Ruil die bottel vir 'n koppie

akkreditasie
Sodra jou baba self kan sit en begin onafhanklik word, is dit tyd om 'n drinkbekertjie bekend te stel. Maak só die oorgang van bottel na beker makliker. 

Jou baba kan vanaf ses maande oud gespeen word tot op ’n koppie of bekertjie, ongeveer op dieselfde tyd wanneer jy met vaste kos begin.

Wanneer jou baba self kan sit en self iets kan vashou, is die tyd reg, maar jy kan ook wag tot hy tekens toon dat hy belangstel in die koppie, en dat sy hand-oogkoördinasie goed genoeg is dat hy voorwerpe van sy hand na sy mond kan beweeg.

Onthou, om uit ’n bekertjie te drink is hele nuwe ervaring vir jou baba en dit sal tyd en geduld kos van julle albei om dit reg te kry.

Goeie redes om oor te skakel

Dis baie beter vir jou baba se tande as sy uit ‘n bekertjie drink pleks van ‘n bottel. Wanneer jou baba bottel drink, poel die vloeistof rondom haar tande op waar dit in suur verander word deur die bakterieë in die mond. Hierdie suur vreet die tandemalje, wat tandbederf veroorsaak.

Om uit ‘n beker te drink is baie belangrik vir jou peuter se spraakontwikkeling. “Om te suig aan die bottel of bors is die eerste leerstadium wat spraakontwikkeling affekteer. Dit sluit in die suig- en slukrefleks, wat die rede is hoekom babas aan fopspene en tepels vassuig.

Dit is baie belangrik vir vroeë spraakontwikkeling, maar kinders behoort meer mondvaardighede aan te leer soos hulle ouer word sodat hulle eendag sal kan praat.

“As babas nie aanbeweeg van die bottel of die bors nie, hou hulle aan om op ‘n manier te sluk wat tipies is van klein babas. Hierdie slukpatroon behels dat ‘n baba die tepel of speen met sy tong hou en suig.

Om uit ‘n koppie te drink, lei ook tot kaakstabiliteit, en die ontwikkeling van ‘n repertoire van klanke en mondvaardighede.

Wanneer om oor te skakel

Kate More, a spraak- en taalterapeut van die Paarl, glo dat ‘n koppie so gou as moontlik bekend gestel moet word.

“Tongplasing en lipontwikkeling is baie belangrik vir die ontwikkeling van spraak. Wanneer ‘n baba aan ‘n bottel suig neig sy tong daarna om onder uit te steek. Hierdie aksie kan lei tot ‘n lispel wanneer hy begin praat, weens die gewoonte dat die tong oor die tande uitsteek.

“Kinders wat aanhou bottel drink en rondloop met ‘n bottel in die mond kom in die gewoonte om te praat met die tiet  wat steeds in die mond is. Wanneer ‘n peuter uit ‘n koppie drink, moet hy dit neersit voor hy kan praat. Ek sal dus ‘n koppie bekend stel sodra ‘n kind ‘n sin van twee of drie woorde kan vorm. Tuitbekertjies met handvatsels is ‘n goeie manier om te begin.”

Kate stel ook voor dat jy ‘n koppie met handvatsels en ‘n strooitjie beproef, want dit is goed vir die ontwikkeling van die spiere in die mond.

Hoe om aan die gang te kom

Om ‘n tuitbekertjie te kies is glad nie so maklik nie, want daar is ‘n verskeidenheid vorms, ontwerpe en groottes en nie een is reg of verkeerd nie.

Jy sal moet kies tussen sagte en harde tuite, harde tuite met ‘n rubberlaag, koppies wat nie lek of drup nie, een handvatsel of twee, of selfs verwyderbare handvatsels – die lys is eindeloos. Soos met ‘n bottel sal jy dalk verskeie opsies moet probeer voordat jy een vind wat werk vir jou baba.

Stel die koppie geleidelik aan jou baba bekend tydens een voeding per dag totdat hy daaraan gewoond is. Begin deur slegs ‘n klein bietjie vloeistof in die koppie te sit sodat hy gewoond kan raak aan die nuwe gevoel van die tuit. Wys hom hoe om dit na sy mond te lig en te kantel sodat hy kan drink.

Dit sal hom aanmoedig om uit die koppie te drink as jy iets met ‘n bekende smaak daarin sit waarvan hy hou.

Wenke

  • Hou dit rustig. Dis ’n nuwe ervaring vir jou baba; gee hom tyd om gewoond te raak aan die idee van ’n koppie of bekertjie.
  • Moenie dwing nie. As jou baba nie belangstel nie, los dit en probeer ’n week later weer.
  • Maak dit prettig deur ’n speletjie of liedjie uit te dink oor die koppie. Of gaan op ’n spesiale uitstappie om die eerste koppie te koop en laat hom self kies.
  • Begin buite. As jou kind mors is dit makliker om buite skoon te maak. Dalk is dit ook makliker om ’n warm dag te kies vir die eerste probeerslag, want as jou kind die inhoud van sy bekertjie op sy skoot omkeer, is dit nie so erg nie.
  • Water is ’n goeie eerste keuse, want dis nie taai wanneer jou peuter mors nie. Jy kan ander vloeistowwe gee as jou kind die kuns bemeester het.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees