Wat is groeikaarte?

akkreditasie
Alle pasgeborenes kry een, en met elke dokters- of kliniekbesoek neem jy dié belangrike stukkie papier saam: jou kind se groeikaart. Maak jy kop of stert uit van die Pad na Gesondheid-kaart? En kan jy saampraat as ander ma’s persentiele begin vergelyk? Hier is alles wat jy moet weet.

Hoe op dees aarde kan ’n dokter of klinieksuster bepaal of kinders – veral babas en peuters – se gewig en lengte normaal is en na wense toeneem? Met ’n groeikaart.

Die amptelike groeikaarte wat ons in Suid-Afrika gebruik is in die 1970’s deur die National Center for Health Statistics in Amerika uitgereik en word sedertdien wêreldwyd as die standaard-groeikaart aanbeveel. Hoewel klinieke landwyd nog dié ou kaarte gebruik, is dit in die jaar 2000 opgedateer en staan dit sedertdien bekend as die CDC- (Centers for Disease Control) kaarte.

“Die ou kaarte moes destyds dringend hersien word omdat dit gebaseer was op wit middelklas-kinders uit Ohio in Amerika, geboortgewig-inligting uit die jare 1929 tot 1975 en babas wat hoofsaaklik formulemelk gekry het,” verduidelik Dorothy van der Spuy, ’n dieetkundige van Kaapstad wat in babas en kinders spesialiseer.

Een standaard vir almal?

Beteken ’n standaard-groeikaart dat alle babas oor dieselfde kam geskeer word? “Nee,” sê suster Erika Janutsch van die Helping Hands-kliniek in Durbanville, Kaapstad. “Die groei en ontwikkeling van babas wat vroeg gebore is of dié met sekere sindrome of spesiale toestande soos serebrale gestremdheid word op verskillende kaarte uitgewerk.”

En wat van meisies en seuntjies? Dorothy sê die generiese kliniekkaarte wat ons op die oomblik nog in Suid-Afrika gebruik, tref geen onderskeid tussen geslagte nie, maar daar is wel kaarte beskikbaar wat dit doen. “Die nuwe groeikaarte wat op die WGO se inligting geskoei gaan word, gaan wel verskillend wees vir meisies en seuns.” En dit is belangrik, want boeties en sussies groei teen ’n verskillende pas.

Verskille in kinders se groeipatrone tot bykans vyfjarige ouderdom baie sterker beïnvloed word deur voeding, sosio-ekonomiese omstandighede en gesondheidsorg as oorgeërfde of etniese faktore.

Van kop tot tone

Afmetings van babas se gewig, hul lengte en hul kopomtrek is almal belangrike aanwysers van hul groei en ontwikkeling. Die Departement van Gesondheid lê egter die grootste klem op gewigmetings en beveel aan dat babas in die eerste 6 weke weekliks en daarna maandeliks geweeg word en dat dié afmetings op hul kaarte uitgestippel word.

Die doel van die gereelde gewigmetings is voor die hand liggend: om te bepaal of jou kind genoeg kos kry of nie.

“’n Skielike afplatting in ’n baba of jong kind se gewig dui nie altyd op ’n ernstige probleem nie, veral nie as dit ’n eenmalige gebeurtenis is of as dit rondom 9 maande gebeur nie. Wees laasgenoemde te wagte, want dit is in dié tyd dat babas gewoonlik ’n bietjie meer aktief raak en kan gewig verloor,” sê Erica.

Lengtemetings word baie minder gereeld as gewigmetings gedoen. Erica sê kinders wat ondervoed is se lengtekurwe sal dit nie dadelik weerspieël nie, maar dié kurwe gee tog ook belangrike inligting.

Dorothy meen gereelde lengtemetings (wat jou help om ’n lengtekurwe te trek) is veral nuttig as jy dink jou kind kan oorgewig wees. “Dit is baie belangrik om jou kind se lengte-persentiel (waar op die kaart hy lê) ook in ag te neem as jy bekommerd is oor ’n hoë gewig-persentiel. Lang ouers het dikwels lang kinders, wat ’n te hoë gewig vir ’n spesifieke ouderdom in beter perspektief kan plaas.

“Die ideaal is om die gewig- en lengtekurwes op dieselfde blad te kan uitstippel sodat jy mooi kan vergelyk hoe jou kind vaar, maar ongelukkig maak ons standaard-groeikaarte nie daarvoor voorsiening nie.”

Metings van jou baba se kopomtrek is ook belangrik omdat die afstand rondom die grootste deel van jou kind se kop leidrade kan verskaf oor kinders se breinontwikkeling. Wanneer ’n baba se kop baie groter of baie kleiner as die meeste ander babas s’n is, of as die omtrek ophou toeneem of te skielik te veel toeneem, kan daar ’n probleem wees.

Hoe lank gaan my kind wees?

As jou kind van kleins af nader of bo die 95ste persentiel lê wanneer haar gewig gemeet word, beteken dit nie sy gaan altyd swaarder as haar maats wees nie.

Erika sê sy het dit al dikwels teëgekom dat sommige babas besonder vinnig groei en in hul eerste jaar in die boonste persentiele lê voor hulle skielik na ’n meer gemiddelde gewig begin afplat. “Ek vind dit veral wanneer hierdie kinders se ouers nie uitsonderlik groot is nie.”  

Maar as jou kind se lengtekurwe van kleins af bo die 95ste persentiel getrek word en jy of haar pa self bo ander uittroon, het sy waarskynlik ’n goeie kans om later hoofdoel te speel.

Mense gebruik ook ander metodes om te bepaal hoe lank hul kinders eendag gaan wees. Hoewel nie een van hierdie berekenings ooit heeltemal in die kol kan wees nie, is party daarvan tog ’n maatstaf, soos die een waar albei ouers se lengte bymekaargetel word en dié totaal dan deur twee gedeel word. Kinders behoort binne 10 cm van dié lengte te wees.

Jy het sekerlik ook al gehoor van die “2 jaar maal 2”-berekening. Daarvolgens verdubbel jy jou seun se lengte op 2-jarige ouderdom en siedaar – jy kry sy volwasse lengte. Om jou dogter s’n te bepaal, moet jy haar lengte op 18 maande verdubbel.

In ’n ander toets word kinders se huidige lengte en waar hulle op die groeikurwe lê as veranderlikes gebruik om ’n voorspelling te maak. Jy kan van hierdie toetse gaan doen op: http://pregnancyandbaby.com/childheight.php

Wat is normaal?

GEWIG:

Wat gewig betref kan jy die volgende as normaal vir ’n voltermynbaba beskou:

  • Teen 2 weke:

Jou baba herwin haar geboorte-gewig en sit gemiddeld 1kg per maand aan. Dit kos borsbabas soms ’n bietjie langer as 2 weke om dié mylpaal te bereik.

  • Teen 3 maande:

Jou baba sit van nou tot 6 maande gemiddeld 0,5 kg per maand aan.

  • Teen 5 maande:

Jou baba het haar geboortegewig verdubbel.

  • Teen ’n jaar:

Jou baba het haar geboortegewig verdriedubbel en sit van nou tot sowat 3 jaar oud gemiddeld 0,25 kg per maand aan.

  • Teen 2 jaar:

Sy weeg 4 keer soveel as met haar geboorte.

LENGTE:

  • Geboorte tot 12 maande:

Jou baba het sowat 25 cm gegroei.

  • 1 tot 2 jaar:

Sy groei ’n verdere 13 cm.

  • 3 tot 4 jaar:

Iewers tussen 3 en 4 jaar verdubbel jou kind haar geboortelengte en van 3 jaar tot puberteit groei kinders sowat 5 cm per jaar.

KOPGROOTTE:

Teen eenjarige ouderdom het normale babas se kopomtrek vinnig tot om en by 47 cm toegeneem; daarna is die groeikoers heelwat stadiger tot hul kopomtrek teen sesjarige ouderdom ’n gemiddeld van 55 cm teen sesjarige ouderdom bereik.

Normale groei vir babas en kinders se kopomtrek lyk so:

  • tot 3 maande:

2 cm per maand (die gemiddelde kopomtrek by geboorte is 35 cm)

  • 4 tot 6 maande:

1 cm per maand

  • 6 tot 12 maande:

0,5 cm per maand

  • 1 tot 2 jaar:

2 cm per jaar

Oor persentiele en persentasies

Op jou kind se Pad na Gesondheid-kaart is daar 4 duidelike kurwes of, soos sommiges daarna verwys, paaie.

  • Die heel boonste een word die 97ste persentiel genoem;
  • Dan is daar die een wat effens donkerder gedruk word, die 50ste persentiel;
  • Daaronder is die derde persentiel
  • En dan is daar ’n laaste kurwe wat 60% van die 50ste persentiel genoem word.

Wat beteken dit alles?

Duisende kinders is oor baie jare geweeg en gemeet om te bepaal wat die gemiddelde gewig en lengte vir kinders op ’n bepaalde ouderdom is. Hierdie gemiddeld het die vyftigste-persentielkurwe geword en dit beteken uit 1 000 kinders sal 500 kinders bo en 500 kinders onder dié kurwe lê. 30 uit hierdie 1 000 kinders se gewig sal bo die 97ste persentiel lê en 970 s’n daaronder.

“Kinders behoort iewers tussen die 97ste persentiel en derde persentiel te lê,“ sê Erika. Slegs 3% van kinders lê bo die 97ste per-sentiel en slegs 3% onder die derde persentiel. As jou kind dus hier rond lê, is hy deel van ’n baie klein groepie kinders. Op die pad of sypaadjies van die vyftigste persentiel is waar die meeste kinders lê.

Persentiele is dus by uitstek afmetings wat wys waar jou kind is in vergelyking met ander. En hoe hoër die persentiel, hoe groter is jou kind in vergelyking met ander van dieselfde ouderdom en geslag. Hoe laer die persentiel, hoe kleiner is jou kind. As ’n eenjarige se gewig op die 97ste persentiel lê, weeg net 3% van kinders sy ouderdom meer as hy en 97% weeg minder.

Moet egter nie te veel aandag skenk aan waar jou kind op sy groeikaart lê nie. Fokus liewer op die pas waarteen hy groei. As hy op sy groeikurwe bly groei – ongeag of hierdie kurwe bo of onder lê – ontwikkel hy normaal.

Kinders behoort nie onder die heel onderste kurwe te lê nie. Dit sou beteken hulle is baie ondergewig. ’n Ander aanduiding dat ’n kind nie na wense groei nie, is as sy gewig- of lengtekurwe oor ’n tydperk van 2 maande of ná ’n paar agtereenvolgende afmetings platter word of daal.

/>

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees