V&A: Watter bottels is die beste?

akkreditasie
Ek gaan nie my baba borsvoed nie en het dus bottels nodig. Watter bottels is die beste? Waarna moet ek oplet?

Sr. Burgie Ireland antwoord:

Dis wys om eers marknavorsing te doen voor jy geld uitgee. Bababottels was in die verlede van glas, maar is nou van plastiek en navorsing wys dat nie alle plastieksoorte so veilig vir jou baba is soos aanvanklik gemeen is nie.

Polikarbonaat-plastiek (waarvan baie bababottels gemaak is) bevat bisfenol A (BPA), wat skadelik vir menslike gesondheid is. BPA aap estrogeen na en jou baba se lewer en brein wat nog aan die ontwikkel is, kan aangetas word. Kyk dus of jy BPA-vrye bottels of glasbottels kan kry.

Bottels moet maklik skoongemaak kan word. Die bottels met ’n vashougat in die middel word dus nie aanbeveel nie. Dis ook beter om jou bottels met ’n spons skoon te maak as met ’n borsel. Borsels kan krapmerke laat waarin kieme kan skuil.

Spene wat van lateks (natuurlike rubber) gemaak is, is oranje of bruin. Dis gewild want dis elasties en duursaam. Sagter silikoonspene is deursigtig, hittebestand (kan gekook word) en smaak neutraal. Dis nie so buigsaam soos lateks nie en moet dus onmiddellik weggegooi word as die eerste teken van skade verskyn.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees