Salige slaap

akkreditasie
Hier's al die feite rondom slaap om jou te help om 'n goeie nagrus vir die hele familie te verseker.

Die brein is allermins afgeskakel wanneer jou baba slaap. Hierdie ure van rus is wanneer daar fluks geliasseer word aan die hele vorige wakkertyd se gebeure en ervaringe. En onthou, vir 'n baba is die wêreld volkome nuut en stimulerend, en soms oorweldigend. Daar is baie vir so 'n klein mensie om te verwerk.

Waarom is slaap goed vir 'n mens?

  • Tydens slaap word verskeie hormone soos die groeihormoon, testosteroon, melatonien en prolaktien, asook serotonien afgeskei. Die funksies wat al hierdie stowwe in die liggaam verrig help jou kind se liggaam groei en ontwikkel. Dit help met geheue, metabolisme en 'n stabiele gemoed.
  • Navorsing wys 'n baba se bloedvloei na die brein verdubbel tydens die aktiewe slaapstadium.
  • Self die hare, naals en vel groei en herstel tydens slaap.
  • Alles van jou baba se spiere tot sy skelet ontwikkel wanneer hy slaap.

Dit is dus baie belangrik dat daar nie probleme met slaap ontstaan nie. Onthou, dis goed vir jou baba en noodsaaklik vir sy optimale ontwikkeling.

Hoekom 'sukkel' babas dan so om te slaap?

Die brein het slaap-en-wakker-patrone, en daar is twee hoof-slaapfases waarvan jy dalk al gehoor het: REM-slaap en nie-REM-slaap. REM staan vir 'rapid eye movement' en die slaapfase word gekenmerk deur vinnige, rukkerige oogbewegings, verlies van spiertonus, vlakker asemhaling en helder, duidelike drome.

Pasgeborenes en babas tot so 4 maande oud bring meer tyd deur in REM-slaap as in diep slaap. 'n Slaapsiklus se duur is ook vir 'n baba korter as vir 'n volwassene, en dis eers teen sowat 6 tot 8 maande dat die siklus meer soos 'n volwassene s'n begin lyk.

Dis hoekom jy na 'n onderbroke nag vodde voel, maar jou baba op-en-wakker is.

'n Pasgeborene sal 16 tot 20 uur uit 24 slaap. Dit klink dalk soos 'n droom, maar onthou, die slaap gaan baie onderbroke wees, want dis heeltemal normaal vir 'n pasgeborene om elke 2 tot 3 uur te wil drink.

Teen 6 maande slaap babas gewoonlik 10 tot 12 uur per nag, en bedags tot 2 uur.

Jou baba se slaap-wakker-siklus hou verband met die hele res van haar daaglikse ritmes van voeding, hormoonvrystelling en liggaamstemperatuur: alles dinge wat jy kan inspan om haar geleidelik sover te kry om ‘beter’ te slaap, en met ‘beter’ bedoel ons meer soos 'n volwassene, dus beter vir jou.

Hoeveel behoort my baba te slaap?

`n Nuwe baba kan in die eerste jaar die oorsaak wees van 400 tot 750 verlore ure van slaap vir die ouers. Dit klink verskriklik, en voel ook soms so, maar troos jou daaraan dat `n mens tot `n mate gewoond raak daaraan.

Pampers, die doekvervaardigers, het vroeër vanjaar `n reuse-opname gedoen onder ma’s en die resultate bevestig wat nuwe ma’s gou leer. Sowat 40% van ma’s sê hul baba is twee keer of meer per nag wakker. En 67 % van ma’s kry minder as ses uur ononderbroke slaap per nag. Net 7% kry meer as 8 uur slaap per nag.

Maar onthou, elke baba verskil en is `n unieke mens. Die riglyne hieronder is dus net gemiddeldes. Moenie angstig voel as jou baba nie presies volgens die voorspellings slaap nie.

Pasgeborenes slaap tot 20 uit 24 uur, maar word gereeld wakker om te voed. Hul magies is klein, hul voedingsbehoefte groot, en melk verteer vinnig.

Vanaf ongeveer vier weke, en met die regte hulp van jou, sal jou baba begin om snags meer te slaap en bedags minder, hoewel die totale slaaptyd steeds sowat 15 uur is. Jou baba sal byvoorbeeld op drie maande bedags vyf uur slaap, en snags tien (met onderbrekings om te voed). Tipies sal jou baba soggens vir `n uurtjie slaap, en smiddags langer. Ander knip weer drie uiltjies wat almal ewe lank is.

Teen ses maande slaap jou baba snags tot 11 uur, met twee tot drie dagslapies van altesame amper 4 ure. `n Voorspelbare roetine is beslis nou moontlik.

Elf uur per nag is tot op die ouderdom van drie jaar nog heeltemal in orde, maar dagslapies sal al hoe korter en minder word, en soms wegval.

Hoe kan ek help?

Daar is nie kitsoplossings vir slaapkwessies nie, maar wel riglyne wat die toets van die tyd weerstaan het, en wat kan help om julle lewe makliker te maak.

Suster Lilian, bekende vroedvrou en babakenner, beklemtoon dat daar nie `n towermanier is om jou baba te laat slaap nie. “As jy bedags `n sensitiewe en sensible aanslag het, en dan saans `n paar maklike strategieë inspan, behoort slaapkwessies nie onoorkombaar te voe nie.”

Hier is wenke:

Skep `n kalm slaapomgewing vir jou baba, of dit nou in sy eie kamer of in jou kamer is. Snags moet die kamer donker en stil wees. Bedags kan jy ook die gordyne toetrek. As skielike geluide jou baba kan wakker maak, kan jy `n CD met witgeraas opsit om die klanke so te sê te bedek.

Die bedlinne met sag en snoesig wees en jou baba moet volkome gemaklik wees. Die kamer moet ook nie te warm wees nie. Dis raadsaam om voor drie maande seker te maak dat sy (veral snags) op dieselfde plek slaap – die bekendheid daarvan sal haar rustiger laat voel. Begin laatmiddag al afwen deur stimulasie te beperk.

Stel `n bedtydroetine in. Dit kan dinge insluit soos `n warm bad en massering, gevolg deur `n voeding, storie of gebed, dalk `n wiegeliedjie.

In die nag as jou baba dalk wakker word, moet jy ook die rustige atmosfeer handhaaf. Hou die kamer donker (`n dowwe nagliggie is al wat nodig is as jy moet sien om iets te doen), beperk oogkontak, en probeer om nie te praat nie.

Jy kan jou baba ook van vroeg af `n voorwerp gee wat sy kan leer om met slaap te assosieer – iets soos `n kombersie of sagte speelding (vanaf drie maande). Hou dit dan altyd byderhand as dit tyd is vir bed toe gaan. Sy sal dit vertroostend en gerusstellend vind.

En `n foppie? Dit kan werlik help, want babas vind dit kalmerend om te suig. Maar wees gewaarsku dat sy jou dalk kan wakker skree om die foppie vir haar te soek as sy hom in die nag verloor. Maar babas leer eintlik verbasend gou om self die foppie te vind en in hul mond te sit.

Een groot slaapgeheim... hou die wakkertye dop

Ma’s vra altyd vir mekaar hoe lank hul baba slaap. Eintlik is `n gesprek oor wakkkertye meer insiggewend.

`n Johannesburgse pediater, dr. Mudammad-Ashraf Suleman Ahmed (self `n pa van vyf), sê `n groot fout wat ma’s maak is om hul baba deur die dag te probeer wakker hou in die hoop dat hulle snags beter en langer sal slaap. Dit werk nie. Slaapontneming gaan jou baba sleg affekteer, en lei tot nog meer rustelose nagte.

Volgens Ann Richardson en Meg Faure, skrywers van Koester jou Baba, lyk die die dag se wakkertye op verskillende ouderdomme, voor oormoegheid intree, ongeveer so:

  • 0 tot 6 weke: 40 tot 60 minute
  • 6 tot 12 weke: 60 tot 80 minute
  • 3 tot 6 maande: 1 ½ uur
  • 6 tot 9 maande: 2 uur
  • 9 tot 12 maande: 2 ½ uur
  • 1 tot 2 jaar: 3 tot 31/2 uur
  • 2 tot 3 jaar: 4 tot 5 uur.

Tussen 1 en 2 val die oggendslapies gewoonlik weg. Meeste kinders het nog tot op 3-jarige ouderdom `n middagslapie nodig. Hou aan om dit te fasiliteer in julle daaglikse roetine – dis goed vir jou kleuter.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees