Mylpale vir klein mensies (die eerste jaar)

akkreditasie
Wanneer gaan sy glimlag? Wanneer gaan sy self regop sit? En kruip? Hier's al die mylpale vir die eerste jaar.

Week 1

  • Sy gooi haar bene en arms oop as sy skrik (Moro-refleks).
  • Sy suig outomaties as jy iets in haar mond sit (suigrefleks).
  • Haar vingertjies sluit styf om ’n voorwerp in haar hand (gryprefleks).
  • Haar visie is dof, maar sy kan 20 tot 25 cm ver fokus.
  • Sy maak oogkontak as jy haar naby jou gesig hou.
  • Sy onderskei haar ma se gesig van vreemdes s’n.
  • Sy herken haar ma se reuk en stem en kan onderskei tussen hoë en lae klanke.
  • Sy reageer op sterk lig en geluide deur te frons, haar oë te knip, te skrik of te huil.

Stimulasiewenk: Reageer as jou baba huil, gesels met haar, maak oogkontak, sing wiegeliedjies, hou haar vas en koester haar.

Week 4

  • Sy kan haar koppie ’n paar sekondes lank oplig terwyl sy op haar maag lê.
  • Haar gryprefleks begin verswak, maar haar handjies is nog meestal gebal.
  • Sy kan haar koppie enkele sekondes lank regop hou in ’n sittende posisie terwyl haar lyfie ondersteun word.
  • Sy volg voorwerpe wat ’n paar sentimeter van kant tot kant beweeg word.
  • Sy kan nie die bewegings van haar handjies beheer nie, maar kan soms haar vuis in haar mond kry.
  • Sy begin ’n wyer verskeidenheid huil-klanke gebruik vir honger, moegheid, pyn en so meer.
  • Sy onthou ’n voorwerp wat weer verskyn binne sekondes nadat dit verwyder is.
  • Sy is gefassineer deur voorwerpe naby haar.

Stimulasiewenk: Hang ’n bewertjie waar sy dit kan sien. Beweeg jou vingers binne haar gesigsveld sodat haar koppie beweeg. Leer haar huilwoordeskat ken deur fyn te luister en te reageer.

Week 6

  • In ’n maagliggende posisie lig hy sy koppie teen 45 grade, maar kan dit nie lank daar hou nie.
  • Hy hou ’n klein voorwerpie ’n paar oom-blikke lank vas.
  • Hy volg bewegende voorwerpe met sy ogies.
  • Hy glimlag, maar nie doelbewus nie.
  • Hy reageer op klanke.
  • Hy maak keelklankies.
  • Vroeë reflekse soos die Moro-refleks begin verdwyn. Die gryprefleks is byna heeltemal weg. Sy handjies is meestal oop.

Stimulasiewenk: Gesels en lag saam met hom. Speel musiek en dans met hom. Sit hom op sy magie neer in wakker tye en hou ’n speelding omhoog sodat hy sy koppie lig. Vryf sy handjies met verskillende teksture. Beweeg voorwerpe voor sy ogies.

Week 8

  • Hy hou sy koppie sowat vyf sekondes regop as hy sit of staan.
  • Uit die maagliggende posisie kan hy sy koppie 45 grade lig en dit meer as tien sekondes so hou.
  • Sy staprefleks begin verdwyn.
  • Hy word bewus van sy handjies.
  • Hy luister doelgerig na sekere klankies in die omgewing.
  • Die fontanelle op sy kop maak toe.
  • Hy volg voorwerpe en draai sy koppie 180 grade om dit te doen.

Stimulasiewenk: Stut hom teen kussings en gee helder voorwerpe aan sodat hy daarna kan gryp. Gebruik dramatiese spraak. Identifiseer klanke vir jou baba.

Week 12

  • Hy lig sy koppie sowat 90 grade en hou dit langer as ’n minuut regop terwyl hy op sy maag lê.
  • Hy hou sy koppie sowat 30 sekondes regop terwyl sit.
  • Die gryprefleks is nou heeltemal weg. Hy hou sy handjies oop en bestudeer dit.
  • Hy sal ’n ratel ’n paar minute lank vashou as jy dit in sy hand plaas.
  • Hy maak klanke soos “ghagha”, “aghoe” en “agh”.
  • Hy gee sy eerste ware glimlaggie!
  • Hy herken gesigsuitdrukkings.

Stimulasiewenk: Trek baba van ’n lêposisie na ’n sittende posisie. Speel met sy lyfie: buig sy knietjies, trek die armpies liggies, kielie die voetjies. Speel musiek met verskillende ritmes.

Week 16

  • Sy sit regop, maar het ’n stut nodig.
  • Sy besef die verband tussen haar bewe-ging en wat die speelding doen, byvoorbeeld as sy dit skud. Sy sal ’n ratel skud, maar kan dit nie self optel nie.
  • Sy onderskei tussen haar ma en ander mense se gesigte.
  • Sy kan begin “gesels” met laggies, gilletjies van plesier en deur borrels te blaas.
  • Sy volg ’n voorwerp tot in die hoek van haar oog.
  • Sy verwag gebeure soos voeding en herken bekende musiek (geheue-ont-wikkeling).
  • Sy kan tussen ’n man en vrou se gesigte onderskei.

Stimulasiewenk: Sit ’n ratel in baba se hande. Beweeg ’n voorwerp voor haar ogies sodat sy dit volg. Gee speelgoed met verskillende teksture, kleure, vorms en geluide. Speel speletjies waar baba haar romp moet draai.

Week 20

  • As sy op haar magie lê, sal haar armpies en beentjies gelyk in ’n wiegposisie begin lig.
  • Sy het volle beheer oor haar kop.
  • Sy kan ’n vuisie in die mond sit en later ook speelgoed na haar mond bring.
  • Sy bring haar hande by die middellyn bymekaar en speel met haar handjies.
  • Sy reik met albei hande na voorwerpe uit.
  • Sy kan so goed soos ’n volwassene op ver en naby items fokus.
  • Sy glimlag vir bekendes.
  • Sy kan tussen kwaai en vriendelike stemme onderskei.

Stimulasiewenk: Wieg baba liggies terwyl sy sit sodat sy haar koppie regop moet hou. Gebruik haar naam gereeld en speel ‘Waar’s hy? Daar’s hy!’ Reageer wanneer sy geluide maak.

Week 24

  • Hy plaas gewig op sy voorarms wanneer hy op sy magie lê.
  • Hy rol per ongeluk om.
  • Hy sit met sy hande vorentoe om te balanseer.
  • Hy dra gewig op sy bene.
  • Hy kan akkuraat na iets reik en dit raakvat.
  • Hy kan ’n voorwerp van een hand na ’n ander oorplaas.
  • Hy sal ’n voorwerp laat val om ’n ander op te tel.
  • Hy luister intens en kan byna so goed soos ’n volwassene hoor.
  • Hy fokus goed, maar verkies om op voorwerpe binne ’n meter te fokus.
  • Sy woordeskat brei uit met klanke soos “‘ka”, “da”, “ma” en “irgh”.
  • Sy eerste tandjie verskyn.

Stimulasiewenk: Speel neem-en-teruggee-speletjies. Praat baie met hom en speel lyfspeletjies. Laatspeel-goed val en wonder hardop waar dit is.

Week 28

  • Terwyl hy op sy magie lê, kan hy sy bolyf opgestoot hou so lank as wat hy wil en selfs op net een hand balanseer.
  • Hy sit sonder ondersteuning.
  • Hy staan as jy hom regop hou.
  • Hy kan iets in een hand vashou terwyl hy met die ander hand na iets uitreik.
  • Sy stem wissel tussen hoë en lae klanke.
  • Hy kan tussen ’n man en ’n vrou se stem onderskei.
  • Hy draai sy koppie in die rigting van klanke.
  • Hy lag as hy vrolik is en skree as hy kwaad is.

Stimulasiewenk: Speel ‘Waar’s hy? Daar’s hy!’ Sit speelgoed skuins voor hom neer sodat hy die een hand moet oplig om dit te vat. Sing, lag en dans met baba. Laat hy homself in ’n spieël bekyk. Sit ’n blokkie in elke handjie.

Week 32

  • Sy rol doelbewus van haar maag tot op haar rug.
  • Sy strek en reik uit ’n sittende posisie na ’n speelding, maar kan omval.
  • Sy “spring” op jou skoot as jy haar handjies vashou.
  • Sy kan voorwerpe in twee hande gelyk optel.
  • Sy bestudeer ’n voorwerp terwyl sy dit met albei hande vashou.
  • Sy besef dat dinge bestaan al kan sy dit nie sien nie. Sy soek na iets wat geval het.
  • Sy onthou gesigte wat sy minder gereeld sien.
  • Sy gebruik sekere lettergrepe in kombinasie, byvoorbeeld “ba-ba” of “da-da”.
  • Sy sê alle moontlike klanke en “gesels” onverstaanbaar met verskillende toonhoogtes en volume.

Stimulasiewenk: Voer ’n tweegesprek met stiltes sodat baba kan saamgesels. Speel bonsspeletjies met haar op jou skoot.

Week 36

  • Sy kan haar volle gewig op haar bene dra.
  • Sy kan 10 minute lank sit en vorentoe en sywaarts leun sonder om om te val.
  • Sy kan omrol en probeer kruip. Sy kan om haar eie as draai en rondbeweeg, al kan sy nie kruip nie.
  • Sy kan met haar wysvinger wys en klein goedjies met haar vingers en duim optel.
  • Sy toon groter belangstelling in haar omgewing en is nuuskierig oor nuwe voorwerpe.
  • Sy ontwikkel die vermoë om te fluister.

Stimulasiewenk: Sit speelgoed buite haar bereik terwyl sy sit sodat sy moet uitreik. Verduidelik wat jy doen. Laat haar vir rukkies gewig op haar beentjies dra.

Week 40

  • Hy kan van ’n sit- na ’n lê-posisie verander.
  • Hy begin homself aan sy arms vorentoe trek.
  • Hy kan ’n paar sekondes lank op sy beentjies staan terwyl sy bene sy volle liggaamsgewig dra.
  • Hy begin voorwerpe doelbewus loslaat.
  • Hy ken sy naam.
  • Hy verstaan as jy "nee" sê.
  • Hy boots regte spraakklanke na en kan dalk een woord met betekenis gebruik.
  • Hy begin onderskei tussen ruimtelike verhoudings soos bo en onder.

Stimulasiewenk: Gee hom speel-goed van verskillende teksture en geluide. Voer aksierympies uit soos “Handjies klap” en “Laat die voetjies trap, trap, trap”.

Week 44

  • Hy wieg heen en weer in die kruipposisie.
  • Hy trek homself teen meubels op.
  • Hy staan ’n hele rukkie terwyl hy aan goed vashou.
  • Hy kan twee voorwerpe teen mekaar kap en probeer om ’n voorwerp te gooi.
  • Hy boots gebare na en reageer op lof.
  • Hy kan eenvoudige opdraggies soos “gee die bekertjie” uitvoer.
  • Hy wys mense soos Pappa en Mamma uit.

Stimulasiewenk: Gee hom bokse om mee te speel. Lees stories. Gee hom bakkies met deksels wat hy kan oopmaak en manipuleer. Motiveer hom om te beweeg deur speelgoed effens buite sy bereik te plaas.

Week 48

  • Sy begin kruip!
  • Sy loop sywaarts terwyl sy aan meubels vashou en vorentoe as jy haar handjies vashou.
  • Sy gooi voorwerpe doelbewus rond.
  • Die knypgreep tussen haar duim en wysvinger raak ál akkurater.
  • Sy vind ’n speelding wat onder ’n bakkie weggesteek is en steek dit self weer weg.
  • Sy trek ’n speelding aan ’n toutjie nader en besef sy kan voorwerpe met ander dinge as haar hande manipuleer.
  • Sy voer haarself met vingerkos en drink met hulp uit ’n bekertjie.
  • Sy maak nabootsklanke soos “brrr” vir ’n motor.

Stimulasiewenk: Sit twee blokkies in haar hande. Gee haar vingerkos. Plaas meubels na aan mekaar sodat sy kan oefen om te stap. Laat haar sien waar jy goed wegsteek wat sy kan soek.

1 jaar

  • Sy staan op haar eie en begin stap terwyl sy met een hand aan joune vashou. Sy kan haar eerste onafhanklike treetjies gee.
  • Sy kan twee voorwerpe in een hand vashou.
  • Sy bou ’n toring van twee blokkies.
  • Sy kan voorwerpe deur ’n klein opening laat inval.
  • Sy sê een of twee woordjies met betekenis.
  • Sy speel graag by ander babas, maar nie met hulle nie.

Stimulasiewenk: Vra haar om bekendes uit te wys en “lees” boekies met eenvoudige, helder prente. Vergroot die ruimte tussen jul meubels effens. Speel vrolike musiek en dans saam. Staan ’n paar tree weg en moedig haar aan om na jou toe te stap.

Elke kind is anders

’n Kind se eerste lewensjaar is seker een van die wonderlikste, maar vreesaanjaendste tye in ’n ma se lewe.

As nuwe ouer is jy bekommerd dat jou kind dalk nie normaal ontwikkel nie, veral as al haar tydgenote al fluks kruip en sy seil nog op haar maag rond. Dis baie belangrik om te onthou dat elke kind ’n individu is en teen haar eie pas ontwikkel.

Mylpale is net ’n vae riglyn. Sommige kinders sal vinniger ontwikkel, maar dit beteken hoegenaamd nie dat hulle vir die res van hul lewe ’n voorsprong sal hê nie.

Rooi ligte moet egter flikker as jou kind buitengewoon kwaai van die mylpale afwyk, byvoorbeeld as sy meer as 3 maande ná die mylpaal steeds nie glimlag nie. Gaan klop by die pediater aan as jy onrustig voel – vir jou eie gemoedsrus.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees