Vastekos vir baba: Knars & kou

akkreditasie
As jou baba al met selfvertroue bakkies pap en puree eet, het dit tyd geword om iets nuuts te probeer: tekstuur.

Om te eet is vir jou baba ’n groot sensoriese avontuur. Die gladde babapurees wat jy nou al sowat ’n maand gee proe en ruik en lyk almal anders, is nie altyd ewe warm nie, en die hele roetine van lepeltjie wat mond toe kom was vir jou baba nuut en stimulerend. Maak nóú gebruik van jou baba se natuurlike ontdekkingsdrang om nog ’n belangrike eet ervaring bekend testel: tekstuur.

Dis ’n baie belangrike fase van vaste kos en een van die boustene wat die basis lê vir gesonde eetgewoontes. Dit stel jou in staat om nog ’n groter verskeidenheid kosse aan jou baba te bied, dis goed vir haar mond- en kaakontwikkeling (en spraakontwikkeling), dit beteken sy sal minder geneig wees om eendag fiemies te hê en dit voer julle ’n stappie nader aan jou groot doel: dat baba teen ongeveer ’n jaar eet wat julle as gesin eet.

Jy hoef nie te wag tot jou baba tande het om tekstuur bekend te stel nie. Jou baba sal goed klaarkom deur met haar tandvleisies te kou.

Begin deur waar moontlik jou baba se kos eerder met ’n vurk fyn te druk as om dit met die voedselverwerker of stokmenger te verpulp. So sal sagte klonte nog teenwoordig wees.

Jy kan ook soms growwer soorte ontbytpap gee, soos Weet-Bix wat goed geweek is sodat dit sag is, maar steeds meer tekstuur het as babapap, of hawermoutpap.

As jou baba ’n geliefde vleis-en groente-puree het, kan jy tekstuur gee deur ’n lepeltjie koeskoes by te voeg, of baie fyn rys of pasta daarby te meng. Later kan jy die vleis baie fyn sny eerder as om dit te puree.

As jou baba al “kou” aan sy kos en self voorwerpe kan raak vat en mond toe bring, is die tyd reg om vingerkos voorte sit. Baie babas aanvaar ’n vreemde tekstuur baie makliker as hulle dit vir hulleself voer as wanneer dit van ’n lepeltjie af kom.

Dis maar ’n morsige affêre, maar beslis die moeite werd weens die voordele wat dit bied: Jou baba sal meer avontuurlustig eet, beter eetgewoontes ontwikkel, self sy versadiging bepaal en sy ontwikkeling kry ook ’n lekker hupstoot want hy leer onafhanklikheid en oefen ’n rits vaardighede deur daardie kossies mond toe te bring.

Nog ’n groot voordeel van vingerkos is dat jou baba leer hoe die kos apart in sy natuurlike vorm lyk en proe. Dis belangrik dat hy kossoorte individueel leer geniet.

Begin maar geleidelik, moet jou baba nie probeer dwing nie, en wees altyd daarin geval jou baba dalk verstik.

Idees

  • Begin met sagte vingerkos wat in die mond smelt, soos waatlemoenblokkies. Verwyder net al die pitte. Of beproef skyfies piesang en blokkies avokado. 
  • Groente en harde vrugte soos appels moet eers gestoom word. 
  • Namate jou baba se vaardigheid ontwikkel kan jy balletjies gerasperde kaas, stukkies hardgekookte eier en repies sagte vleis gee. Repies pannekoek is ook gewild. 
  • Vir kranige kouertjies kan jy bababeskuitjies, roosterbroodvingers en bababiltong gee. 
  • Meer gevorderde babas sal repies groente, gaar pasta of tuisgemaakte aartappelskyfies in 'n sousie kan doop. 

Besige babas (en slim ma's) behaal dikwels sukses deur in een sitting lepelvoeding en vingerkos te kombineer. Sit vir jou baba 'n bakkie vingerkos neer terwyl jy tussendeur die res van sy maaltyd met die lepel gee. 

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees