Sien hoe hy begin kruip en loop

akkreditasie
Baba se eerste bewegings vorentoe is gewoonlik versigtig en klein, maar in sy ontwikkeling is dit 'n enorme sprong. Ons kyk hoe hy begin loop en kruip.

KRUIP

Kruip word beskou as een van die belangrikste motoriese mylpale.

Jou baba se eerste bewegings is reflekse. As hy leer om sy kop en nek te lig terwyl hy op sy magie lê, veroorsaak die toniese nekrefleks dat sy arms reguit strek en sy knieë buig sodat hy in ’n handevier-voetposisie beland.

Deur terugvoering van die bewegingsintuie leer die brein hoe dit voel om in ’n kruipende posisie te wees, en begin bou aan die spierkrag om hierdie posisie te kan inneem en handhaaf.

As hy kruip, word sensors genaamd proprioseptore in baba se gewrigte, spiere en ligamente geprikkel. Die sensors stuur inligting na die brein oor waar die liggaamsdele hulle bevind. Jou baba ‘voel’ dus waar sy ledemate is (propriosepsie) wanneer hy op sy bene en arms druk om te kruip sonder dat hy kyk waar dit is.

Kruip stimuleer ook die vestibulêre sintuig in die binne-oor, wat nodig is vir balans. ’n Verlies aan propriosepsie en vestibulêre leiding kan die volgende probleme tot gevolg hê:

  • Ontoereikende kennis oor waar jou liggaamsdele hulle bevind. Jy sukkel ook om te bepaal wat die krag en wydte van jou spierstrekking is.
  • Dis moeilik om agter te kom of jou liggaam beweeg of nie.
  • Dis moeilik om jou balans te hou as jy regop sit of staan.
  • Dis later moeilik om jou skouers, elmboë en gewrigte stil te hou sodat jou hande noukeurige bewegings kan uitvoer soos om jou hemp se knope vas te maak of netjies te skryf.
  • Swak balans

Wanneer jou baba kruip, leer hy ook wat die ruimtes om hom behels. Hy leer wat bo en onder hom is en van wyer en nouer spasies. Hy kry ’n beter begrip van hoe voorwerpe binne die ruimte georiënteer word, met ander woorde hoe ’n koppie of bottel lyk as hy na hom kyk terwyl hy lê of van bo af as hy in ’n kruipposisie is.

Dié vaardigheid sal hom help om nie later letters soos “b” en “d” om te draai nie. Kruip help ook jou kind om sy kop, arms en bene onafhanklik van mekaar te gebruik. Dis die sleutel tot goed gekoördineerde beweging.

Kruip organiseer die nie-denkende dele van die brein, wat die fondament van georganiseerde kennis vorm.

Hoe dit ontwikkel

Sterk nek- en rugspiere help ’n sewe maande oue baba om sonder ondersteuning regop te sit en hou die liggaam regop wanneer hy handeviervoet staan.

Teen nege maande het hy balansreaksies wat hom help om een hand van die grond af op te lig en vorentoe te beweeg sonder om om te val.

Nie alle babas kruip op die konvensionele manier nie. Party skuif op hul agterstewe rond of beweeg agtertoe pleks van vorentoe. Ander gaan sommer dadelik oor van rol na foutlose kruip. Kruiskruip,
waar die teenoorgestelde arm en been terselfdertyd vorentoe beweeg, help die brein om inligting te verwerk en toe te pas wat hy gelyktydig van albei kante van die liggaam ontvang.

Dis belangrik dat die twee helftes van die brein moet leer om met mekaar te skakel en saam te werk om die brein toe te laat om al die inligting te integreer. Dit word bilaterale integrasie genoem.

Met oefening ontwikkel jou baba se balans en spierkrag ook mettertyd, wat dan weer bydra tot jou baba se toenemende kruipvaardighede. Die meeste babas kan op die ouderdom van ’n jaar gemaklik kruip.

Wat jy kan doen

Voorsien geleenthede vir beweging, maar moenie jou kind dwing om te begin kruip nie.

Aktiwiteite wat kan help

  • Plaas jou baba op sy magie en moedig hom aan om te beweeg. Plaas ’n musiekspeelding op wiele wat sy sal trek net buite reikafstand. Hy sal een handjie probeer optel en strek om die speelding by te kom. Maak seker dat hy dit wel kan gryp. Namate sy selfvertroue toeneem, sal hy ál verder strek en self begin beweeg om daarby uit te kom.
  • Vul ’n lae kas met gekleurde plastiekkoppies van verskillende groottes. Los die deur oop en moedig hom aan om te gaan verken.
  • Die rolkussingmetode: Hierdie oefening kan jy al met jou baba begin doen as hy drie maande oud is. Laat hom op sy magie lê. Ondersteun hom dan terwyl hy op sy elmbogies druk. Meet die afstand tussen sy onderarm en die vloer. Kry dan ’n rolkussing van daardie hoogte en plaas dit onder sy bors sodat dit hom kan help om sy bolyf en nekkie regop te hou sodat hy sy omgewing kan ontdek. Maak seker dat die kussing nie te hoog is nie; sy elmboë moet steeds aan die grond kan raak.
  • Gaan lê nou op die grond reg voor jou baba en trek gesigte, gesels met hom en moedig hom aan. Dis die heel belangrikste deel van die oefening, want dit betrek jou baba, laat hom van die aktiwiteit vergeet en laat hom op sy omgewing fokus. Dié oefening sal hom sommer vinnig aan die kruip kry.
  • Jy kan die rolkussing ook geleidelik en baie stadig vorentoe beweeg, wat jou baba sover sal kry om ook sy bene, arms en knieë te gebruik.
  • Daar is heelwat speelgoed op die mark wat spesifiek ontwikkel is om jou baba se kruipvaardighede aan te help. Kyk uit vir ’n speelding met ’n geligte plekkie waarop jou baba op sy maag kan lê terwyl sy arms en bene vry rond kan beweeg – dit kom onder andere in die vorm van ’n vliegtuigie voor.

Voorbeelde is die First Years Happy Flyer Tummy Time of die Lamaze Spin & Explore Garden Gym.

Loop

Die oorgang van kruip na loop kondig jou baba se oorgang van baba na kleuter aan

Waarom is dit belangrik?

Dit kan vergelyk word met ’n tiener wat sy rybewys kry. Dit gee jou baba die vryheid om sy eie besluite te neem en sy eie doelwitte te stel.

Hoe dit ontwikkel

’n Pasgebore baba moet sy bene oefen om te keer dat dit nie onwillekeurig terugkeer na die fetusposisie nie. Die looprefleks help om dit te oorkom. As jy ’n baba in die eerste twee maande regop hou en sy voetjies op ’n plat oppervlak neersit, sal hy treetjies gee – eers met die een voet en dan met die ander.

Teen die ouderdom van drie maande sal jou baba alles doen om sy bene so sterk moontlik te kry. Hy sal skop en deur sy bene druk as hy in ’n staanposisie gehou word. So sal hy die spierkrag opbou om op ses maande te kan bons.

Teen 10 maande behoort sy bene sterk genoeg te wees dat hy ’n halwe minuut lank kan staan as jy sy handjies vashou. Hy sal homself teen jou optrek, neersak en dan weer probeer. Hierdie herhaling bou sy krag. Namate sy selfvertroue toeneem sal hy hom teen meubels optrek en die een voet na die kant toe beweeg.

Later sal hy die meubels as ondersteuning gebruik terwyl hy daarlangs afloop. Dit help sy bene met gekoördineerde beweging en sy posturale spiere word al sterker sodat hy regop kan bly.

So tussen 10 en 12 maande gaan hy ’n paar treë kan loop as jy hom aan die handjies vashou. Hy sal binnekort alleen kan staan en sal vorentoe en agtertoe op sy voete wieg om sy balans te oefen.

Die meeste kinders leer tussen 12 en 17 maande loop. wat kan jy doen? Skep ’n groot verskeidenheid omgewings wat jou baba kan ontdek.

Aktiwiteite wat kan help

Help jou baba om gevoel onder sy voete te bevorder, wat weer sy balans sal aanhelp: Trek sy skoene uit en laat hom kaalvoet oor verskillende teksture loop soos sand, mat, hout, sement, gras en teëls. Dit ontwikkel sy tassintuig, wat die brein help met voetboogontwikkeling en gekoördineerde beweging.

Beskryf vir hom watter liggaamsdeel hy gebruik om te beweeg en beskryf ook die verskillende sensasies. Hou sy handjies om hom te lei of plaas meubels op die regte hoogte en met min genoeg plek tussenin dat hy kan vasgryp sonder dat dit vir hom nodig is om tussen die meubels deur te kruip.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees