Reël 'n uitstappie vir baba

akkreditasie
Vir sommige van ons is die eerste uitstappie saam met baba ietwat senutergend. Hier is hoe om dit suksesvol aan te pak.

Anders as in die ou dae, toe geglo is ’n baba behoort eers ná twee maande ’n voet uit die huis te sit, skryf pediaters nie meer voor dat jy moet wag voor jy met jou nuwe bondeltjie uitgaan nie. As jy met kraamverlof is, is dit byna noodsaaklik om mettertyd saam met jou baba uit te gaan. So nie, kan jy geïsoleerd en vasgekluister aan jou eie huis begin voel.

Die resep vir ’n suksesvolle eerste uitstappie met jou baba is ’n goed gepakte doeksak, ’n bietjie ekstra beplanning en ’n rustige ingesteldheid.

1. Maak ’n kopskuif

Seker die grootste aanpassing is dat elke enkele ding meer tyd verg as daar ’n baba in die omtrek is. Jy kan nie soos voorheen net in die kar klim en ry nie. Ma’s is gewoonlik verbaas om te ontdek dat dit
hulle ure kos net om uit die huis te kom, want eers moet jy self aangetrek kom, dan moet baba gevoed, skoongemaak en aangetrek word, daarna moet jy seker maak alles is gepak, jy moet uitwerk hoe die motorstoeltjie nou weer werk ...

Die uitstappie sal waarskynlik ook langer duur as wat jy beplan het – dit kos ’n hele rukkie om alles weer uit die kar te laai, en dan is daar die ekstra draaie wat jy moet loop omdat alle plekke nie
stootwaentjie-vriendelik is nie.

Dis dan dat jy moet onthou jy is met kraamverlof: Jou tyd is net joune en baba s’n. Wat maak dit saak as alles so lank duur?

Ontspan. Die ergste wat kan gebeur is dat jy dalk vroeër as beplan moet terugkeer huis toe. Haal dus dadelik drie keer diep asem en besluit om julle uitstappie geniet!

2. Pak slim

Pak die doeksak reeds die vorige aand om tyd te spaar en sodat jy weet alles is reg. Dan kan jy die volgende oggend net die laaste noodsaaklikhede soos bottels met warm water pak. Tensy jy bereid is om jou uitstappie kort te knip, maak voorsiening vir die onvoorsiene, soos die moontlikheid dat jou baba ’n vuil doek gaan hê wat tot bo teen haar rug strek, of dat sy byna haar hele bottel melk gaan uitspoeg.

Die doeksak moet dus genoeg plek hê vir die volgende:

  • ’n Opvoubare ruilmatjie (nie alle plekke is ewe higiënies nie)
  • Vyf doeke
  • Klam afveelappies
  • Boudjieroom
  • Antibakteriese sproei (ingeval die doekruilplek nie skoon genoeg is nie)
  • Geparfumeerde sakkies waarin jy vuil doeke kan weggooi
  • Waslap in ’n plastieksakkie vir ingeval die vuil doek dit verg
  • ’n Ekstra stel klere (of twee)
  • ’n Spoegdoek
  • Twee dun kombersies
  • Fopspeen
  • Borslap

As jy borsvoed:

  • Borsdoekies

As jy bottelvoed:

’n Bottel afgekoelde kookwater, ’n bottel warm kookwater, ’n leë bottel om in te meng en ’n houertjie met klaar afgemete formulemelkpoeier (genoeg vir twee voedings)

Onthou ook:

  • Jou selfoon
  • Jou beursie

3. Kies die plek oordeelkundig

Jou eerste uitstappie is dalk pediater toe, maar hou die volgende in gedagte vir meer sosiale uitstappies waar jy jou kleinding na ’n winkelsentrum, parkie of koffiewinkel neem:

  • Kies ’n plek taamlik naby aan jou huis, sodat dit jou nie lank kos om daar te kom nie. In ’n krisis kan jy gou terugkeer huis toe.
  • Kies ’n plek waar jy self gemaklik voel en wat vir jou bekend is. Ideale plekke vir ’n eerste uitstappie is ’n parkie naby jou huis, of ’n koffiewinkel waar jy gereeld gaan koffie drink en jy die kelners ken.

Soek ’n babavriendelike omgewing:

  • As jy gaan inkopies doen, kies ’n sentrum waar jy maklik met jou stootwaentjie by die nodige plekke kan uitkom en waar jy weet daar is ’n maklik bereikbare babakamer waar jy jou kleinding kan borsvoed of sy doek kan ruil. Dis goor om in ’n toilet te sit en borsvoed en dit voel nie higiënies nie. Hoor gerus by jou vriendinne wat goeie opsies is.
  • Vermy plekke wat te besig en te vol is. Gesondheidskenners waarsku ouers teen plekke met groot getalle mense waar allerhande kieme kan skuil.

4. Goeie tydsberekening

Beplan jou uitstappie rondom jou baba se tipiese skedule. Die beste tyd vir ’n uitstappie is gewoonlik reg ná ’n voeding en doekruiling, sodat jy hom nie tydens die uitstappie hoef te voed nie. Sit dus alles
lank voor die tyd reg en sodra baba klaar gevoed is, kan julle net ry. Die meeste babas sal hierna slaap – en kan die hele uitstappie deur slaap!

  • Ruim ’n hele oggend in vir voorbereiding vir die uitgaanslag. Moenie afsprake vir te vroeg maak nie.
  • Hou die uitstappie kort. As jy beplan om langer as ’n uur weg te wees, tref voorsorg vir ’n voeding.
  • Kies ’n tyd wanneer daar nie baie mense is nie, soos ’n weekdag in die middel van die oggend. Dit maak dit makliker om parkering naby die ingang te kry, om jou inkopies vinnig af te handel en vinniger diens te kry, en jy sal self rustiger voel.

5. Waarin moet baba ry?

In die motor moet jou baba in sy motorstoeltjie in die middel van die agtersitplek vas wees. Dink verder mooi oor wat julle gaan doen en wat jul gepaardgaande behoeftes is. Wil jy baba in ’n drasak teen jou lyf dra, in sy motorstoeltjie in ’n winkeltrollie rondstoot of sy stootwaentjie gebruik?

As jy iewers eet, is dit gerieflik as jou kleinding in ’n stootwaentjie of motorstoeltjie is, sodat hy kan slaap terwyl jy eet, maar as jy inkopies doen, kan ’n drasak dalk makliker werk. Hou in gedagte dat jy
nie stootwaentjies in kleiner winkels of sommige restaurante kan rondstoot nie.

Stink situasie

Die probleem: Jou baba het ’n vuil doek wat tot onder sy kieliebakke strek sodra jy amper voor in die inkopietou is.

Jou opsies: As jou baba nie te ongelukkig is nie, kan jy oë toeknyp, maak of jy nie al die vuil kyke van jou mede-toustaners sien nie en deurdruk tot jy klaar betaal het. So nie, stoot jou trollie sodat dit uit die pad is en mik na die naaste babakamer. Ruil jou kleinding se doek en klere en gaan doen dan jou inkopies klaar.

Skreeuend honger

Kleinding is skreeuhonger - maar jy het pas eers jou kos bestel! 'n Honger baba sal nie ophou huil voor hy kos kry nie. Koop 'n paar minute met die fopspeen. Vra dan die kelner om jou kos te hou en gaan voed in die borsvoedingskamer. so nie, kry 'n hoektafel waar jy met jou rug na die ander mense kan sit.

Maak dit makliker

Dit sal baie help as daar iemand by jou is om jou te help – oorweeg dus ’n eerste uitstappie saam met
manlief of vra jou ma of ’n vriendin saam as jy baie senuweeagtig voel.

Wees realisties oor hoeveel jy op een uitstappie kan inpas. Vir ’n eerste uitstappie is een doelwit genoeg: Jy gaan jou vriendin vir koffie ontmoet of jy gaan ’n paar goedjies koop, maar nie albei nie.

Hou ’n spoegdoek oor jou skouer tot jy in die motor is – babas los graag ’n wit blerts op jou skouer net sodra julle uiteindelik gereed is om te gaan. (Moenie vergeet om die spoegdoek af te haal nie!)

As julle winkelsentrum toe gaan, hou baba in die motorstoeltjie of stootwaentjie en gooi ’n kombersie
bo-oor om die lig af te skerm – dit beskerm baba teen oorstimulasie en ook teen mense wat gedurig aan haar wil vat of haar wil soen.

Koop koue goed laaste in die supermark. As jy jou trollie moet laat staan om ’n doek te gaan ruil of te
borsvoed, kan jy die trollie net eenkant stoot en later kom klaar inkopies doen.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees