V&A: Is dit beter om my borste met voedings af te wissel?

akkreditasie
Ek borsvoed my maandoue eersteling. Is dit beter om my borste met voedings af te wissel? Met ander woorde, moet my baba vyf minute aan die een bors drink en dan weer vyf minute aan die ander bors? Of moet ek die een bors vir die eerste voeding gebruik en die ander bors vir die volgende voeding? Soms as ek hom afhaal om borste te ruil, wil hy dan nie weer aan die ander kant vassuig nie. 

Lisanne Du Plessis (borsvoedingskonsultant) antwoord:

Borsvoeding is ’n dinamiese proses en die samestelling van die melk aan die begin van ’n voeding verskil van die melk aan die einde van ’n voeding.

Wanneer die baba begin drink, gee die bors ’n dunner voormelk wat meer water bevat en dus ’n groter volume het, maar wat minder vet bevat. Die tyd wat verloop voor die dikker agtermelk verskyn, verskil van voeding tot voeding en van vrou tot vrou.

Daarom is dit nodig dat die baba toegelaat word om aan die een bors te drink so lank as wat hy wil. Dit sal verseker dat hy die nodige voedingstowwe uit die agtermelk kry. Die agtermelk se volume is minder, maar die vet inhoud is meer.

As jy jou baba toelaat om ongehinderd aan die bors te drink, kan jy verseker wees dat hy die regte balans tussen vloeistof en voedingstowwe ingekry het. As jy jou borste ná ’n paar minute afwissel, kan dit gebeur dat hy net elke bors se voormelk inkry.

’n Baba wat net voormelk drink kan stadiger gewig aansit, ontevrede wees aan die bors en tussen voedings, en ook ’n groenerige, waterige doek hê.

Jy sal weet wanneer jou baba klaar aan die een bors gedrink het, want hy sal dit self los of aan die slaap raak. Jy kan dan windjies uitvryf en die ander bors aanbied. Soms sal hy aan die ander bors wil drink en soms nie. Dis normaal.

Uitsonderings op hierdie algemene reël is vaak babas en babas met ’n swak suigrefleks. Hulle sal dalk beter drink as jy ander tegnieke gebruik, soos borskompressie. Daar is ook ’n paar maniere om seker te maak dat jou baba genoeg melk kry. Pasgeborenes behoort agt tot 12 keer binne 24 uur te voed en vyf tot ses nat weggooidoeke te hê. Die baba kan gereeld geweeg word om seker te maak hytel gewig op.

Die Nasionale Departement van Gesondheid het die nuwe Pad na Gesondheid-boekie in Februarie 2011 geïmplementeer, wat die ou Pad na Gesondheid-kaart vervang het. Die nuwe boekie is gebaseer op die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se groeistandaarde. Dit het aparte kaarte vir seuntjies en meisies omdat die geslagte verskillend groei.

Die boekies is gebaseer op die groeipatrone van borsvoedende babas in ontwikkelende en ontwikkelde lande en bevat meer volledige en omvattende rekords vir die evaluering van ’n baba se gesondheid.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees