V&A: Wat gebeur met die formulevoedings as hy koeimelk begin drink?

akkreditasie
My seuntjie is 11 maande oud en eet als wat jy hom aanbied. Hy drink daagliks omtrent 650 ml formulemelk en tussen 100 en 250 ml verdunde Purity-sap. Wat gebeur met die formulevoedings as hy koeimelk begin drink? Moet ons stelselmatig na koeimelk oorskakel? En watter vingerkos kan ek tussen maaltye aanbied?

Christine Stent-Pinha (babaverpleegster) antwoord:

Jou baba kan tot ’n jaar oud formulemelk saam met vaste kos drink. Ons stel voor dat koeimelk eers ná ’n jaar deel van jou kind se dieet word. Jy kan die formulemelk met volroom-koeimelk vervang en jou kind omtrent 350 ml per dag laat drink.

Hy sal waarskynlik twee melkvoedings per dag drink, soggens en saans. Stel hom stelselmatig aan koeimelk bekend – dit sal ’n week of twee kos.

Probeer om jou seun dan van die bottel te speen en giet die koeimelk in ’n beker met ’n sagte tuit of dekseltjie.

Melk is ’n fantastiese bron van kalsium, maar jy kan jou kind ook minstens een porsie kalsiumryke
kos per dag gee, soos jogurt, maaskaas, fyngemaakte sardientjies, kekerertjies of tofoe.

Vingerkos moedig fyn motoriese vaardighede wonderlik aan. Vir ’n elf maande oue baba stel ek voor: ryskoekies, dun strokies roosterbrood, ongesoute broodstokkies, stukkies piesang, appelskywe, liggekookte wortelstokkies, gedroogde mangorepies, jogurt, visvingers, hardgekookte
eier, klein blokkies kaas of goed gekookte pasta in klein stukkies.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees