Wat die ooievaar bring...

akkreditasie
Plooie, puisies en 'n lang kop- die kans dat jou pasgeborene so pragtig soos die engeltjies op die Huggiespakke gaan lyk, is omtrent nul. Ons vertel jou wat om te verwag. 

#1

As jy ’n vaginale geboorte gehad het, kan jou baba se gesig geswel en pofferig lyk as gevolg van die drukking in die geboortekanaal terwyl hy daardeur beweeg het. Dit veroorsaak swelling van die wange en ooglede.

#2

In dogtertjies sal die labia en tepeltjies geswel en rooi wees omdat jou hormone nog in haar lyf is.

#3

Voor jou baba se naelstring geknip word, sal dit op twee plekke geklem word. Binne 10 tot 14 dae ná geboorte word dit droog en val af. Daar is geen senuwees in die naelstring nie. Jou baba sal dus geen pyn ervaar wanneer dit geknip word nie.

#4

Jou baba het nege maande lank in water rondgedryf so dit behoort geen verrassing te wees dat sy vel verrimpeld lyk nie. Dit kan dalk ’n paar dae ná geboorte selfs afdop.

#5

Seuntjies het dikwels baie groot skrotums weens die drukking van die baarmoederkontraksies en mamma se hormone wat gedurende swangerskap na die fetus oorgedra word.

#6

Jou baba sal instinktief jou gesig soek. Die pofferige ooglede beskerm sy sensitiewe oë teen skerp lig – nog ’n slim kunsie van die natuur om ons oorlewing en welstand te verseker. Daar kan geskeurde bloedvaatjies in die wit deel van sy oë wees wat deur drukking tydens geboorte veroorsaak word. Dit klaar binne ’n paar weke op. Hy kan 20 cm van hom af nog goed fokus en kan jou gesig duidelik sien. Dié noue aanraking verstewig binding en die inprenting van jou gesig by hom. Wanneer hy jou gesig sien en jou herken, sal sy pupille wyer word, ’n teken dat hy bly is om jou sien. Dit laat jou weer op ’n liefdevolle manier teenoor hom reageer, totaal onbewustelik!

#7

Vernix is ’n baie glyerige stof wat jou baba se vel teen die vrugwater beskerm terwyl hy in die baarmoeder is, anders sou nege maande in die water sy vel verfrommel het. Dit help hom ook om in die geboortekanaal af te gly terwyl jy kraam. Gewoonlik kom dit af tydens die bevalling, maar daar kan nog ’n bietjie in die groefies en voue van die vel oorbly. Baie vernix is kenmerkend van vroeë babas. Dit sal ná jou baba se eerste bad verdwyn.

#8

Pasgebore babas het helderrooi lippies weens die vloed suurstof wat instroom wanneer asemhaling begin.

#9

Sekere dele van pasgeborenes se lyf het meer vet as ander. Hierdie vetvoue word langs die agterkant van die rug, die wange, die kante van die neus en onder die arms gevind. Dié vetreserwes wat rondom week 17 neergelê word, verseker oorlewing en is ’n belangrike bron van voedsel en warmte in die eerste paar dae ná geboorte. Dit is een van die redes waarom jou baba nie veel kos in die eerste paar dae nodig het nie. Nog ’n rede daarvoor is dat jou borsmelk aanvanklik baie gekonsentreerd is.

#10

Sommige babas word met ’n vol bos hare gebore terwyl ander bykans heeltemal bles is.

#11

Die fyn, donserige hare wat jy dalk op sy wangetjies, ore, rug, skouers en bo-arms mag sien, word lunago genoem. Jou baba was oortrek hiermee terwyl hy in die baarmoeder was. By ’n voltermynbaba sien mens dit nie meer nie, maar dis nog sigbaar by premature babas (voor 37weke) of vroeë babas (ná 37 weke, maarvoor 40). Dit vryf stelselmatig af.

#12

Babas wat ná 40 weke gebore word, het heel dikwels lang vingernaels en verrimpelde velletjies.

#13

Jy kan ligte pienk vlekke op jou baba se gesig, sy ooglede, tussen sy oë, op sy wenkbroue en in die agternekvou sien. Dit is plat, verwyde haarbuisies wat binne ’n paar maande verdwyn.

#14

Soms laat tangverlossingsmerke, maar dit verdwyn ook binne ’n paar dae.

#15

As jy ’n vaginale geboorte het, kan jou baba se koppie ’n langwerpige vorm hê. Die skedelbene van pasgebore babas is nog soepel en word deur sterk membrane aanmekaar gehou. Namate jou baba se kop deur die geboortekanaal beweeg, “skuif” die skedelbene oormekaar (dit word vervorming genoem) en dit vergemaklik die deurgang deur die bekkenbene. Dit beskerm die brein teen beserings en gee jou baba se kop die langwerpige vorm. Die vorm van sy kop begin binne minute ná sy geboorte verander. Keisersnee-babas het ronder koppies omdat hulle nie deur so ‘n vervormingsproses gegaan het nie.

#16

Binne minute ná jou baba se geboorte sal sy velkleur van bloupers na helderpienk verander wanneer hy sy longe vir die eerste keer gebruik. Dit duur effens langer voor sy hande en voete pienk word omdat sy bloedsomloop aanvanklik maar traag is. Babas word soms met ’n handdoek gevryf om dit aan te help.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees