Veilige bottels vir baba

akkreditasie
Hoe veilig is plastiek-bababottels en ander produkte van plastiek werklik vir jou en jou familie? Ons stel ondersoek in.

Plastiek kan ingespan word om byna enig-iets te maak, van skuifspelde tot groot ruimteskepe. Dis danksy sy betreklik lae koste en vervaardigingsprosesse wat nie te moeilik is nie.

Daar’s tientalle soorte plastiek waarvan jy seker perspex, polistireen en PVC die beste ken. In dié artikel fokus ons op polikarbonaat, die soort plastiek wat altyd bisfenol A (BPA) in sy vervaardigingsproses gebruik.

Die bohaai oor BPA

BPA is een van die boustene van die helder, deurskynende polikarbonaat (PC) wat vir bababottels gebruik word. “Sommige duursame harde mes-en-lepelstelle vir ouer kinders en bababroeikaste word ook van PC gemaak,” sê Annabé Pretorius, ’n onafhanklike polimeerwetenskaplike van Midrand.

Volgens sommige navorsers boots BPA die vroulike hormoon estrogeen na. Dit is juis dié bevinding wat gesondheidskenners baie onrustig maak omdat te veel van dié hormoon vroue se risiko vir kanker kan verhoog. Die stof word ook verbind met ’n afname in testosteroonvlakke, prostaatskade, vroeë puberteit in meisies en die ontwikkeling van borste by seuntjies.

Navorsers glo daarby dat blootstelling aan BPA potensieel skadeliker vir babas en kinders kan wees as vir volwassenes omdat klein lyfies nie oor die ensieme beskik om BPA doeltreffend af te breek nie.

BPA en jou baba

BPA bereik mense wanneer dit uit die plastiekproduk beweeg of “migreer” en in die kos, melk of enige ander vloeistof beland wat jy of jou kind eet of drink.

Hoe gebeur dit?

BPA kan migreer as die plastiek warm gemaak word (soos in die mikrogolf) of as ’n vloeistof soos melk te lank staan in ’n bottel wat BPA bevat.

“Die hoeveelheid BPA in polikarbonaatprodukte is egter minimaal,” sê Carin Burger, ’n onafhanklike plastiekkenner van Kaapstad. Wetenskaplikes soos Carin glo die waarskynlikheid van migrasie is baie
klein.

Annabé stem saam. Volgens haar moet ’n baba wat sowat 5 kg weeg elke dag 80 bottels formulemelk wat warm gemaak is in ’n bottel wat BPA bevat, drink om by die minimum toelaatbare BPA-vlak uit
te kom.

“BPA bly boonop nie in ’n mens se lyf nie – dit word binne 24 uur uitgeskei,” sê sy. Tog raai die Amerikaanse Food and Drug Association (FDA) wat alle produkte vir menslike gebruik toets en goedkeur, asook die Europese Unie en Healthcare Canada verbruikers aan om versigtig te wees wanneer dit kom by die bêre en veral die warm maak van kos en vloeistowwe in polikarbonate wat van BPA gemaak is.

Hoe weet jy daar is BPA in plastiek?

Plastiekprodukte het meestal ’n nommer op. Dié syfers wissel van 1 tot 7 en kan jou baie help om te bepaal of daar BPA in die plastiek is of nie.

Dié nommers – wat meestal aan die onderkant van produkte verskyn, maar op enige plek aangebring kan word – is oorspronklik ontwikkel om herwinning makliker te maak, sê Carien. Die syfers kan jou
egter ook help om vas te stel of daar BPA in jou kind se kosblik, bottel of lepel is.

Plastiekprodukte met kodes 1, 2, 4, 5 en 6 bevat nie BPA nie. Polikarbonaatprodukte word met ’n syfer 7 in die herwinning- driehoek (die simbool is eintlik drie pyltjies in die vorm van ’n driehoek) aangedui. Alle ander ongeïdentifiseerde plastiek word ook hier ingedeel en bevat nie noodwendig BPA nie. PVC – wat ook potensieel skadelike boustowwe kan bevat – val in kategorie 3.

Volgens Annabé is die aanbring van hierdie kodes nie verpligtend nie hoewel plastiekvervaardigers sterk aangemoedig word om dit te doen. “As die plek dit toelaat, word die afkorting van die plastieksoort ook onder die driehoek aangebring,” sê sy. Daar behoort byvoorbeeld PC (vir polikarbonaat) op bababottels
te staan.

Wees veilig

Dié veiligheidswenke hieronder is deur Carin en Annabé saamgestel.

In die kombuis

  • Moet nooit jou kind se melk of vaste kos in ’n plastiekhouer of -bottel warm maak nie, veral nie as daar ’n syfer 7 in die herwinningdriehoek is en/of die letters PC daarop verskyn nie. Verhit jou en baba se kos liewer in glas.
  • Moenie plastiekware met sterk skottelgoedseep en baie warm water was nie. Dit kan chemikalieë uit die plastiek laat migreer.
  • Moet nooit plastiekhouers wat nie veilig vir skottelgoedwasmasjiene is nie, in die skottelgoedwasmasjien was nie. Kyk uit vir die woorde dishwasher safe.
  • Dieselfde geld plastiekware wat nie veilig vir gebruik in die mikrogolfoond is nie. Produkte sê gewoonlik iets soos microwave safe of microwave not recommended. “Volg hierdie aanwysings nougeset,” is Carin se raad.
  • Plastiek ware soos ou botterbakkies is byvoorbeeld nie veilig vir mikrogolfgebruik nie.
  • Gaan gereeld baba se bottels, bekertjies, bakkies en messegoed van plastiek na en gooi dié wat grof is, skraapplekke op het of bloot net oud en melkerig lyk, weg omdat dit moeilik is om dié soort plastiek skoon en kiemvry te hou.

Met bottels

  • Koop BPA-vrye plastiekbottels vir jou baba. Kyk uit vir die plakker waarop BPAfree staan en vra die winkel om vir jou hiervan te bestel as dit nog nie op hul rakke beskikbaar is nie.
  • Handelsmerke soos Avent, Nuk, Tommee Tippee, Playtex, Snookums, Dr. Brown’s, New BornFree, MAM, Flow, Pigeon, Steribottle, Dizzy Dots en Ez-Freeze is almal deesdae BPA-vry en behoort dit duidelik op hul produkte aan te dui.
  • Wanneer jy bottels koop, kies ’n betroubare handelsmerk en moenie goedkoop ingevoerde bottels uit onbekende oorde koop nie.
  • Kyk uit vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) se Smart Choicestempel op babaprodukte. Dit kom ook op kleefplastiekprodukte voor.
  • Moenie kookwater, baie warm water of enige ander uitermatige warm vloeistof in jou kind se plastiekbekertjie of -bottel gooi nie. As jou baba formulemelk drink, gooi die kookwater eers in ’n BPA-vrye bottel of glashouer en wag tot dit afgekoel het voor jy dit in baba se bottel gooi.
  • Moet nooit enige bababottel in die mikrogolf warm maak nie. Die vloeistof word oneweredig warm en kan jou kind brand.

Suid-afrika hou by ander lande

In navolging van lande soos Amerika en Brittanje, het die departement van gesondheid versoek dat BPA uitgefaseer word in die vervaardiging van plastiek bababottels. Die meeste vervaardigers voeldoen reeds aan die voorwaardes en/of veiligheidsvereistess rakende BPA.

Bly kalm oor BPA, maan ons kenners asook die Plastics Federation of South Africa se web tuiste (www.plasticsinfo.org).

Volgens al dié bronne is daar geen konsensus oor die potensiële gevaar van lae dosisse BPA nie.

Annabé sê PC-bottels is by verre die sterkste bottels as dit kom by oor en oor gebruik. “Dié bottels is lekker hard en word nie maklik gekrap nie.”

Jou beste plan is waarskynlik om jou plastiek op te pas en nie goedkoop plastiek uit onbekende oorde te koop nie. Hou by betroubare handelsmerke.

Kan jy plastiek vermy?

As dit kom by bababottels en -bekertjies is die antwoord ja. Dan is glas ’n beter keuse. Glasbottels is natuurlik BPA- en PVC-vry en word meestal verkoop met ’n silikoon-omhulsel wat keer dat die bottel breek as dit val.

Verskeie van die groot handelsmerke waaronder Avent, Chicco (die Nature Glass Range), Nuk en Dr. Brown’s maak deesdae ook glasbottels. Gaan soek gerus hiervoor by die bekende babawinkels.

Jy kan ook van hierdie en ander glasbottels soos WeeGo op amazon.co.uk bestel teen sowat R200 per bottel, posgeld na Suid-Afrika ingesluit.

Bêre en verhit kos in glasof erdehouers en sit jou kind se kos in ’n glas- of keramiekbakkie voor. Koop ook klein messe en vurke van metaal as jy werklik bekommerd is oor BPA.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees