Stompie-sorg

akkreditasie
Is jy skrikkerig vir jou pasgeborene se naelstring-knoppie? Hier is die beste manier om dit te versorg.

Jou pienkvoet se stompie gaan jou dalk aanvanklik kwel. Is dit seer? Is dit gesond? Hoe moet jy dit hanteer? Ontspan maar, dis eintlik heel maklik.

Só word dit geknip

Tydens jou swangerskap kry jou baba deur die naelstring voedingstowwe en suurstof van jou liggaam af. Dit is die noodlyn tussen jou plasenta en haar groeiende lyfie.

As jou baba egter eers gebore is, het sy natuurlik nie meer haar naelstring nodig nie. Dit word dus kort ná geboorte geklamp en afgeknip. Dit kan effens bloei, maar nie jy of jou baba sal enigiets voel nie, want die naelstring het geen senuweepunte nie.

Die dokter klamp die naelstring op twee plekke en knip dit in die middel deur, of jou man kan dit knip. So word bloeding tot die minimum beperk.

Die klampie word net so gelaat tot die string verdroog het. Dit duur ’n dag of wat. Voor julle die hospitaal verlaat, sal die klamp verwyder word.

Die stompie wat oorbly, is ’n deel van jou baba se naelstring wat ná ’n ruk uitdroog en afval, en die baba se naeltjie agterlaat.

Dit is belangrik dat dié stompie deeglik versorg word tot dit afval, wat iewers in die eerste 10 dae sal gebeur.

Hou dit so gesond

Die kleur van jou baba se naelstringstompie verander van geelgroen na bruin en dan na swart voor dit eindelik afval. Tot dit gebeur, kan jy die volgende doen.

Hou dit skoon: Die stompie van die naelstring sal gou genees as jy dit uitlos, maar as dit vuil of taai raak, kan jy ’n wattepluisie in ontsmettingsalkohol doop (onthou om die oortollige vloeistof uit te druk) en dit daarmee skoonvee. Herhaal met nog ’n stukkie watte, maar vee dié keer onder die stompie skoon. Jy kan ook Wecesin-poeier daaroor strooi om dit te help uitdroog.

Hou dit droog: Stel die stompie soveel moontlik aan lug bloot. Trek jou baba in warm weer met net ’n doek en T-hempie aan sodat lug om die stompie kan beweeg. Vou die bokant van jou baba se doek aan die voorkant terug sodat dit nie teen die stompie skuur en die stompie nie aan lug en urine blootgestel is nie.

Vee net af: Probeer om jou baba nie ten volle te bad in dié tyd nie. Hou by ’n sponsbad.

Laat die stompie self afval: Moenie aan jou baba se stompie trek nie, selfs al hang dit net aan ’n draadjie. Dit sal self afval, en wanneer dit gebeur, is sy naeltjie dalk nog nie heeltemal genees nie. Dit kan dalk effens bloei en ’n dag of wat lank teer wees. Soms bly ’n paar stukkies knoetserige weefsel agter nadat die naelstring afgeval het. Dit kan ná ’n ruk verdwyn, maar moet moontlik deur ’n dokter behandel word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees