Om hierdie gids uit te druk, laai die PDF "watersafetydrukstuk.pdf" hier af.

Jou swembad

  • Jou swembad moet ten volle omhein wees met ’n hek wat vanself toemaak, toeknip en sluit. Dring aan op SABS spesifikasies. Die slot moet kinderbestand wees.
  • Maak seker daar is nie ’n potplant of boom wat kinders kan gebruik om oor die heining te klouter nie.
  • Moenie in die gewoonte kom om die hekkie oop te laat of oop te stut nie.
  • Die swembadnet of rigiede seil moet altyd op wees wanneer niemand swem nie. Maak seker jy verstaan hoe om dit reg te gebruik en laat diens dit volgens die installeerder se vereistes. Onthou, self ’n net van goeie gehalte is net veilig wanneer dit reg geïnstalleer en reg vasgemaak is.
  • ’n Swembadalarm (daar is verskeie soorte op die mark) sal jou waarsku wanneer iemand in die water is, maar dit moet nooit jou enigste veiligheidsmaatreël wees nie.
  • ’n Hekalarm sal afgaan as die hekkie oop gaan, maar kan ook nie jou enigste maatreël wees nie.

Jou optrede

  • Hoewel swemlesse belangrik is sodra jou kind oud genoeg is, moet jy nooit op swemspeelgoed of swemlesse staatmaak om jou kind te beskerm nie. Swemlesse maak jou kind nie ‘verdrinking-veilig’ nie.
  • Kinders mag nooit sonder volwasse toesig swem nie, of alleen by die swembad speel nie. Waarsku jou kinders ook teen wild speel langs die swembad.
  • Wanneer jy oor swemmende kinders waak, mag jy nie toelaat dat enigiets jou aandag aftrek nie.
  • Leer hoe om KPR te doen.
  • Wanneer jou kind oud genoeg is, laat oefen jou kind om met klere en al te dryf.
  • Leer jou kind om nooit te duik of spring in onbekende water nie, of wanneer daar mense in die pad is nie.
  • En die bure se swembad? As die veiligheidsmaatreëls nie na wense is nie, maak seker jou kinders kan nie daar uitkom nie.
  • As jou kinders bedags by ’n oppasser tuisbly, maak seker sy kan swem en dat sy al die veiligheidsmaatreëls verstaan en dat sy opgelei word in KPR.

Nog wenke

  • Moet nooit kinders alleen laat in die bad nie. Ignoreer die telefoon en deurklokkie, of neem jou kind saam.
  • Gebruik ’n nie-gly matjie in die bad.
  • Toilette moet met ’n veiligheidsknippie toe gehou word.
  • Maak baddens, emmers en klein plasswembadjies leeg as jy klaar is, en moet dit nie laat rondstaan nie.
  • Sorg dat jou visdammetjie ook beveilig is.
  • Maak seker die tuinier verstaan ook die belangrikheid van waterveiligheid sodat hy nie die hekkie ooplaat of die net verwyder nie.
  • Sorg dat kinders nie toegang het tot die jacuzzi nie.
  • As julle naby ’n rivier, vlei of dam woon, maak seker jou tuin is omhein sodat die kinders nie by die waterbron kan kom nie.
  • Gebruik altyd reddingsbaadjies as julle op ’n boot vaar.
  • Hou jou kinders dop op die strand en moenie swem waar daar nie lewensredders is nie.
  • Leer noodnommers uit jou kop en maak seker dat wieookal jou kinder oppas ook die nommers ken en weet wat om in ’n noodgeval te doen.
  • Versprei hierdie drukstuk by die skool of heg dit aan ’n e-pos en stuur dit vir almal wat jy ken met kinders of ’n swembad.

Bronne: Childsafe, Netcare911

Om hierdie gids uit te druk, laai die PDF-dokument watersafetydrukstuk.pdf hier af.