Raad teen brandboudjies

akkreditasie
Hier's hoe jy brandboudjies kan voorkom en behandel voor infeksies plaasvind.

Dis redelik algemeen dat babas rooi, seer vel in die doekarea kry. Die geaffekteerde area kan droog of klam wees en soms lyk dis selfs puisierig. Die inflammasie van jou baba se vel staan bekend as irritant dermatitis en dit word veroorsaak deur velkontak met die chemikalieë in sy uriene.

Dit is belangrik om brandboudjies of luieruitslag te behandel sodra dit verskyn, omdat dit kan ontwikkel tot ‘n swam- of bakteriële infeksie.

Weggooidoeke verminder die kans op luieruitslag, omdat hulle meer absorberend is en ‘n laag het binne wat die nat doek van jou baba se vel weghou. Maar alle babas kan luieruitslag kry omdat hulle velletjies so sensitief is.

Oorsake

Die hoofoorsaak is vog van ‘n nat doek. Die kieme op jou baba se boudjies en op sy klere kom in aanraking met sy uriene, wat steriel is. Hierdie kontak met kieme lei tot die produksie van ammonia, wat die vel brand.

Ammonia breek die beskermende lagie van die vel af. Die nat doek voorkom dat lug by die vel kom, wat beteken dat die vel klam bly en geirriteerd raak.

Brandboudjies kan ook veroorsaak word deur ‘n tipe dermatitis waar die vel te veel sebum (of olie) afskei. Die oorsake van luieruitslag sluit ook siekte in, veral diarree. Selfs die bekendstelling van ‘n nuwe kossoort kan lei tot luieruitslag by sommige babas.

Wat jy kan doen

  • Probeer om jou baba se vel so droog as moontlik te hou. Ruil sy doek gereeld en laat hom toe om soms sonder doek te wees, sodat die vel kan genees.
  • Reinig jou baba se boudjies baie sagkens sodat jy nie die vel verder irriteer nie, maar hou dit steeds skoon.
  • Gebruik spesiale vogdoekies vir sensitiewe vel wanneer jou baba luieruitslag het, of gebruik watte en afgekoelde kookwater.
  • Gebruik boudjiesalf elke keer as jy jou baba se doek ruil. Die roompies help om klammigheid weg te hou van die vel en dit streel beskadigde vel.
  • Brandboudjies is seer, en jou baba sal nie so gelukkig soos gewoonlik wees nie. ‘n Dosis parasetamol kan help om die pyn te verlig.
  • Gebruik goeie gehalte weggooidoeke met ‘n voering wat die uriene absorbeer en jou baba droog hou.
  • As jy handdoekstofdoeke gebruik, ruil hulle gereeld en was hulle met waspoeier wat spesiaal geformuleer is vir sensitiewe vel.

Natuurlike hulp vir luieruitslag

  • As jy borsvoed, verminder jou inname van dierproteïene, sluit soetgoed en sitrus uit en eet gestoomde rys om jou baba se stelsel te help skoon kry.
  • Laat trek kruie soos boegie of kleefkruidblaar en gee jou baba ‘n bietjie daarvan of smeer dit aan. Dit kan help om die suurvlak van jou baba se uriene te verminder.
  • Jy kan eierwit aan die seer boudjies smeer en dit laat droog word voor jy weer ‘n doek aansit. Dit moedig die vel aan om te genees en voorkom verdere infeksie.
  • Lewende, ongegeurde jogurt kan gesmeer word op die doekarea om die vel te streel en om sproei te voorkom in die velvoutjies.
  • Sommige ma’s sweer by rooibostee. Laat ‘n teepot trek, en voeg dit by jou baba se badwater,of smeer dit aan die geaffekteerde are. Laat jou baba ook rooibos drink – dit sal help met die uitslag en is ‘n gesonde alternatief tot soet drankies en sap.
  • Sprinkel maizena in jou baba se doek in plaas van poeier.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees