Die doekhoekie

Omdat jy nog minstens 3 jaar lank na jou kind se doeke gaan staar, is dit goed om nou reeds te weet waaroor jy maar kan ontspan – en wanneer jy die dokter moet bel. En omdat jy in die eerste 3 jaar van jou pasgebore baba se lewe minstens ’n halfdosyn keer ’n dag gaan doek omruil, is dit ’n goeie plan om ’n spesiale doekomruil-plekkie in jul huis in te rig, soos in sy kamer. Kry ’n gemaklike tafel sodat jy nie te laag hoef te buk nie. Skep ’n plek waar jy sy doeke bêre, hou afveelappies byderhand en verander gereeld pretspeelgoed wat hom kan besig hou terwyl jy met sy boudjies doenig is. 

Die heel eerste poef        

Jou baba se heel eerste stoelgang word dikwels baie kort ná die geboorte of selfs tydens die geboorte uitgeskei. Die eerste stoelgange staan bekend as mekonium – dis ’n stof wat in jou baba se dermkanaal aanwesig was terwyl hy in die beskermende omgewing van die baarmoeder gegroei het. Dit bestaan uit minerale soute, vrugwater wat die baba ingesluk het, gal uit die galblaas, en slym en selle wat deur die vliesvoering van die derm uitgeskei is. Dit is ’n taai, byna teeragtige stof met ’n swartgroen kleur.

Omdat dit regtig baie klewerig kan wees, is watte wat deurweek is met warm water amper die beste manier om die mekonium van jou baba se boudjies af te kry. Hy kan dit in die eerste3  dae van sy lewe hê – die kleur sal geleidelik na bruin en dan na geel begin verander.

Onthou, kolostrum, daardie wonderlike voorloper van moedersmelk, speel ’n baie belangrike lakserende rol omdat dit baba se derm help om makliker van die taai mekonium ontslae te raak. Wanneer jou melk teen omtrent die derde dag ná jou baba se geboorte inkom, sal baba se stoelgang ’n ál ligter bruin word tot dit mosterdgeel en papperig is. Dit sal lyk of daar saadjies in die stoelgang is, dis doodnormaal.

Die meeste babas het drie stoelgange tydens ’n voeding – een nadat hulle begin drink het, een in die middel van die voeding en een reg ná die voeding! Dis heeltemal normaal vir ’n borsbaba.  Moet jou ook nie te veel verknies as jou borsbaba buitengewoon min stoelgange het in die eerste paar dae van sy lewe nie. Soms is daar baie min uitskeidingsprodukte in moedersmelk, sodat die opelyf min is. Borsbabas se stoelgange is ook nie onwelriekend nie, maar omdat dit so los is, kan dit soms van hul borug tot hul voete versprei!

Bottelbabas se opelyf

’n Bottelbaba se stoelgang kan van dag tot dag verskil al drink hy presies dieselfde formulemelk, en dis nie nodig om daaroor bekommer te wees nie. Diarree gaan egter gepaard met ’n hele rits waterige stoelgange en dit kan vinnig ernstige gevolge hê.

Bottelbabas se stoelgang het ’n groter verskeidenheid kleure, teksture en reuke. Dis ook nie altyd ewe dig nie. Die stoelgang van ’n baba op koeimelkformule is gewoonlik geelbruin en ferm. Party formules het donkergroen ontlasting tot gevolg, veral wanneer yster bygevoeg is. 

Hardlywigheid

Baie babas sukkel soms met hardlywigheid en dit gaan gepaard met harde, droë stoelgange waar jou baba hom werklik moet inspan om sy magie te laat werk. Dit is egter onwaarskynlik dat ’n baba wat net moedersmelk kry, hardlywig sal raak.

Omdat borsmelk so gekonsentreerd is en so goed deur die baba se liggaam gebruik word, kan borsbabas ’n week en selfs langer laat verbygaan sonder dat hulle opelyf het. Solank die stoelgang nie hard is nie, is baba nie hardlywig nie. Hardlywigheid kan maklik ’n klein barsie by die anus veroorsaak wat stoelgange nog moeiliker en pynliker maak.

Behandeling:

  • Gee jou baba ekstra vloeistof soos water of verdunde vrugtesap, of voeg ’n teelepel bruinsuiker by sy bottels.
  • Pruimedante en vye is natuurlike lakseermiddels en ’n bietjie pruimedantsap kan ook help. Sommige babas kry egter krampe daarvan.
  • Rooibostee met bruinsuiker is ook ’n uitstekende middel om stoelgange sagter te maak en ’n gliserien-setpilletjie kan ook help. 

’n Abnormale poef

’n Langdurige droë, wit stoelgang kan dui op die onvermoë van die lewer om kos te help verteer. Raadpleeg ook dadelik jou dokter as daar helderrooi bloed in jou baba se stoelgang is. Swart, teeragtige stoelgange kan daarop dui dat daar bloed in die spysverteringskanaal is. Moenie jou te veel kwel oor ’n groen, geel of oranje stoelgang nie. 

Diarree    

Herhaalde groot, slymerige stoelgange wat geel, wit of groenerig is kan ’n teken van diarree wees. Vir ’n pasgebore baba is diarree werklik gevaarlik en meestal ’n teken van ’n ernstige infeksie. Raadpleeg onmiddellik jou dokter.Die mees algemene oorsaak van diarree by bottelbabas is gastroënteritis; dit het al die dood van honderdduisende kinders veroorsaak.

Babas kan baie vinnig ontwater en daarom is dit uiters belangrik dat hulle deurentyd vloeistof inneem. Tekens van ontwatering sluit in as die voorste fontanel insink of as baba se ogies begin insink. Daar is min urine en die vel verloor sy soepelheid.Die rotavirus is ook ’n algemene oorsaak van diarree in die winter en kinders in ’n crèche of kleuterskool is veral geneig om dit te kry omdat dit so aansteeklik is.

Raadpleeg onmiddellik jou dokter en moenie vir ’n baba medisyne gee wat die maag stop of die stoelgang bind nie. Antibiotika doen ook meer kwaad as goed in die geval van diarree. ’n Baba wat dreig om te ontwater moet ’n elektrolietoplossing kry.

Dit kan jy by die apteek koop, of maak jou eie van 2 liter gekookte, afgekoelde water, 16 gelykvol teelepels glukose of gewone suiker, en 1 gelykvol teelepel sout. Meng al die bestanddele en gee dit minstens elke 2 uur vir baba. Piesangs is ’n goeie bron van kalium, wat dikwels deur diarree uitgeput raak. Hawermoutpap help ook om die maag ’n bietjie te bind. 

Nuttige doekwenke

  • Trek die rowwe kante van ’n weggooidoek om die beentjies uit om te voorkom dat die doek lek. Maak ook seker jou seuntjie se penis wys ondertoe sodat hy nie sy magie natpiepie nie.  
  • Sommige handelaars verkoop spesiale doek-asblikke wat die vuil doeke onmiddellik in ’n plastieksakkie verseël om slegte reuke te voorkom. 
  • ’n Doek wat gereeld lek, is dalk te groot of te klein. 
  • Goedkoop is dikwels duurkoop as dit by doeke kom. ’n Doek van ’n goeie gehalte is gevul met jelballetjies wat vog insuig en absorbeer, terwyl ’n goedkoop doek met watte gevul is. Beproef dit self: Plaas die inhoud van ’n paar verskillende weggooidoeke in ’n bak. Giet ’n halwe koppie water daaroor uit en kyk wat gebeur. Jy sal dadelik kan sien watter doek beter is. Goedkoop doeke wat met watte gevul is moet ook meer gereeld omgeruil word.  
  • Smeer gewone petroleumjellie op jou baba se boudjies ná elke doekomruiling om sy velletjie teen vog te beskerm. Dis goedkoop en doeltreffend. Vir brandboudjies is daar wonderlike produkte op die mark, veral dié met sinkoksied en kasterolie as aktiewe bestanddele. Een van die beste produkte vir baie seer brandboudjies is Antipeol.  
  • Smeer klere wat met poef gevlek is met Bingo-seep en week dit in louerige water voor jy dit was. Dit werk soos ’n bom.

Bronne:

  • Baba en Kindersorg Handboek deur Marina Petropulos (Struik, 2001).
  • Ouerskap met Deernis en Begrip deur Suster Lilian (Human & Rousseau, 1999).
  • Dankie ook aan Suster Jenny Froneman van die Baby Wellness Clinic in Fairland, Johannesburg, vir haar hulp met dié artikel.