiese kleure.
  • Hy kan tot vyf tel.
  • Hy ken die begrippe klim oor of onder.
  • Hy kan eenvoudige blokkonstruksies bou.

6 jaar

  • Hy kan die begrippe links en regs op sy eie liggaam uitwys.
  • Hy kan vorms korrek in ’n vormbord pas.
  • Hy benoem en herken alle kleure.
  • Hy kan tot 30 tel en voorwerpe aftel.
  • Hy kan blokkonstruksies onthou en nabou sonder ’n model.
  • Hy begryp opdragte soos vorentoe, agtertoe en skuins.
  • Hy verstaan en gebruik begrippe soos gister, môre en vandag korrek.
  • Hy teken die menslike liggaam met 12 dele.
  • Hy kan klein ooreenkomste en verskille waarneem.
  • Hy kan detail in volgorde onthou van wat gesien is.
  • Hy kan ’n geheelprent vorm as slegs ’n gedeelte daarvan gesien word soos om ’n legkaart te bou sonder die probeerentrefmetode.
  • Hy kan voorgrond van agtergrond onderskei. Hy kan byvoorbeeld in opdrag die pienk hemp uit ’n stapel hemde agter ’n ander stapel uithaal.

Fyn motoriese ontwikkelingsmylpale

1 jaar

  • Hy kan voorwerpe met albei hande vashou.
  • Hy wissel voorwerpe van die een hand na die ander.

3-4 jaar

  • Hy kan klein balletjies in ’n houer gooi.
  • Hy knip met taamlike beheer op ’n reguit lyn met ’n skêr .
  • Hy kan groterige krale inryg.
  • Hy kan eenvoudige, losserige knope met tou maak en losknoop.
  • Hy kan vetkryt met sy duim en eerste twee vingers vashou.
  • Hy kan die meeste basiese liggaamsdele uitwys.

6 jaar

  • Hy kan sy eie knope, ritssluiters en skoenveters vasmaak.
  • Hy het goeie handoog-koördinasie.
  • Hy kan ’n volwasse potloodgreep vorm.
  • Hy het goeie potloodbeheer en druk nie te hard of sag nie.
  • Hy kleur beheers en gekoördineerd in.
  • Hy kan op reguit lyne en kurwes met ’n skêr knip.
  • Hy kan klein voorwerpe met sy vingers manipuleer.
  • Hy kan krale inryg.
  • Sy tekenvaardighede is goed.

Groot motoriese ontwikkelingsmylpale

1 jaar

  • Sy kan van haar maag na haar rug rol en weer terug.
  • Sy het goeie nekbeheer.
  • Sy kan sit sonder om om te val.
  • Sy kruip korrek en vir lank genoeg.
  • Sy kan teen voorwerpe opstaan.

3 jaar

  • Sy kan ’n kort rukkie op een been en op haar tone balanseer.
  • Sy kan vorentoe, agtertoe en sywaarts loop.
  • Sy hardloop glad en gekoördineerd.
  • Sy kan op ’n breë balansbalk loop.
  • Sy kan trappe met afwisselende voete klim terwyl sy ’n speelding in haar hand vashou.
  • Sy kan ’n driewiel se pedale gebruik en kan om draaie ry.
  • Sy kan spring sonder om oordrewe armbewegings te maak.
  • Sy kan hardloop en ’n bal skop.
  • Sy kan ’n bal met geboë elmboë teen haar lyfie vang. 
  • Sy kan ’n bal weg van haar middellyn af vang.

6 jaar

  • Sy geniet binne- en buitespel.
  • Sy beskik oor goeie liggaamlike uithouvermoë en spiersterkte.
  • Sy kan klim, klouter en hang.
  • Haar staan- en sitpostuur is goed.
  • Sy kan op een been balanseer.
  • Sy kan op een been vorentoe spring.
  • Sy kan touspring.
  • Sy kan galop en huppel.
  • Sy het goeie handoog-koördinasie.
  • Sy kan balspeletjies rats speel en ’n bal met een of twee hande laat wip.
  • Sy kan nuwe bewegings aanleer en beplan.
  • Sy voer bewegings met beheer uit.
  • Sy beskik oor goeie middellynkruising en albei kante van haar liggaam werk gekoördineerd saam.
  • Sy kan kruiwaloop.