Refluks en hoe om dit te oorkom

akkreditasie
Spoeg jou baba net, of skuil daar iets erger agter die braking? Só weet jy wanneer om bekommerd te raak.

Meer as die helfte van babas jonger as drie maande spoeg minstens een keer per dag. As jou baba vier maande oud is, het jy veral die spoegdoek nodig, want twee derdes van gesonde babas sal op hierdie ouderdom ’n bietjie melk opbring.

Baie ma’s dink dis abnormaal en gaan dokter toe, maar eintlik is daar niks mee verkeerd as jou baba ’n bietjie braak nie. Daar is wel ’n baie klein persentasie babas wat so erg spoeg dat dit hul gesondheid belemmer en vir hulle, en die ander, is daar raad.

REFLUKS, BRAKING EN REFLUKSSIEKTE

Gastroësofageale refluks, of net refluks, kom voor wanneer die maaginhoud terugbeweeg in die slukderm met of sonder regurgitasie.

Regurgitasie (ons sê sommer spoeg) vind plaas as die maaginhoud wat dan in die slukderm is, opbeweeg tot in jou baba se mond of by haar mondjie uitkom. Dit gebeur gewoonlik sonder inspanning en kom nie met ’n boog uit nie.

Refluks kom op enige ouderdom voor, maar regurgitasie meestal net by babas omdat hul slukdermpies nog so kort is. Refluks kan ook braking uitlok. Braking verskil van regurgitasie omdat die maagspiere saamtrek om die maaginhoud in groot hoeveelhede en met krag uit die maag op te bring.

As refluks werklik lastig is, hinderlike simptome het of komplikasies meebring soos swak groei en eetprobleme, word dit gastroësofageale reflukssiekte genoem. Dit kom net by ’n klein persentasie babas voor.

HOEKOM DIE GESPOEG?

Tussen die maag en slukderm is ’n ring spiere wat die laer-esofageale sfinkter (LES) genoem word. Die LES gaan oop wanneer vloeistof of kos gesluk word en sluit weer sodat die kos in die maag bly. Wanneer die sfinkter ná ete oopgaan om lug wat ingesluk is tydens voeding uit te laat, beweeg die maaginhoud soms ook terug in die slukderm.

Dit is ’n normale proses en gebeur verskeie kere per dag, gewoonlik ná etes of wanneer druk op jou baba se magie verhoog soos wanneer sy hoes, huil of druk. In sommige babas is die drukking in die sfinkter altyd te laag, wat lei tot gereelde refluks.

Babas wat borsmelk drink, het net soveel refluks soos dié wat formulemelk drink, maar hul refluks-episodes is korter en hou op ’n vroeër ouderdom op.

Pasop vir te veel melk op ’n slag gee, want dit (én blootstelling aan rook) kan maak dat jou baba meer spoeg. Vroeggebore babas of dié met ’n geskiedenis van allergieë kan ook makliker refluks kry.

HOE WEET JY JOU BABA HET REFLUKS?

Die meeste babas met refluks spoeg gereeld, maar daar is sommiges wat nie spoeg nie. ’n Baba met refluks kan meer prikkelbaar wees, oënskynlik sonder rede huil – veral tydens of ná voedings – swak eet en moeilik slaap. Sy kan ook baie hik, haar ruggie krom trek of abnormaal asemhaal.

As jou baba van hierdie simptome het, beteken dit nie noodwendig dat sy refluks het nie. Daar kan heelparty ander redes wees waarom sy moeilik is. Selfs die gespoeg kan as gevolg van ander probleme
soos ’n koeimelk-allergie of infeksie wees.

As jou kind gereeld refluks het, kan die maagsuur die slukderm stukkend brand, wat ongemak, pyn en ontsteking van die slukderm kan veroorsaak. As sy skielik donker stoelgange ontwikkel of bloed opbring kan dit ’n teken wees dat haar slukderm bloei.

Tydens ’n refluks-episode kan die maaginhoud in haar lugpyp beland en sy sal hoes in ’n poging om dit uit te kry.

DIE KOMPLIKASIES

Ongekompliseerde refluks het geen slegte gevolge nie, maar reflukssiekte het wel. Reflukssiekte kan veroorsaak dat jou baba glad nie wil drink of eet nie. Dis omdat sy melk met pyn verbind want haar borsie brand elke keer terwyl of nadat sy melk gedrink het.

Vir party babas bring die melk pynverligting omdat dit die suur maaginhoud uit die slukderm was.
Reflukssiekte kan baba se groei ondermyn omdat sy nie genoeg melk binne kan hou nie. Die suur wat gedurig in die slukverderm opstoot kan die slukderm stukkend brand en laat ontsteek.

Bloedverlies kan lei tot bloedarmoede en asemhalingsprobleme of longontsteking kan voorkom as die maaginhoud in die lugpyp en longe beland. Tandslyting kan ook voorkom omdat die maagsuur die tandjies vreet.

BEHANDELING

Ligte tot matige regurgitasie is normaal en geen behandeling is nodig nie. Dit kan in 'n groot mate beperk word deur winde uit te vryf gedurende en ná voedings. Gesels met ander ma’s wat ook refluksbabas het. Ondersteuning en iemand wat verstaan waardeur jy gaan kan wondere vir jou bespoegde gemoed verrig.

Regurgitasie neem gewoonlik vanself drasties ná ses maande af en die meeste gesonde babas hou voor hul eerste verjaardag spontaan op spoeg.

Probleem of nie?

Dis normaal as jou baba net af en toe ’n klein bietjie melk spoeg. Selfs as hy gereeld sonder inspanning
en pyn spoeg, gesond lyk en goed groei, is hy wat pediaters ’n gelukkige spoegertjie noem. Braking kan af en toe voorkom en hy kan prikkelbaar wees as hy spoeg of braak, maar dit is alles ongekompliseerde refluks en geen rede tot kommer nie.

Ouers se persepsie van die hoeveelheid melk wat uitgespoeg word is gewoonlik oordrewe. As jy dink dat jou baba ongeveer 50 ml gespoeg het is dit in werklikheid slegs sowat 10 ml. Die probleem is dus meestal nie so erg as wat jy gedink het nie.

Indien jou baba egter weier om te eet en drink, swak groei of as jy bloeding opmerk saam met gereelde refluks het hy moontlik reflukssiekte of ’n ander probleem en moet jy hom dokter toe neem.

As jou baba teen 12-18 maande oud nog steeds gereeld spoeg of ná ses maande oud skielik begin spoeg is dit ook ’n goeie plan om ’n dokter te gaan spreek sodat verdere toetse gedoen kan word. As toetse wys dat refluks gereeld en vir lang tye voorkom en ontsteking van die slukderm veroorsaak het, word reflukssiekte gediagnoseer.

'n Ma gee raad

  • Wanneer jou baba tydens ’n voeding sukkel om aan die bors te heg of skielik ophou drink is dit gewoonlik ’n wind wat pla en wat uitgevryf moet word.
  • Ruil die doek voor voedings. As jy dit ná voedings doen sal jy weer melk moet gee.
  • Moenie ophou borsvoed nie, melk eerder af en toe uit en verdik die borsmelk.
  • Borsmelk word weer dun sowat vyf tot 10 minute nadat ryspap bygevoeg is. Voeg die pap dus by net voor jy voed.
  • Eet net een vrug op ’n slag. As jy te veel op ’n slag eet, kan dit veroorsaak dat hy meer spoeg.
  • Hou moed! Refluks gaan verby. Skaf maar ’n dosyn of twee spoegdoeke aan!
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees