V&A: My baba wil net op sy maag slaap

akkreditasie
My baba van drie weke slaap soggens ná ’n voeding, maar hy raak net aan die slaap as ek hom op sy maag neerlê. Baie mense sê dis verkeerd. Is dit veilig vir my baba om op sy maag te slaap, en indien nie, hoe leer ek hom om dit nie te doen nie?

Ann Richardson (verpleegster en ouerskap-afrigter) antwoord:

Die meeste babas hou daarvan om op jou bors of skouer te slaap ná ’n voeding, en sal lekker in hul eie bed in dieselfde posisie slaap. ’n Vol gevoel in hul magie help babas om veilig en geborge te voel en help ook met spysvertering ná ’n voeding. Navorsing toon egter dat daar ’n risiko van wiegiedood is by babas wat op hul maag slaap – dit word dus aanbeveel dat babas eerder op hul rug slaap. ’n Kompromis kan wees om jou baba op sy maag aan die slaap te laat raak onder jou toesig, en as hy eers slaap, kan jy hom versigtig op sy rug draai.

Draai hom knus toe met sy hande naby sy gesig. As jy hom toedraai, voorkom jy dat sy hande uitvlieg weens die skrikrefleks, wat hom dalk wakker sal maak.

Dr. Simon Strachan (pediater) antwoord:

Dokters verwys na die maagposisie as die maagliggende houding, en dit word sterk met wiegiedood
verbind. Die navorsing hieroor is gedoen deur na verskeie faktore te kyk wat ’n rol gespeel het by kinders wat weens wiegiedood gesterf het.

Van die geassosieerde faktore was: die maagliggende houding, ’n ma wat rook, eerstekeer-ouers en kinders wat in beddens slaap met duvets en kussings wat vir volwassenes bedoel is. Dit beteken nie jou baba moenie in sy ouers se bed slaap nie, eerder dat jy nie jou baba op jou duvet moet laat slaap as
jy nie by is nie.

Wiegiedood is uiters seldsaam in gemeenskappe waar kinders gewoonlik toegelaat word om saam met hul ouers in ’n bed te slaap. Die aanbeveling dat kinders nie op hul maag moet slaap nie, het die voorkoms van wiegiedood heelwat verminder.

In die lig hiervan kan ek nooit aanbeveel dat jou baba op sy maag moet slaap nie. ’n Onlangse verslag sê dat stutte wat die baba plat op sy rug laat slaap ook nie ideaal is nie, omdat die stutte die baba verhinder om om te rol as hy verstik.

My raad is dus: Moenie jou baba op sy maag laat slaap nie. Lê hom liewer plat op sy rug neer, maar sonder stutte, of plaas om op sy sy (jy kan ’n wigstut gebruik om hom op sy sy te hou). Jou baba is maar drie weke oud, as jy hom dus leer om op sy rug of sy te slaap pleks van op sy maag, sal hy gou daaraan gewoond raak.

Hy sal die eerste paar keer ongemaklik wees, maar dis belangrik om hom van sy maag af te hou. Tyd op sy maag is egter belangrik vir jou baba se ontwikkeling. Dit beteken dat jy in die eerste drie maande jou baba moet aanmoedig om op sy maag te lê wanneer hy wakker is. Dit sal sy rugspiere versterk, kop- en nekbeheer ontwikkel en eindelik help wanneer hy omrol en begin kruip.

Dokters het ook agtergekom babas wat op hul rug of sy slaap, het ’n groter kans om ’n asimmetriese koppie te ontwikkel. Baie babas onder ses maande het plat koppe of skedels wat effe skeef lyk. Dis as gevolg van drukking terwyl hulle slaap. Dis nie ’n probleem nie, en die vorm van die skedel sal normaal word namate jou baba ouer word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees