Seuntjies se privaatdele

akkreditasie
Kort voor lank gaan jou pasgebore seuntjie se geslagsdele sy getrouste vriend word. Dit gaan gekrap, gevroetel en uit alle hoeke bewonder word. Maar vir eers is dit jou verantwoordelikheid om dié stukkie van sy anatomie te versorg. Dr. Anlie Grobler, ’n pediater by die Unitas-hospitaal in Centurion, verduidelik hoe.

Wanneer is my seun veronderstel om die eerste keer te urineer?

Meer as 95% van alle babas urineer binne die eerste 24 uur ná geboorte; die meeste sommer pas nadat hulle verlos is. As jou baba in ’n hospitaal gebore is, sal die personeel wil weet of jou baba al sedert sy geboorte gepiepie het. Praat dadelik met jou dokter as dinge abnormaal lyk. Urine moet in ’n sterk straal uitkom en nie druppeltjie vir druppeltjie nie. Spreek dadelik jou dokter as die punt van die penis “opblaas” wanneer jou kind urineer.

Is dit normaal dat babas ’n ereksie kry?

Ja, heeltemal! Hoewel dit geen seksuele oorsprong of konnotasies het nie, kry selfs pasgebore babas dikwels ’n ereksie vanweë verhoogde bloedtoevoer in daardie deel.Babaseuntjies kry ook normaalweg ereksies net voor hulle urineer.

Hoe maak ek my baba se penis skoon? Moet ek die voorvelletjie terugtrek?

Nee! As ’n seuntjie nie besny is nie, sal die voorhuid gewoonlik nog aan die glans vas wees. Met ander woorde, dit glip nie terug van die punt van die penis nie. Moenie jou baba se voorvelletjie terugdwing nie, want dit kan skeur en die kop van die penis beskadig. ’n Litteken kan ontstaan en die littekenweefsel kan aan die glans vasgroei wat terugtrekking later bemoeilik. Jou seuntjie se voorhuid sal vanself geleidelik loskom so tussen twee en vier jaar oud. Gewoonlik ontdek seuntjies in hierdie tyd hul geslagsdele en “speel” hulle dit sommer los sonder om hulself seer te maak.

Moet ek sy geslagsdele op ’n sekere manier posisioneer wanneer ek ’n doek aansit?

Menige babaseuntjie het homself al tot onder die ken natgepiepie vanweë ’n tuinslangetjie wat boontoe gewys het. Jy sal jou seuntjie glad nie seermaak deur sy penis afwaarts te laat wys wanneer jy sy doek aansit nie. Maak seker dat jy die penis oplig en daaronder skoonmaak met die vorige doek. Seuntjies se testikels is ook glad nie so gevoelig soos hul pappas s’n nie, dus kan jy maar (steeds versigtig en sagkens) die skrotum ook mooi skoonvee.

Moet ek my seuntjie laat besny?

Dit is al deur en deur bewys dat ’n penis wat besny is, nie noodwendig meer higiënies is as een wat nié besny is nie. My raad is gewoonlik dat as pappa besny is, moet boeta liefs ook besny word omdat dit makliker vir seuntjies is as hulle met hul pappa kan identifiseer.

Hoe moet ek ’n besnyde penis skoonmaak?

Dit neem gewoonlik tussen sewe en tien dae vir ’n penis wat besny is om te genees. Tot tyd en wyl kan die voorpunt van die penis rou en gelerig lyk. Gaan dadelik dokter toe as die penis aanhou bloei, as dit ná drie dae rooier word as voorheen, as daar tekens is van infeksie (soos blasies wat met sug gevul is) of as jou baba nie normaal urineer binne ses tot agt uur ná die besnydenis nie. ’n Penis wat besny is, het net soos ’n onbesnyde penis geen spesiale skoonmaakroetine nodig nie.  

Dit lyk of my seuntjie se testikels nie afgesak het nie ...

Soms gebeur dit dat een testikel (soms albei) nie in die skrotum afgesak het nie. Dit gebeur veral by vroeggebore babas, maar heel dikwels ook by voltermyn-babas. Jy kom dit agter wanneer jy die testikel nie in die seuntjie se skrotum kan voel nie en soms lyk die skrotum sommer net heelwat kleiner as normaalweg. As dit nog nie afgesak het teen een jaar nie, is ’n klein operasie waarskynlik nodig om dit af te dwing. Hoe vroeër dit gedoen word, hoe skraler is die kans dat jou seun eendag met onvrugbaarheid kan sukkel omdat ’n testikel wat nie afgesak het nie, begin verklein.

Hoekom is my pasgebore baba se geslagsdele so groot?

Seuntjies se geslagsdele kan met geboorte buitengewoon groot en opgeswel lyk. Daar kan heelwat redes voor wees, soos julle albei se hormone, effense wrywing tydens die geboorteproses en bloot die natuurlike ontwikkeling van die geslagsdele.

Die skrotum (die sakkie met die testikels) lyk soms kwaai geswel vanweë die vog – genaamd hidroseel – wat in die skrotum voorkom. Dit verdwyn altyd in die eerste jaar van jou seuntjie se lewe.

Gaan dadelik dokter toe as die skrotum bloedrooi en warm is, of as dit ná ’n jaar steeds geswel lyk.

Dit is soms moeilik om die testikels van ’n pasgebore baba in die opgeswelde skrotum te voel. Die spiere wat aan die testikels vas is, kan hulle in die lies optrek wanneer die geslagsarea aangeraak of aan ’n koel omgewing blootgestel word

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees