Wat sê daai poefdoek

akkreditasie
Die inhoud van jou baba se doeke is 'n waardevolle leidraad tot sy gesondheid

Langverwagte vuil doeke het al menige ma vreugdedanse laat uitvoer. Of haar bekommerd laat frons as iets nie normaal lyk nie. Maar wat is normaal? Jou baba se stoelgang verander voortdurend na gelang van sy dieet. Hier is wat jy moet weet ...

Eerste doeke

Baba se eerste vuil doek ná geboorte bevat ’n swart, taai, teeragtige en gelukkig reuklose verrassings- pakkie wat nogal moeilik is om van daardie piepklein boudjies af te vee. Hierdie stoelgang word mekonium genoem en jou baba kan dit die eerste twee tot drie dae ná geboorte passeer, verduidelik suster Linette Louw van Port Elizabeth.

“Anders as ander stoelgang bevat mekonium geen afvalprodukte van kos nie; net produkte wat die fetus in die baarmoeder ingesluk het, soos vrugwater. Kolostrum (die eerste borsmelk) werk soos ’n
lakseermiddel om die derm van mekonium te suiwer.”

Net melk

Ná die mekonium word jou baba se stoelgang bepaal deur die soort melk wat hy drink, aangesien dit tot op vier maande oud sy enigste voeding is. Daar is ’n duidelike verskil tussen die stoelgang van babas
wat borsmelk en formulemelk drink.

Borsbabas se stoelgang is gewoonlik mosterdgeel en taamlik waterig en ietwat klonterig met ’n mosterdsaadjie-tekstuur. Dis feitlik reukloos. Borsbabas kan enigiets van 10 vuil doeke in een dag tot
een vuil doek in 10 dae hê, sê Linette. “Min stoelgange beteken eenvoudig dat daar nie baie uitskeidingsprodukte oorbly ná vertering nie.”

Bottelbabas se stoelgang is gewoonlik fermer met ’n groter verskeidenheid reuke (sterker as by borsmelk) en kleure. Koeimelkformules veroorsaak byvoorbeeld gewoonlik geelbruin stoelgang, terwyl ander formules donkergroen stoelgang tot gevolg het, veral as dit met yster verryk is, verduidelik
Linette.

“Dis normaal vir ’n bottelbaba om een tot vier stoelgange per dag te hê, maar dis nie ’n krisis as baba soms ’n dag oorslaan nie, mits die stoelgang steeds sag (soos tandepasta) is.”

Vaste kos

Sodra baba vaste kos eet, verander sy stoelgang weer – en dié slag het dit beslis ’n sterker klankie.
Omdat sy dieet nou meer veelsydig is, spog sy stoelgang met ’n verskeidenheid reuke, kleure en teksture. Moenie verbaas wees as jy die doek oopslaan en dis helderoranje nie – waarskynlik die gevolg
van ’n wortelmaal.

Aanvanklik word baie onverteerde produkte uitgeskei. Namate ’n groter verskeidenheid voedsel by die dieet gevoeg word, word die stoelgang dikker en donkerder en ruik dit ál slegter.

Is my baba hardlywig?

Hardlywige babas sukkel meestal om stoelgang te passeer en sal hard moet druk om dit uit te kry, gewoonlik met ’n rooi gesiggie en heelwat ongemak, sê Linette. Die stoelgang is klein, harde, droë bolletjies.

Borsbabas ly baie selde aan hardlywigheid. Hardlywige babas kan sukkel met krampe en winderigheid
en soms kan die harde stoelgang skeurtjies in die anus veroorsaak, wat tot bloederigheid in die doek kan lei.

Wat jy kan doen:

  • Verhoog jou baba se vloeistofinname.
  • Gee gekookte, afgekoelde water of rooibostee met bruinsuiker (1 teelepel bruinsuiker per 25 ml vloeistof). Moenie die bruinsuiker in baba se melkbottels sit nie, en moenie melkvoedings vervang nie.
  • ’n Gliserien-setpil is soms nodig. Soms moet jy jou baba se formulemelk verander – bespreek dit eers met jou dokter of klinieksuster.
  • Voeg meer vesel by ouer babas se dieet: Pruime en appelkose werk goed.

Pre- en probiotika

Studies wys aanvullende probiotika (gesonde bakterieë wat normaalweg in die dermkanaal voorkom) kan help met koliek, diarree en hardlywigheid, sê Linette. Gee dit gerus ook vir ’n baba wat antibiotika
moet drink.

Prebiotika (elemente wat die groei van gesonde bakterieë stimuleer) kom natuurlik in die liggaam voor en aanvullings kan met vrymoedigheid vir babas gegee word. Dit word trouens by sekere melkformules
en babakosse gevoeg om te help met die spysvertering, sê Linette.

Rooi lig

Klop by die dokter aan as baba...

  • WATERIGE, SLYMERIGE EN SLEGRUIKENDE STOELGANGE HET. DIT KAN DIARREE WEES EN ONTWATERING VEROORSAAK.
  • ROOI, SWART OF WIT STOELGANGE HET.
  • BLOED EN SLYM IN SY STOELGANG HET.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees