Seil deur borsvoeding

akkreditasie
Die natuurlikste ding op aarde? Wat van al die stories oor gebarste, seer tepels, babas wat nie wil vassuig nie en die krisis as jy te min melk het? Baie swanger ma’s wil graag borsvoed, maar voel oorweldig deur al die kwelvrae. Ons gee raad. 

Vra enige ma wat die borsvoedervaring deurleef het, en sy sal jou tien teen een eerder vertel van daardie absolute gevoel van vervulling om jou honger babatjie teen jou bors te kan versadig as van al die moeilike borsvoed tye. In elk geval verskil elke borsvoedervaring net soos elke swangerskap. Dis nie te sê jy gaan sukkel omdat van jou vriendinne dalk borsvoedbeproewings moes deurstaan nie.

Hoe dit ook al sy, elke webtuiste en boek en navorsingstuk sal jou vertel moedersmelk het geen gelyke onder die son nie. Geen produk kan die waarde daarvan vir sowel ma as kind ooit ten volle naboots nie.

Die voordele vir jou en jou baba

Baie vroue getuig oor hoe borsvoeding die fondament vir binding met hul nuweling gelê het. Selfs wanneer dinge nie onmiddellik werk soos dit moet nie, kan jy jou baba as ’n bondgenoot beskou saam met wie jy die nuwe vaardigheid moet bemeester, pleks van iemand wat nie wil saamwerk nie. Met die regte ingesteldheid kan dit julle steeds nader aan mekaar bring.

Vir sommige vroue gee borsvoeding ook die hupstoot wat hulle nodig het om hul nuwe rol as ma met meer selfvertroue aan te pak. Maar benewens die sielkundige voordele, is die volgende ook belangrik:

  • Borsmelk voorsien in die eerste ses maande volkome in al jou kind se voedingsbehoeftes en hou daarna steeds groot voordele in vir jou kleinding se nog onvolwasse spysvertering- en immuunstelsel.
  • Jou kind kry met borsmelk goeie bakterieë en antioksidante in wat help om haar teen infeksies te beskerm.
  • Borsvoeding verminder die risiko vir latere allergieverwante kwale soos hooikoors, asma en voedselintoleransie met sowat 50 persent.
  • Borsbabas kry noodsaaklike vetsure in wat nodig is vir breinontwikkeling en wat hulle beskerm teen parasiete wat gewoonlik diarree veroorsaak.
  • Vir ma’s beteken borsvoeding ’n vinniger herstel van die kraam proses.Wanneer jy jou baba aan jou bors sit, help die suigaksie om die hormoon oksitosien vry te stel, wat jou baarmoeder laat saamtrek. Jy bloei minder en jou baarmoeder keer vinniger terug na die oorspronklike grootte van voor die swangerskap.
  • Vroue wat borsvoed val in ’n laerrisikogroep vir borskanker as hul nie borsvoedende susters. 
  • En moenie vergeet nie: As jy borsvoed, verbrand jy elke dag sowat 250 kalorieë sonder om die binnekant van ’n gimte sien. Jy hoef dus nog nie daardie ou paar jeans in die drom te gooi nie.

Borsvoedkonsultante beveel aan jy probeer ses maande lank uitsluitlik borsvoed, maar as jy weens werksverpligtinge of uit eie keuse vroeër wil ophou, sal jou baba steeds die vrugte van ’n paar maande se borsvoeding pluk.

Daardie eerste voeding 

’n Gesonde voltermyn-pasgeborene se suigrefleks is binne die eerste uur ná geboorte op sy sterkste. Moenie die goue kans laat verbyglip nie en sit jou baba so gou moontlik aan jou bors.

Die meeste babas kry dit dan vanself reg en jy kan baie van die tipiese probleme uitskakel. Ná die eerste twee uur word babas dan weer slaperig.

Julle sal al twee waarskynlik heeltemal uitgeput wees ná die inspanning van die bevalling. Dis egter belangrik dat jy maar in hierdie stadium jou baba elke uur wakker maak om te voed as sy nie self wakker skrik nie.

Moenie verbaas wees as jou tepels effens sensitief is nie. Dit word veroorsaak deur nageboortelike hormoonveranderinge en sal mettertyd verdwyn. Indien dit weens komplikasies met ’n vaginale bevalling of ’n keisersnee nie vir jou moontlik is om jou baba onmiddellik te borsvoed nie, bly rustig. Doen dit net so gou moontlik en maak seker dat die eerste voeding in ’n kalm atmosfeer geskied om die mees positiewe ervaring vir julle albei te lewer.

Borsmelk kom ná ’n keisersnee soms ’n bietjie later in, maar daar is ’n paar dinge wat jy kan doen om dit makliker te maak. Vra om sommer in die herstelkamer al te voed voor die verdowing uitgetrek is en hou jou baba waar moontlik by jou in die kamer. As jy nog pyn het, kan die dokter medikasie voorskryf wat nie jou baba sal beïnvloed nie.

Laat ’n borsvoedingskonsultant jou help om ’n posisie te kry waar die gewig van jou baba nie te veel drukking op die wond uitoefen nie.

Die belangrikste is om die melkkliere te stimuleer sodat melkproduksie aan die gang gesit kan word.

Die eerste melk wat baba inneem is die voedingryke, gelerige, romerige kolostrum wat heel eerste uit die bors kom. Dis vol teenliggaampies en beskerm jou baba teen elke moontlike kiem wat jy as ma ooit gehad het.

Dit is ook ryk aan proteïene en werk soos ’n natuurlike lakseermiddel sodat jou baba die laaste van die mekonium (die “poef” wat sy in die baarmoeder opgebou het) uit haar stoelgang kan kry.

So maak mens

Die algemeenste borsvoedposisie is die wiegposisie. Sorg dat jy regop op ’n gemakstoel sit met kussings onder jou arms, agter jou rug en op jou skoot om jou baba te ondersteun.

Jou baba moet op haar sy lê met haar lyfie na jou gedraai. Hou haar ook op dieselfde hoogte as jou tepel sodat jy nie vooroor hoef te leun om jou tepel by haar mond uit te kry nie. Die koppie kan op jou voorarm rus terwyl jy die boudjies met jou hand vashou.

Bring haar na jou bors toe terwyl jy met jou vry hand jou bors in die C-greep vashou, met ander woorde jou vingers onder en jou duim bo, sonder om aan die areola te vat.

Wag tot sy haar mondjie wyd genoeg oopgemaak het en sit dan die bors in die mond in een ratse beweging. Jou baba moet ’n groot deel van die areola saam met die tepel in die mond kry sodat die melksinusse ordentlik saamgepers kan word om melk vry te stel.

Maak seker jou tepel is in die middel van haar mondjie. Moet asseblief nie ontmoedig word as jy dit nie onmiddellik regkry nie. Vra hulp as jy regtig sukkel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees