V&A: Hoe kan ek goeie borsvoeding vestig?

akkreditasie
Watter praktiese wenke het ek nodig om te verseker dat ek in die eerste week na my baba se geboorte goeie borsvoeding vestig? 

Lisanne du Plessis antwoord:

Die twee belangrikste eerste stappe na suksesvolle borsvoeding is om die baba korrek vas te hou en reg aan die bors te laat heg. Daar is verskillende maniere waarop die baba vasgehou kan word en ma en baba kan self besluit wat vir hulle die beste werk.  Dit is baie belangrik om te onthou dat jy eers gemaklik moet lê of sit en dan jou baba na jou lyf toe moet bring. 

Jy moet byvoorbeeld nie na jou baba op jou skoot afbuk om te borsvoed nie, want dan gaan jou rug seer word en baba kan aan die tepel hang, wat seer tepels veroorsaak.

Ma en baba moet so naby aan mekaar wees dat hulle maag teen maag geposisioneer is. Met ander woorde, baba moet na jou bors kyk. 

Eers hierna moet jy die bors aanbied. Dit moenie oorhaastig gedoen word nie – wag maar geduldig tot baba haar mondjie wyd oopmaak. As sy dit nie wil doen nie, kan jy haar bolippie met ou tepel kielie. Sy sal dan haar mondjie in die rigting van die streling oop maak. 

Sodra die mondjie wyd genoeg oop is, moet jy onmiddelik gereed wees om die bors aan te bied. 

Baba suig goed vas as haar ken en neus teen jou bors vasdruk, haar onderlip uitkrul en 'n groot deel van die bors (die tepel en donkerde areola) in die mondjie is. Jy sal weet jou baba drink goed as haar wangetjies effens ingetrek word, daar beweging om haar slape is en jy kan hoor hoe sy sluk. 

Die beste manier om uit te vind of jou baba genoeg drink, is om haar gereeld te laat weeg. Toetsweeg word nie aanbeveel nie- dit is om die baba te weeg voor en dan weer ná 'n voeding om te bepaal hoeveel melk ingeneem is. Dis nie 'n akurate metode nie. Dis 'n beter plan om jou baba een keer per week vir die eertse paar weke – en daarna maandeliks – op 'n babaskaal te laat weeg om seker te maak sy sit genoeg gewig aan. 

Baie ma's glo nie dat hul borsmelk genoeg is vir die baba nie en wil ekstra water, formule, vitamiene of papa gee. Eksklusiewe borsvoeding – dit beteken net borsmelk geen ander vloeistof of vaste kos nie – is in die eerste ses maande van hul lewe die beste wegspringplek vir babas.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees