V&A: Vuisies bly geklem

akkreditasie
My babadogter is byna 4 maande oud. Van haar geboorte af is haar hande in vuiste gebal. Die dokter het my verseker dis ’n stadium, maar dit lyk vir my sy klem haar hande selfs terwyl sy slaap. Sommige mense het my vertel dis ’n teken van stres en pyn. Haar gesondheid is oor die algemeen baie goed. Ek probeer haar hande oopmaak wanneer ek haar masseer, maar dis soms moeilik. Hoe moet ek dié probleem hanteer?

Sr. Burgie Ireland (verpleegsuster) antwoord:

Babas “gryp” as hul handpalm gestimuleer word; hulle gryp dus ’n vinger onmiddellik vas en sal selfs stywer klem as die vinger uitgetrek word. Dis ’n refleks wat teen 2 maande behoort te verdwyn. Dit beteken ook dat jou baba se hande teen dié tyd meestal oop moet wees.

Ek het die pediatriese neuroloog Dr. John Rodda se raad oor jou baba ingewin en hy sê teen 4 maande behoort ’n baba uit te reik en ’n voorwerp op te tel, wat beteken dat die volgehoue gebalde vuis ’n neurologiese teken van hoë tonus is.

Hy raai aan dat jy die bokant van jou baba se vuis streel om haar aan te moedig om haar hand spontaan oop te maak, eerder as om dit oop te dwing.

Dis duidelik dat ongeag jou dokter se gerusstelling dat dit “normaal” is, jy jou instink volg en voel dat alles dalk nie wel is nie. Neem jou baba vir veiligheid so gou moontlik na ’n pediater of ’n fisioterapeut wat in neuro-ontwikkeling spesialiseer, is John se raad.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees