Slaapskool vir ma en baba

akkreditasie
Jy’t al alles probeer, maar jou baba weier om deur te slaap. Is slaapopleiding dalk die uitweg? Ons bekyk dié omstrede oplossing, en regte ma’s vertel hoe dit vir hulle gewerk het.

Die meeste van ons is voorbereid op ’n paar slapelose nagte met ’n nuwe baba. Maar wanneer jou ooglede permanent op die grond sleep of jy jou betrap dat jy die suiker in die yskas bêre bloot omdat jou brein van pure moegheid ophou werk het, is dit dalk tyd vir drastiese stappe.

Dis dan dat vriendinne die woordjie “slaapopleiding” opper, iets waaroor min ma’s neutraal voel. Sommiges se nekhare rys wanneer jy dit noem, ander loof dit met dankbaarheid.

Slaapopleiding beteken in ’n neutedop dat jy jou kind aktief leer om self aan die slaap te raak. Dit behels gewoonlik dat baba aanvanklik alleen in sy bedjie lê en huil – hoe lank, hang van die spesifieke metode af.

Ons bekyk twee slaapopleidingsmetodes en ’n paar ma’s deel hul sienings.

Die 15-minute reël

Charlene de Wet, konsultant van Baby Love-werkwinkels, beklemtoon dat slaapopleiding nooit in isolasie kan plaasvind nie. “Slaapopleiding is net ’n deel van die legkaart en om vas te stel waarom jou baba nie slaap nie, moet jy na die volledige prentjie kyk. As jou baba se roetine nie reg is nie, sal slaapopleiding nie werk nie.”

Om dié rede sluit hul program ’n volledige roetineprogram vir elke ouderdom in. Hulle gee ook vir ouers ’n lysie vrae om eers deur te werk sodat hulle kan vasstel waarom hul baba huil, vertel Charlene. “Babas huil om baie verskillende redes. Eers wanneer ouers 100% seker is alles is reg en dat baba regtig net baie moeg is, kan hulle met slaapopleiding begin.”

Hoe dit werk

Jy lê jou baba wakker in sy bedjie neer om te slaap en verlaat die vertrek. Jou baba sal begin huil. Jou eerste stap is om vas te stel hoekom jou baba huil. Jy werk dan die vraelys deur om moontlike oorsake uit te skakel.

Die huil sal gewoonlik begin as ’n “moeë”-huil en dan vererger tot ’n “kwaad”-huil, sê Charlene.
“As dit die geval is, los jy die baba vir 15 minute. Ná 15 minute kan jy na jou baba toe gaan. Jy maak dan seker alles is in die haak en gaan weer uit, dié keer vir die volle tyd wat dit duur voor baba aan die slaap raak of vir die volle oggend- en middagslapie. Jy gaan kyk net een keer of alles reg is, en dit is ná die eerste 15 minute,” verduidelik Charlene.

Sy sê dis baie belangrik dat jy alleen verantwoordelik is vir die slaapopvoeding en dat jy baba se huilery die hele tyd monitor. “As die huil verander in ’n huil wat onbekend is, moet jy dadelik na die baba toe gaan.”

Elke nag langer

Karien Camphor, ’n private verpleegkundige en babakenner van Pretoria, sê ook ’n goeie roetine is noodsaaklik vir ’n goeie slaappatroon – veral ’n goeie voedingroetine. “As ’n baba enige tyd op aanvraag gevoed word, leer hy nie om vir tydperke van 3 of 4 uur te slaap nie. Hy leer om kort-kort bietjies-bietjies te drink en ook dan om net kort-kort vir rukkies te slaap. Dié patroon raak gevestig en teen sowat 6 maande word dit ’n groot probleem.”

Sy sê vir ’n goeie slaappatroon is dit belangrik dat die kleinding gedurende die dag ’n gevestigde slaaptyd het. “Sommige ouers dink dat baba in die nag beter sal slaap as hulle hom in die dag wakker hou. Maar hoe beter ’n baba in die dag slaap, hoe beter slaap hy snags.”

Haar ander raad is om voor slaap tyd “kalmeringstyd” in te stel, en om te sorg dat baba ’n vaste slaaptyd het – nie later as 7:30 die aand nie.

Ouers se eie slaappatroon en onrealistiese verwagtinge oor deurslaap kan ook baba se slaappatroon ondermyn. Onrustige verhoudings en huishoudingspatrone kan die saak vererger.
’n Mens moet al dié faktore, sowel as siekte, uitskakel voor jy besluit slaapopleiding is nodig.

Hoe dit werk

Sit jou baba in haar bedjie neer en verlaat die vertrek. Laat jou baba vir sowat 5 minute huil voor jy teruggaan en aandag aan jou baba gee.

Jy kan jou baba troos en vertroostend op die rug tik, maar daarna moet jy ferm wees en weer die vertrek verlaat. Keer weer ná 5 minute terug as jou baba steeds huil. Herhaal die proses tot baba aan die slaap is.

Op die tweede aand kan jy jou baba vir 10 minute laat huil voor jy aandag aan hom gee en op die derde aand vir 15 minute voor jy aandag gee. “Teen die derde aand huil babas gewoonlik vir twee sarsies van 15 minute elk en daarna slaap hulle gewoonlik deur. Dié metode sorg dat jou baba nie emosionele skade opdoen nie,” sê Karien, wat glad nie ten gunste van die uithuil-slaapopleidingsmetode vir babas is nie.

Hoe dié ouers dit gedoen het

Bang vir emosionele skade

Hannelie Oldfield is ma van 2 en gekant teen slaapopleiding. “Ek is baie gesteld op die emosionele ontwikkeling van my kinders en om hulle te laat huil tot hulle slaap kan hulle emosioneel en sielkundig nie goed doen nie. Ek dink hulle sal voel ek gee nie aandag aan hulle behoeftes nie,” sê sy.

Sy sê sy het al haar babas gaan neerlê en gekyk of hulle self aan die slaap raak, maar sodra hulle te erg begin huil het, het sy hulle gaan haal en by hulle gaan lê.

“Die naaste wat ek aan slaapopleiding was, was toe ek een middag by Kayla (2 jaar) gelê het met Abbi (2 maande) in my arms. Kayla wou niks weet nie. Ek het later opgestaan, vies omdat sy nie wou slaap nie.

“Later is ons terug kamer toe. Ek het aan haar verduidelik dat sy nie wou slaap toe ek by haar gelê het nie en dat sy nou op haar eie moet slaap. Sy mag nie van die bed opstaan nie, maar mag my roep as sy my nodig het.

"Ná ’n rukkie het sy geroep en gesê ek moet by haar lê. Ek het geweier en weer verduidelik hoekom nie, omgedraai en geloop. Sy het begin huil en 30 sekondes later opgehou. ’n Minuut later was sy vas aan die slaap!”

Hannelie sê voorheen moes hulle altyd by Kayla lê tot sy slaap, maar ná dié voorval is dit elke aand sonder probleme storietyd, gebedjietyd en dan ligte-uit met musiek.

Abbi raak nog in Hannelie se arms aan die slaap. “Dis vir my baie spesiaal. Een van my vriendinne het gesê sy dink die hele tyd aan wat sy gedoen kon kry terwyl sy by haar kinders moet lê. My tyd is nie vir my belangriker as my kinders nie. Ek hou net in gedagte dat dit tydelik is en eendag sal hulle my nie so betrokke wil hê nie.”

Voordele:

  • Ek glo my kinders is emosioneel goed ontwikkel.
  • Hulle weet ek is altyd daar vir hulle.
  • Daar is ’n baie sterk band tussen ons.

Nadele:

  • Dit duur langer voor hulle aan die slaap raak as jy by hulle lê.
  • Soms is daar ander dinge wat aandag moet geniet en dan kan ’n mens ongeduldig raak.
  • Soms raak jy saam met hulle aan die slaap.

30 keer ’n nag wakker

Charlene de Wet vertel haar dogtertjie, Lisa, het die eerste 6 maande baie sleg geslaap en was nie ’n vriendelike baba nie. “Ons het tot 20 keer ’n nag vir haar opgestaan, een nag selfs 30 keer! Dis toe ons besluit het om hulp te kry.”

Sy het ’n Baby Love-werksessie bygewoon en toe sy uitstap het sy nog gedink sy sal nie slaapopleiding beproef nie, want sy wil dit nie aan haar dogtertjie doen nie. Maar wanhoop het haar daartoe gedryf.

“Dit het 4 aande en 5 dae geduur, toe slaap sy deur! Dit was baie harde werk en ek het meer as sy gehuil, maar ons het deurgedruk. Sy is nou 28 maande en ons het geen probleme hoegenaamd met slaap nie. Sy weet hoe om self aan die slaap te raak en kan dit op enige plek en bed doen.”

Charlene sê die beste is dat toe Lisa begin slaap het, sy verander het. “Sy het nie so gou gefrustreerd geraak nie en in ’n liewe meisietjie verander. Sy klim soms self in die bed en roep ons om te sê sy gaan nou slaap – sonder dat ons gevra het!”

Voordele:

  • As die roetine in plek is, weet jy wat om te verwag en kan jy beplan.
  • Jy het meer vrye tyd.
  • Jou baba weet wat om te verwag en voel veilig.
  • Jou baba is gelukkiger, want sy kry genoeg slaap.
  • Julle as ouers is meer uitgerus en kan meer gehaltetyd saam met baba deurbring.

Nadele:

  • In die beginstadium van die program (die eerste 3 weke) moet julle so min moontlik onderbrekings in jul roetine hê.
  • Dis nie lekker om na jou baba te luister terwyl sy huil nie.

Werk vir een, nie vir ander

Wendy Glanninger van Pretoria is die ma van 2 seuns.

Sy vertel: “Met my eerste seuntjie, Xander, het ek van 6 weke af met slaapopleiding begin want hy was snags elke uur wakker en het bedags nooit langer as 2 uur geslaap nie.”

Sy het hom vaak in sy kot neergelê en uitgeloop. Sodra hy begin huil het, het sy ingekom, hom getroos sonder om hom op te tel en weer uitgeloop. Sy het ná 5 minute teruggegaan, toe ná 10 minute en laastens ná 15 minute.

“Die eerste nag was hel. Hy het die hele tyd gehuil en eers ure later van pure uitputting aan die slaap geraak. Nag twee was dieselfde, nag drie effens beter – hy het darem ná so twee uur aan die slaap geraak en net 2 keer die nag wakker geword. Nag vier was aansienlik beter. Ná ’n week het hy deurgeslaap en hy is vandag op 4 jaar steeds ’n baie goeie slaper.

"Toe Leo gebore is wou ek dieselfde doen, maar hy was ’n week lank in die neonatale waakeenheid en ek het besluit om te wag. Hy het omtrent 6 keer ’n nag wakker geword.”

Op 3 maande het Wendy met slaapopleiding begin. Die eerste twee nagte was baie moeilik, maar sy het deurgedruk, gedagtig aan haar sukses met Xander.

“Wel, 7 nagte later het die prentjie nog glad nie verbeter nie. Inteendeel, Leo was histeries. Ek en my man kon dit nie meer uithou nie en ek het maar weer snags opgestaan en hom opgetel wanneer hy wakker word.”

Hulle het op 6 maande en op 9 maande weer probeer, sonder sukses. Op 13 maande het Leo vir die eerste keer deurgeslaap. Hy is nou 16 maande en slaap die meeste van die tyd deur.

Voordeel:

  • As dit werk, slaap jou kind deur en is almal gelukkiger en minder gespanne.

Nadele:

  • Die stres en skuldgevoelens – dit was vir ons hartverskeurend om Leo so te hoor huil en histeries word.
  • Tydens slaapopvoeding het ons nie ’n oog toegemaak nie, sodat almal ongelukkig, moeg en prikkelbaar was.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees