Regop ruggie

akkreditasie
Plaas van jongs af klem op jou kind se postuur. Swak gewoontes is moeilik om af te leer en kan 'n negatiewe effek op jou kind se ontwikkeling hê

Onder 1 jaar

Jou baba is soos klei in jou hande – hoe jy haar hanteer, het ’n invloed op haar postuurontwikkeling.

Wat kan jy doen?

  • Moenie dat jou baba te lank in een posisie bly sit nie. As sy dikwels langer as ’n halfuur in haar motorstoeltjie sit, kan die geronde ruggie lei tot stremming op die senuweestelsel. Probeer waar moontlik om haar posisie elke halfuur af te wissel.
  • Goeie kop- en rompbeheer word ontwikkel as jy daarna mik om jou baba van 2 tot 6 maande oud elke dag altesaam 60 minute lank op haar maag te laat deurbring.
  • Verdeel dit in verskeie sessies deur die loop van ’n dag. Baie babas teken aanvanklik protes aan; probeer magietyd dus liefdevol en geduldig bekendstel.
  • Loop maar eerder ’n draai om Jolly Jumpers en loopringe. Die arbeidsterapeut dr. Kitty Uys sê dié toestelle ondermyn postuurbeheer en kan boonop die heupgewrigte skade doen. Dit help ook nie juis met jou kind se ontwikkeling nie en is boonop gevaarlik.

Onder 2 jaar

Jou klein warrelwind is van nature aktief. Hoe meer hy beweeg en speel, hoe beter is dit vir die ontwikkeling van sy postuur. Maar dis wanneer hy vir ’n slag stil is dat ’n mens kan sien of daar aan sy postuur gewerk moet word.

Wat kan jy doen?

  • Moenie dat jou kind te lank kruisbeen of in die M-posisie (op sy knieë met sy sitvlak tussen sy enkels) op die vloer sit nie. Dit lei tot ’n geronde rug en plaas stremming op die ligamente van die knieë en enkels.
  • Speel baie balanseer-speletjies met jou kind, want die M-sitposisie beteken hy soek ’n wyer sitbasis vir ondersteuning.
  • Belê in ordentlike stoele wat pas by jou kind se grootte. Jannie of Sannie moet kan sit met ’n hoek van 90 grade by die heupe, knieë en enkels en moet op die regte hoogte langs die tafel te kan sit.

Wat is die regte hoogte? Jou kind se elmboë moet gelyk wees met die tafelblad.

Onder 3 jaar

As jou kind voor 4 jaar oud goeie postuurgewoontes aanleer, ontwikkel en versterk dit die regte spiergroepe in sy lyfie. Dis die beste beskerming teen laerugpyn, wat deesdae al onder negejariges voorkom!

Wat kan jy doen?

  • Wees ’n rolmodel deur self ’n goeie postuur te handhaaf en met jou kind daaroor te gesels.
  • Beperk lang sitsessies voor die televisie.
  • Kry vroeg hulp as daar fout is. As jou kind se skouers hang, hy baie afkyk of ongebalanseerd voorkom, kan dit dui op probleme met die neuro-spierskeletstelsel. Neem hom dokter of chiropraktisyn toe.
  • Laat jou kind oefen om met ’n boontjiesak op sy kop te loop.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees