Sosiale en emosionele mylpale vir die eerste jaar

akkreditasie
Ons het gaan vasstel watter sosiale en emosionele mylpale jou baba in die eerste lewensjaar behoort te bereik.

Om ’n baba sosiaal en emosioneel te sien ontwikkel is een van die opwindendste aspekte van ouerskap.

Dink net aan daardie ongekende vreugde wanneer hy vir die eerste keer sag vir jou glimlag of later kraai van die lag vir iets eenvoudigs soos die waar’s-hy-daar’s-hy -speletjie. Dit kan egter ook sorg vir groot frustrasie soos wanneer skeidingsangs en die eerste woedebuie begin kop uitsteek.

Hier is wat jy min of meer week vir week en later maand vir maand kan verwag wat betref jou kleinding se sosiale en emosionele ontwikkeling.

Die eerste ses weke

Jou baba sal al teen die einde van sy heel eerste dag in die wêreld sy versorger(s) al aan hul reuk leer ken het, sê Megan Faure en Ann Richardson, skrywers van die boek Koester jou baba (Metz Press,
2005).

Hy gaan sy primêre versorgers ook binne die volgende paar dae begin herken aan hul stemme, en teen die einde van die eerste week aan hul gesigte.

Ondanks hierdie slim waarneming van jou klein mensie, is babas se gevoelens in die eerste ses weke eintlik nog baie ongekompliseerd. Jou baba wys wel positiewe en negatiewe gevoelens, maar dis nie altyd moontlik om te bepaal watter emosies hy op watter tydstip ervaar nie. Soms lag hy omdat hy gelukkig is, andere kere omdat hy ’n wind het. En hy kan huil as gevolg van ongemak of pyn, of bloot om van oortollige energie ontslae te raak.

Die drie belangrikste sosiale en emosionele mylpale in hierdie tydperk is:

Oogkontak met Mamma en Pappa: In die eerste klompie weke kan jou baba vir kort rukkies op jou gesig fokus terwyl jy met hom gesels. Kyk uit vir daardie eerste poging tot oogkontak teen sowat 14 dae, maar wees geduldig tot omtrent vier weke vir ’n ware kyk in jou rigting, want dis eers dán dat hy langer as 10 sekondes na jou sal staar.

Huil = help my! Kenners sê dis belangrik vir babas se emosionele ontwikkeling dat iemand altyd aandag aan hulle gee en hulle gerusstel wanneer hulle huil. Dit help hulle om jou te leer vertrou en laat hulle veilig en geborge voel. Kinders wat so genoeg sekuriteit ontwikkel, beproef later makliker nuwe dinge as kinders wat onseker voel.

Reageer op jou glimlag en stem: Babas begin teen omtrent dag 12 aandag gee wanneer hulle jou stem hoor.

Hoe kan jy hierdie mylpale aanhelp?

  • Sommige masseer-deskundiges beveel sogenaamde contentment holds aan wat help om jou baba geborge te laat voel. Dié tegniek word veral vir vroeggebore babas gebruik en werk só: Laat jou baba op sy maag lê en rus een van jou hande op sy kop terwyl ’n ander hand op sy rug of boudjies rus. Wanneer hy op sy rug lê, kan jy weer albei sy hande en bene ’n rukkie lank styf vashou.
  • Hou altyd jou baba styf vas wanneer jy hom voed, selfs al is dit met ’n bottel. Dié vashouery kan ook vir jóú met stresontlading help.
  • Speel met jou kind. Net omdat jou baba nie in hierdie stadium grootoog aan die rondkyk is na allerhande interessante dinge nie, beteken nie dat stimulasie nog nie ’n groot rol in sy ontwikkeling speel nie. Speel dus gerus met sy armpies en bene, maar net wanneer hy helder wakker is en nie wanneer hy huil of kerm nie.
  • Gesels met jou kind. Een van die waardevolste dinge wat jy nou met jou baba kan doen, is om met hom te gesels. Jou stem en jou gesig interesseer hom regtig! Hou jou gesig sowat 25 cm van syne af weg sodat hy mooi op jou kan fokus, kyk in sy oë en praat in ’n hoë stemtoon om dit vir hom makliker te maak om sy aandag op jou te fokus.

Ses tot 12 weke

Jou baba sal teen 12 weke begin koer, gilletjies uiter en selfs babbel. Hy sal jou en ander primêre versorgers ook nou begin herken en reageer op jul aandag, klanke met voorwerpe begin assosieer en in die rigting kyk waar die klank vandaan kom.

Om hierdie sosiale mylpale te bereik, kan jy veral voortbou op hierdie twee dinge: Gesels en speel met jou baba.

Drie tot ses maande

Hierdie tydperk word dikwels beskryf as een van beweging van stil waarneming na aktiewe deelname. Hier is van die mylpale wat jy kan verwag. Jou baba . . .

  • Begin belangstelling toon in ander mense,
  • Word maklik gerusgestel en gekalmeer deur ’n volwassene wat vir hom bekend is,
  • Reageer positief op aanraking,
  • Beleef goeie interaksie met ander wanneer hy wakker is,
  • Glimlag spontaan en glimlag vir jou terug,
  • Huil (met trane) om dinge soos pyn, vrees en ongemak te kommunikeer,
  • Geniet stimulering,
  • Begin op sy naam reageer, en
  • Reageer graag op dinge soos die waar’shy- daar’s-hy-speletjies, ratels en klokkies. Jy is egter nog steeds jou baba se gunsteling speel- en geselsmaat; moet dus nie ophou om met hom te speel en gesels as hy ontvanklik is daarvoor nie!

Ses tot nege maande

  • In hierdie tyd is daar ’n hele string sosiale mylpale waarvoor jy op die uitkyk kan wees:
  • ’n Sterk(er) voorkeur vir bekende mense.
  • Verskeie emosies waarvan opgewek en moeg twee is.
  • Reaksie op taal en gebare,
  • Duidelike misnoeë as ’n gunsteling speelding verdwyn,
  • Vrees dat hy byvoorbeeld van ’n hoë stoel sal afval,
  • Aandagtige dophou van mense en dinge,
  • Nabootsing van klanke, aksies en gesiguitdrukkings naboots, en
  • Gelag en gebabbel tydens stimulering.

Nege tot 12 maande

Die sosiale en emosionele ontwikkelingsmylpale wat nou voorkeur geniet, is nabootsing en self-regulering. Die meeste babas kan teen eenjarige ouderdom:

  • Vingerkos eet soos ’n grootmens en hul arms en bene uitgestrek hou om aangetrek te word,
  • Op hul naam reageer,
  • Vir hulself in die spieël kyk en dit geniet,
  • Bang wees of ongemaklik optree in die teenwoordigheid van vreemdes,
  • ’n Besliste voorkeur vir hul primêre versorger(s) toon,
  • Hul speelgoed vir ander aanbied, maar ook verwag dat hulle dit teruggee,
  • Baie geheg wees aan ’n gunstelingspeelding of -kombersie, en
  • Jou en ander begin manipuleer!

Feite

Die eerste ware lag

Babas begin glimlag tussen twee en drie maande oud, maar dis eers tussen vier en vyf maande
dat daardie glimlag kan omskakel in ’n uitbundige gelag (en hulle uiteindelik vir jou lawwe
aapstreke sal skater).

Persoonlikheid

Kan jy nou al sê hoe jou baba se persoonlikheid eendag gaan wees? In sommige gevalle, ja, maar beslis nie altyd nie. In sy boek Understanding Your Child’s Temperament beweer die Amerikaanse pediater William Carey dat wat ouers nou sien nie noodwendig ’n weerspieëling is van hul kind se ware temperament nie. ’n Moeilike baba kan verander in ’n tevrede en maklik aanpasbare kind, en andersom!

Onthou ook dat ’n kind se temperament (met ander woorde hoe hy reageer op wat binne-in en om hom plaasvind) in die eerste paar weke baie kan verander. Pasgeborenes se temperament word beïnvloed
deur verskeie tydelike faktore soos hul ma se swangerskapshormone, gemoedstoestand en dieet (as sy borsvoed). Selfs die aard van die geboorte kan vir weke daarná ’n invloed op ’n baba se temperament hê.

’n Vroeë geboorte en ’n agterstand in neurologiese ontwikkeling kan in die eerste vier maande
van ’n kind se lewe ’n groot invloed op hom hê.

Skeidingsangs

Ervaar alle babas skeidingsangs?

In ’n groot mate ja, sê kenners. Dit maak tog net sin dat ’n hulpelose baba ontsteld sal word by die
gedagte om geskei te word van die persoon wat hom beskerm en versorg.

Hoewel outonomie al van ’n vroeë ouderdom af in die Westerse kultuur benadruk word, word kleintjies in die meeste ander kulture baie selde in die eerste jaar van hul ma of ’n ander primêre versorger geskei. Hoe dit ook al sy, jy kan verwag dat jou kind iewers in sy eerste 18 maande baie bang gaan wees om van jou geskei te word.

Skeidingsangs slaan meestal toe wanneer jy of manlief jul kind by die huis of dagmoeder los
om te gaan werk of winkel toe te gaan. Sommige babas word in die nag bang wanneer hulle alleen in hul eie kamer moet slaap.

Hanteer skeidingsangs só:

  • Probeer die tye weg van jou kind beperk sover jy kan.
  • Neem jou baba saam met jou as hy regtig angstig is.
  • As jy hom nie kan saamneem nie, los hom dan by mense wat vir hom bekend is, soos natuurlik sy pa, ouma of oupa, ’n tante of ’n versorger wat hy reeds goed ken.
  • Bly by hom as daar iemand nuut in jul huis is soos ’n nuwehuiswerker.
  • As jy jou kind by ’n nuwe versorger móét los, gee hom vooraf kans om haar in jou teenwoordigheid te leer ken

Feite

Hoewel skeidingsangs nou al kan kopuitsteek, kom dit normaalweg eers tussen 12 en 18 maande voor.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees