V&A: My baba is te lui om te kou, wat kan ek doen?

akkreditasie
Ek het my seuntjie vanaf ses maande slegs puree gevoer. Al sy kossies is fyngedruk, en die gevolg is nou dat hy niks anders wil eet nie. Hy wil nie kos kou nie. Wat kan ek hieraan doen? Want hy kan mos nie slegs sagte kosse eet nie? Hy spoeg enigiets klonterigs uit.

Hannah Leathem (geregistreerde dieetkundige) antwoord:

Dis ’n dilemma waarmee baie ma’s sukkel. Wanneer jy jou baba aan teksture begin blootstel is dit normaal vir babas om te verstik en dit uit te spoeg, aangesien dit vreemd is. Die baba moet geleidelik leer om te kou en vir sommige babas is dit bietjie te veel werk. Die ma voel dit is net makliker om met die puree vol te hou, want ten minste kry die baba dan iets in.

In meeste gevalle sal die probleem homself oplos soos die baba se eetvermoë verbeter, maar dit is belangrik om geduldig, kalm en ontspanne te bly. Die probleem sal slegs vererger as maaltye traumaties word. Vermy dit ten alle koste. Ek beklemtoon weer, maaltye moet ontspanne en positief wees.

Ons beveel gewoonlik aan dat ’n baba aan teksture blootgestel word na ongeveer 3 weke van gemaklik pureekosse eet. Dit hang egter ook van elke individu af, maar die gemiddelde ouderdom om tekstuur te begin gee, is op ongeveer sewe maande.

Kou, met tande of tandvleise as baba nog nie tande het nie, is belangrik vir jou baba se ontwikkeling: dit versterk die kakebeenspiere, help met spraakontwikkeling, met die ontwikkeling van gesonde tande en help die baba om vingerkosse en familiekosse te begin geniet.

Jy kan geleidelik begin deur die puree dikker aan te maak of babapap by te voeg. Gebruik dan ’n voedselverwerker om kosse te maal tot ’n tekstuur wat net effens growwer is. Probeer ook growwer en sagter teksture meng, byvoorbeeld jogurt en gerasperde appel. Begin geleidelik voedsel met ’n vurk fyndruk, nie met die voedselverwerker nie, en laastens kan jy die kos begin fyn sny. Sommige kleintjies verkies egter dat stukkies kos en pureekos apart gevoer word – dit is ook ’n individuele keuse.

As jy steeds sukkel kan jy...

  • probeer om hom op jou skoot te voer aangesien dit hom sal kalmeer
  • probeer om self kos van jou bord af vir hom aan te bied, selfs met jou hand
  • vir hom sing en glimlag tydens die ete, want spanning sal nie help nie
  • baie lof gee as hy iets nuuts probeer
  • saam met jou baba eet – hulle hou daarvan om te na-aap
  • vingerkosse begin gee wanneer hy gereed is – sommige babas verkies om hulself te voer.
  • jou baba aanmoedig om teksture met sy mond te ondersoek – dit help met die ontwikkeling van die tongbewegings wat nodig is om kos te laat saampak in die mond en dit moedig kou aan.

As jou baba steeds sukkel, sal dit wys wees om jou pediater of ’n spraak- of arbeidsterapeut te sien om orale hipersensitiwiteit uit te skakel of te oorkom.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees