Speen jou klein borsjors

akkreditasie
Vir baie vroue is die moeilikste deel van borsvoeding wanneer jy ’n einde daaraan moet maak. Dis so ’n intieme, spesiale deel van jou en jou baba se verhouding – hoe weet jy wanneer sy gereed is om van die bors afstand te doen, en hoe speen jy haar sonder om die spesiale band tussen julle te knou? Hier is alles wat ’n ma moet weet, of jy nou reeds besig is om jou kind te speen en of jy beplan om dit binnekort te doen.

Sommige vroue kry dit sommer tjoef-tjaf gedoen: Die een dag suig baba nog doodgelukkig aan haar mamma, die volgende dag sit sy ’n keel op en weier om haar mond ooit weer aan die bors te sit. Ander vroue stel dit uit en uit, en voor hulle hulle kom kry is hul kleingoed al fluks op pad na hul derde verjaardag en meld hulle steeds elke aand vir ’n borsvoeding aan.

Dis nooit maklik om te weet wanneer jy jou kind moet speen nie, en spening is dikwels vir ma sowel as baba ’n uitdagende oorgang. Borsmelk was immers vir maande baba se belangrikste voedingsbron, om nie te praat van hoe veilig, gekoester en tevrede dit haar laat voel nie. Die oorgang het ook op ma ’n invloed: Al is ’n mens hoe trots op jou kleinding se vordering, pluk dit tog aan jou hartsnare wanneer sy ’n babafase agterlaat om ’n nuwe, grootkind-een te betree.

Ons beantwoord ’n paar van die algemeenste vrae oor spening en kyk hoe jy dit so glad moontlik kan laat verloop.

Wanneer moet ek my baba speen?

Daar’s geen definitiewe antwoord op dié vraag nie. Die Wêreldgesondheidorganisasie beveel aan dat babas vir minstens die eerste 4 tot 6 maande van hul lewe eksklusief geborsvoed word. In dié tyd moet hulle geen ander vloeistof of kos kry nie. Van 6 maande oud af kan babas aanvullende voedsel begin kry, maar jy kan steeds aanhou borsvoed tot baba twee jaar of selfs ouer is.

Die beste tyd om te speen is wanneer jou baba se suigbehoeftes begin afneem, gewoonlik tussen 9 maande en 3 jaar oud. Die meeste babas het geen behoefte om voor 1 jaar oud gespeen te word nie. Maar spening is iets waaroor ma’s hulle eintlik nie hoef te kwel nie, sê dr. Jennifer Naudé, ’n laktasiekonsultant.

“Babas ontwikkel en kry ander belangstellings en wanneer dit gebeur, sal die behoefte om te borsvoed afneem en so kan die hele speenproses baie natuurlik gebeur.”
Ma’s wat met borsvoeding volhou ná hul baba se eerste verjaardag kan hulself gerus op die skouer klop. Jy is nie besig om jou baba te bederf of te afhanklik van jou te maak nie. Navorsing het bewys borsvoeding veroorsaak nie afhanklikheid nie maar help ’n kind om jou te aanvaar as haar versorger en help haar ook om meer onafhanklik en selfversekerd te wees.

Hoekom word ’n mens soms gedwing om jou baba te speen?

Dis nodig wanneer ’n ma en baba fisiek van mekaar geskei word, sê Jennifer. Tog is daar ma’s wat vir ’n week of twee oorsee moet gaan en borsvoeding maklik hervat wanneer hulle terugkeer.
Sommige middels en behandelings akkordeer glad nie met borsvoeding nie en jy moet dus ophou borsvoed as jy dit drink. Dit sluit in litium, radioaktiewe jodium (vir die behandeling van ’n ooraktiewe skildklier) en chemoterapie.

Selfs al gaan jy terug werk toe, hoef jy jou baba nie heeltemal van jou bors te speen nie. Lees hieronder hoe om dié proses glad te laat verloop.

Hoe gemaak wanneer ek in die dag nie by my baba is nie?

Sou dit nie heerlik wees as ons baba eenvoudig kon saamneem werk toe en by ’n kantoor-dagsorg laat sodat ons by die kantoor kan borsvoed nie? Ongelukkig is dit bitter min ma’s beskore, en dus is uitmelk by die werk die beste plan om jou melkproduksie aan die gang te hou. Die volgende dag kan jou baba se versorger dan vir baba die uitgepompte borsmelk gee.

Jy kan ’n baba jonger as ’n jaar oud ook bedags laat formulemelk drink en haar snags borsvoed. Onthou om babas jonger as ’n jaar se borsmelk te vervang met formulemelk en nie met ander kos nie.

Kan ek sommer oornag ophou om my baba te borsvoed?

Liefs nie, sê Jennifer. ’n Plotselinge staking van borsvoeding is emosioneel en fisiek sleg vir baba sowel as ma.

Jy kan verstopte melkkliere, mastitis en selfs ’n abses aan jou bors opdoen. Prolaktien, die hormoon wat sorg vir die vervaardiging van borsmelk, word onderdruk as jy oornag speen. Dis een van ons goed-voel-hormone en ’n mens loop dus die gevaar om depressief te voel as jy te vinnig speen.
Drastiese omstandighede vereis natuurlik drastiese maatreëls. ’n Ma wat ’n mastektomie moet ondergaan, word soms gedwing om radikaal te speen. Vir sulke gevalle is daar ’n pil met die naam Dostinex wat melkproduksie onomkeerbaar en permanent onderdruk. Moet egter nie sommer besluit om die pil te drink nie, want dis ’n besluit wat jy nie kan omkeer nie.

Hoe moet ek dan te werk gaan?

Die heel beste manier om te speen is geleidelik, sê Jennifer. Vervang een voeding op ’n slag. Begin met die voeding waarin jou baba die minste belangstel. Pleks van ’n middernagvoeding te gee, lees ’n boek, gee ’n bekertjie met ander vloeistof of gee ’n peuselhappie.

Wag ’n dag of twee en vervang dan nog ’n voeding. Hou so aan totdat jy net een voeding oor het. Die laataand-voeding is gewoonlik die laaste voeding wat laat gaan moet word. Daar is geen rede waarom jy nie daarmee kan voorgaan tot baba uiteindelik besluit om dit self te los nie.

Het jy geweet?

  • Borsvoeding het ’n baie sterk emosionele waarde. Wanneer jy dit staak, is dit belangrik om jou liefde en aandag op ander maniere aan jou baba te bewys. Dis dus nie net die voeding wat deur ander vloeistowwe en vaste kos vervang moet word nie – die emosionele band wat borsvoeding bied, moet ook met ander aktiwiteite geruil word. Wanneer ’n ouer baba vra om te borsvoed moet jy dus besluit: Is sy dors of honger, of het sy my aandag nodig?
  • Ná ’n jaar neem die volume borsmelk wel af, maar die konsentrasie immuunfaktore in die melk neem toe. Dit is die natuur se manier om jou kind teen siektes te beskerm wanneer sy van jou skoot af klim en begin rondkruip.
  • As iemand jou aanraai om op te hou borsvoed, maak seker dat dit regtig nodig is. So nie kan jy agterna baie kwaad wees.

Regte ma’s se wenke

“Ek het my baba op 11 maande begin speen. Ek het elke paar dae ’n dagvoeding uitgelos en dit deur ’n eetdingetjie vervang. Geleidelik het ek ook sy slaaptydvoeding deur ’n peuselhappie vervang. Nadat hy geëet het, ek hom gebad en vir hom stories gelees en gesing. Daarna het ek hom neergelê om te slaap.”

Annemarie Steyn van Vereeniging, ma van Daniël.

”Iemand het my eenkeer vertel ek behoort my te skaam dat ek my seuntjie op 18 maande nog borsvoed. Maar ek het gevoel hy moet die een wees wat besluit wanneer ons moet ophou. In die eerste maand het ons toe die borsvoeding tot twee maal per dag verminder, en teen 20 maande was hy volkome gespeen. Hy het geen emosionele trauma gehad nie en ek het nie met oorvol borste gesukkel nie; dit was net ’n baie gelukkige en liefdevolle einde aan ’n spesiale deel van ’n ma-en-ba-verhouding.”

Marilise Hunter van Pretoria, ma van William.

“Op 16 maande was Michaela se gunsteling-voedingstyd saans net voor slaaptyd. Pleks van borsvoed het ek toe vir haar uit ’n lieflingsboek gelees. Daarna het ek haar ’n bottel gegee en sy was gou in droomland. Ek het die bottel weggevat voor dit ook ’n gewoonte geword het. Sy het wel ’n paar keer bloumoord geskreeu, maar ons het geleer om op ander maniere ’n band te vorm.”

Jackie Delport van Alberton, ma van Michaela.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees