Wiegiedood

akkreditasie
Wiegiedood is ’n geheimsinnige en vreesaanjaende verskynsel. Maar jy kan terugveg – kundiges het die laaste jare met ’n rits voorkomingsmaatreëls en produkte vorendag gekom wat jy kan inspan om die gevaar te verklein dat jou baba aan wiegiedood sterf. Hier is alles wat jy moet weet.

Wat is wiegiedood?

Wanneer ’n baba skielik weens ’n onverklaarbare rede sterf, word dit gewoonlik as ’n wiegiedood beskou.
Wiegiedood word nie deur ’n spesifieke siekte veroorsaak nie. As dokters geen rede vir ’n baba se dood kan vind nadat ’n volledige ondersoek, wat ’n nadoodse ondersoek insluit, gedoen is nie, word wiegiedood – oftewel skielike-babasterfte-sindroom – as die oorsaak van die dood aangedui.

As dokters wel ’n moontlike oorsaak vir die dood opspoor – soos ’n ongeluk, ’n infeksie of ’n voorheen onbekende probleem soos ’n aangebore afwyking – word dit nie wiegiedood genoem nie.

Wat veroorsaak dit?

Die eenvoudige antwoord is dat niemand vir seker weet nie. Moontlike oorsake soos versmoring, verstikking, geboorte-afwykings, metaboliese abnormaliteite en infeksies is deur navorsing uitgesluit.

Ná talle studies kon navorsers nog net bepaal dat daar sekere faktore is wat die risiko van wiegiedood verhoog, maar daar is geen spesifieke oorsaak vasgestel nie en daar bestaan ook geen spesifieke behandeling of genesing nie.

Wanneer is die risiko die hoogste?

Wiegiedood kom selde by babas jonger as ’n maand voor. Dokters verskil ook oor die tydperk waarin babas die kwesbaarste is. Sommige meen dis tussen 1 en 2 maande, ander meen die risikotydperk duur tot op 6 maande, en nog ander meen dat babas selfs tot op die ouderdom van ’n jaar kwesbaar is.

Volgens die Britse Foundation for the Study of Infant Deaths vind 90% van wiegiesterftes plaas by babas onder die ouderdom van 6 maande.

Watter babas het die grootste risiko?

Wiegiedood kan enige gesin tref, maar daar is tog faktore wat jou baba blootstel aan ’n groter risiko vir wiegiedood:

  • Meer seuns as meisies sterf aan wiegiedood.
  • Babas wat vroeg gebore is (voor 37 weke) is meer kwesbaar.
  • Babas met ’n lae geboortegewig (minder as 2,5 kg) is meer kwesbaar.
  • Tweelinge of meerlinge.
  • Babas wat ’n boetie of sussie het wat weens wiegiedood dood is.
  • Blootstelling aan sigaretrook, of wanneer die ma dwelms of alkohol misbruik (voor en ná die geboorte).
  • Swak voorgeboortelike sorg.
  • As die ma jonger as 20 is.

Wat kan ek doen?

Daar is ongelukkig geen manier waarop ’n ouer wiegiedood kan voorkom nie, maar daar is heelwat dinge wat jy kan doen om die gevaar te verminder. Kenners meen die belangrikste hiervan is om jou baba op sy rug te laat slaap en hom glad nie aan sigaretrook bloot te stel nie.

Slaap:

Laat jou baba reg van geboorte af op sy rug slaap. Ouers vrees dikwels dat babas wat op hul rug slaap, in hul slaap kan verstik, maar dokters sê gesonde babas sal nie verstik wanneer hulle so slaap nie. Dis baie veiliger as om baba op sy sy of maag te laat slaap.

Sommige kenners meen dat daar ekstra druk op baba se kakebeen geplaas word as hy op sy maag slaap. Dit vernou die lugweë en bemoeilik asemhaling. Daar is ook die bykomende gevaar dat ’n baba wat op sy maag slaap, die lug wat hy uitgeasem het weer kan inasem. In so geval verminder die suurstofvlak in sy liggaam en koolsuurgas neem toe.

Teen die tyd dat jou baba in sy bedjie begin rondrol (sowat 6 maande) het die risiko van wiegiedood afgeneem en is dit veilig om jou baba toe te laat om self sy eie gemaklike slaapposisie te vind.

Lê jou baba met sy voetjies aan die voetenent van die bababedjie neer sodat hy nie terwyl hy slaap dieper onder die beddegoed kan inwikkel nie.

Matras:

Gebruik ’n ferm matras wat skoon is en goed in die bababedjie pas sodat dit nie gate of gleuwe aan die kante laat nie. Daar is matrasse beskikbaar met gate in vir beter asemhaling en wat spesifiek ontwerp is om versmoring te voorkom. Waterbeddens, skaapvel, kussings, boontjiesakke, babanessies of ander sagte oppervlakke is nie geskikte slaapplek vir baba nie.

Beddegoed:

Moenie donskomberse, duvets, sagte speelgoed of kussings naby jou baba sit nie. Maak seker jou baba kry nie te warm wanneer hy slaap nie. Bedek hom met net ’n ligte kombers wat nie verder strek as sy skouers nie.

Gebruik eerder sellulêre kombersies of lakens of ’n liggewig slaapsakkie wat nie te groot is nie (sodat baba nie daarin kan afskuif nie). Sommige navorsers reken dat as ’n baba te warm kry, verval hy in ’n dieper slaap wat dit moeiliker maak om wakker te word.

Sigaretrook:

Moenie rook, drink of dwelms gebruik terwyl jy swanger is nie en moenie toelaat dat jou baba aan passiewe rook blootgestel word nie. Babas van ma’s wat rook tydens swangerskap het ’n 3 keer groter kans om aan wiegiedood te sterf as babas van ma’s wat glad nie rook nie.

Een studie het selfs aangedui dat tot 40% van wiegiesterftes voorkom kon gewees het as die swanger ma nie gerook het nie. Moet niemand toelaat om in jou huis te rook nie, selfs nie eens in ’n ander vertrek met oop vensters of ’n waaier aan nie.

Borsvoed:

Borsvoed indien enigsins moontlik. Daar is bewyse dat borsvoeding moontlik kan help om die voorkoms van wiegiedood te verminder. Die rede hiervoor is nie duidelik nie, maar navorsers dink borsmelk help om babas te beskerm teen infeksies wat die voorkoms van wiegiedood kan verhoog. Dit verteer ook makliker en is genadiger vir baba se klein lugweë.

Fopspene:

Die gebruik van fopspene word verbind met die verminderde risiko van wiegiedood. As jy borsvoed, is dit beter om jou baba nie in die eerste maand ’n fopspeen te gee nie, maar dit is ook die tyd wanneer die risiko vir wiegiedood laag is. Daarna, wanneer borsvoeding gevestig is, kan jy met ’n fopspeen begin.

Navorsers beveel aan dat jy jou baba met ’n fopspeen laat slaap vir minstens die eerste 6 maande tot ’n jaar van sy lewe. Gebruik ook ’n fopspeen vir baba se slapies gedurende die dag.

Slaap by ma:

Kenners meen baba moet glad nie by ma in die bed slaap nie, aangesien dit die risiko van wiegiedood verhoog. Sommige ma’s meen borsvoeding is makliker wanneer die baba by hulle in die bed is, maar dokters beveel aan dat die baba in sy wiegie teruggesit word ná elke voeding. Dis egter ’n goeie idee vir ouers om baba se wiegie by hulle in die kamer te hou.

Hulpmiddels

Die drie belangrikste hulpmiddels op die mark om ouers te help om wiegiedood te probeer voorkom, is matrasse, monitors en kussinkies met sensors in. Kenners wys egter daarop dat nie een van hierdie produkte wiegiedood vir seker kan voorkom nie; dis hoogstens ’n maatreël om die risiko te probeer verminder.

Matrasse: Matrasse wat kan asemhaal verminder die risiko van versmoring.

Monitors: Daar is verskeie soorte monitors op die mark. Sommige monitor bloot die geluide in die babakamer terwyl ander ook aan ’n kamera in die babakamer gekoppel kan word sodat jy jou baba op ’n miniatuur-televisieskerm kan dophou.

Sensorkussings is ontwerp om ’n alarm te laat lui wanneer jou baba vir ’n sekere tydperk (normaalweg sowat 20 sekondes) geen beweging toon nie. Die kussing word tussen die vloer van die bababedjie en die matras geplaas, dus moet die bababed ’n soliede vloer hê.

Navorsing en statistiek

Volgens die webwerf MayoClinic.com het dokters deur die jare ’n verskeidenheid moontlike oorsake van wiegiedood uitgeskakel. Daaronder val versmoring, verstikking, geboorte-afwykings, metaboliese abnormaliteite en infeksie.

Die vraag waarom wiegiedood voorkom, bly steeds onbeantwoord, maar kundiges vermoed wel daar is ’n paar sondaars.

Daar is byvoorbeeld ’n moontlikheid dat die baba ’n biologiese “kwesbaarheid” kan hê soos ’n afwyking van die hart of brein. Wanneer dit gekombineer word met stressors in die omgewing, soos ’n baba wat op sy maag slaap, kan wiegiedood voorkom.

In onlangse navorsing is gevind dat daar moontlik ’n verband kan wees tussen wiegiedood en Lang-QT-sindroom – ’n subtiele elektriese versteuring in die hart wat skielike, uiters vinnige hartklop veroorsaak. Volgens dié studie het bykans 1 uit 10 babas wat aan wiegiedood gesterf het, ’n aangebore afwyking gehad in een van die gene wat verantwoordelik is vir Lang-QT-sindroom. ’n Eenvoudige elektrokardiogram kan vasstel of jou baba aan dié sindroom ly.

Hoewel geen statistiek beskikbaar is oor die hoeveelheid wiegiesterftes in Suid-Afrika nie, het navorsing in Amerika getoon dat sowat 50 sterftes uit elke 100 000 geboortes aan wiegiedood toegeskryf kan word.

In Brittanje is daar tans sowat 300 wiegiesterftes per jaar en hoewel dié syfer sedert 1991 met 75% gedaal het, is wiegiesterftes steeds die mees algemene oorsaak van dood by babas ouer as ’n maand.

• Baie dankie aan Dr S.P. Varughese, ’n pediater verbonde aan die Johannesburgse Hospitaal, vir haar hulp met hierdie artikel.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees