V&A: My baba se refluksmedisyne veroorsaak hardlywigheid

akkreditasie
My baba is 3½ maande oud. Sy het gedurig ‘n suur refluks. Ek het haar nou op die infant Gaviscon geplaas, maar nou wil ek net weet of dit dalk hardlywigheid kan veroorsaak? Wat kan ek doen om die refluks te verhoed en terselfertyd hardlywigheid te verhoed, want dit lyk asof dit ‘n bose kringloop kan word?

Dr Strachan antwoord:

Alhoewel Gavison oor die algemeen skadeloos is en baie goed is om refluks by kinders mee te behandel, kan dit hardlywigheid veroorsaak. Indien die Gaviscon effektief werk vir die refluks, kan jy die hardlywigheid met suikerwater, olyfolie of Duphalac-setpille behandel.

Dit is egter raadsaam om die metodes eers met jou pediater te bespreek. Indien die refluks nie ander probleme behalwe vomering veroorsaak nie, sal ek aanraai dat jy so min as moontlik doen. Dit staan bekend as oormatige opstuwing en sal oor die volgende maande verbeter.

Daar is ook anti-refluks-melkformules op die mark wat jy met jou klinieksuster of pediater kan bespreek.

Maar indien jou baba van pyn gil as gevolg van die refluks, is daar ander mediese opsies soos Zantac, Losec of Lanzor. Hierdie behoort die suur in die magie te neutraliseer. Sy mag wel refluks hê, maar behoort nie pyn te hê nie.

Hier is ‘n paar basiese wenke om refluks te behandel:

  • Gee baba meer gereeld kleiner maaltye,
  • Hou baba regop vir ‘n halfuur ná ‘n voeding,
  • Hou baba kalm ná maaltye,
  • Verdik die voedings.

Indien dit nie help nie, probeer teensuurmiddels. Indien die refluks so erg is dat dat jou baba swak groei of gereeld borsinfeksies het, is ‘n operasie dalk die laaste oplossing. Bespreek met jou pediater.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees