Wikkel daai lyfie: 0 tot 1 jaar

akkreditasie
Hier's ’n nuttige opsomming van wat daardie lyfie moet kan doen (en soms ook weer moet kan afleer) in die verskeie stadia.

Die eerste paar weke

Wat kan baba doen?

Jou baba beweeg in hierdie tyd nog glad nie willekeurig nie. Alle beweging word beïnvloed deur ’n klompie sogenaamde primitiewe reflekse soos:

Die gryprefleks wat basies beteken sy handjies is die meeste van die tyd toe.

Die skrikrefleks wat gestimuleer word wanneer baba se kop agtertoe val – baba bal dan sy handjies in vuisies en sy armpies skiet uit en gou weer in.

Die soekrefleks wat gestimuleer word wanneer jy aan sy wang, langs sy mond raak. Hiervolgens sal jou baba sy koppie in die rigting van die wang waaraan jy geraak het, draai. Dié refleks is ’n belangrike een vir voeding. 

Die skermrefleks wat weer beteken jou baba se arm en been sal aan dieselfde kant uitstrek as die rigting waarin hy sy koppie draai. Dié beweging is volgens kenners die begin van hand-oog koördinasie, omdat baba sy eie handjie só kan sien.

Hoe kan jy help?

Wieg jou baba gereeld stadig heen en weer.

Vermy rukkerige en onverwagse bewegings.

Begin teen die einde van week twee om jou baba te masseer (doen verkieslik ’n kursus in babamassering of raadpleeg ’n erkende boek of handleiding). Massering is ’n uitstekende manier om liggaamsbewussyn by hom te ontwikkel. Dít gee weer vir hom die sekuriteit wat hy nodig het om later gemaklik en met selfvertroue te beweeg.

2 tot 6 weke

Wat kan baba doen?

Aan die begin van hierdie tydperk is refleksbewegings nog steeds aan die orde van die dag hoewel dit stelselmatig sal begin verdwyn rondom ses weke. Verwag die volgende ten opsigte van hoe sy arms, hande en koppie beweeg:

  • Die armpies beweeg al meer, maar dit bly onwillekeurig. Soms is dit rukkerige bewegings en ander kere weer mooi vloeiend.
  • Die handjies raak ’n bietjie minder geklem en die lyfie is nie meer so erg opgekrul nie.
  • As hy op sy magie op die bed of ’n sagte mat lê, sal hy sy koppie begin oplig. En as jy hom al sittende vashou, sal hy sy koppie vir ’n wyle al kan regop hou.
  • As jy hom van ’n sittende posisie aan sy armpies optrek, kan hy begin om sy koppie in lyn met sy lyfie te hou.

Hoe kan jy help?

Laat hom so gereeld as moontlik op sy maag lê. Dit sal sy rug- en nekspiere sterk maak wat nodig is vir kopbeheer. Laasgenoemde is weer belangrik vir kruip.  ’n Klein babatjie kan mooitjies op sy maag bo-op mamma se bors lê, so doen dit gerus terwyl julle nog kan.  

Hang rondom vier weke ’n bewertjie bokant sy kop waar sy doek geruil word. Dit behoort hom aan te spoor om sy kop in die middel te hou en só sy nekspiere te versterk.

Help hom om sy beentjies te skop. Badtyd is ’n goeie tyd vir dié oefening.

6 tot 12 weke

Wat kan baba doen?

Baba begin nou heelwat meer beheer kry oor sy bewegings, veral oor dié van sy arms. Kyk wat gebeur nou met daardie armpies en kop:

  • Hy begin na voorwerpe slaan en reik selfs soms daarna uit.
  • Teen drie maande behoort jou baba sy kop regop te kan hou as hy op jou skoot sit. As hy op sy maag lê, behoort hy sy kop vir ’n rukkie teen ’n hoek van 45° te kan hou.

Hoe kan jy help?

Moedig elke klein slaan- of uitreikbeweging van jou baba aan, selfs al blyk dit aanvanklik keer op keer onsuksesvol te wees.

  • Streel die bokant van jou baba se vuis om hom aan te moedig om sy hand spontaan oop te maak (in teenstelling daarmee om dit oop te dwing).
  • Trek jou baba gereeld vanaf ’n lêende posisie op tot ’n sittende posisie. Dit sal daardie maagspiere sommer baie goeie oefening gee.
  • Maak steeds tyd vir magie lê. Begin dit ’n bietjie meer interessant maak deur ’n spieël of ’n oulike speelding voor hom neer te sit, sodat hy darem iets het om na te kyk. Of skaf ’n speelmat aan met verskillende teksture sodat hy iets het om aan te vryf of na te gryp.
  • Lê jou baba op sy rug neer en hang ’n bal met ’n klokkie naby sy voete. Die beloning van die klokkie wat lui elke keer as hy skop, is net die regte motivering om dit weer en weer te doen.
  • Moet nooit jou baba vir té lang tye in sy babastoeltjie hou nie. Dié statiese posisie doen jou baba geen gunste nie.
  • Laat jou baba op sy sy slaap, maar moet hom nie elke keer op  dieselfde sy neerlê nie. Dít bied baba die geleentheid om die spiere wat nodig is vir omrol en kruip, te ontwikkel. Jy kan ’n wiggie hiervoor gebruik of bloot ’n opgerolde handdoek om seker te maak boeta bly op sy sy.

3 tot 6 maande

Wat kan baba doen?

Groot dinge begin nou gebeur waarvan omrol en sit waarskynlik die heel opwindendste is.
Jou baba begin homself opstoot as hy op sy maag lê – aanvanklik op sy elmboë en later met reguit arms. Soos sy selfvertroue meer raak en die spierbeheer verbeter, begin hy doelbewus na voorwerpe naby hom uitreik.

Teen ongeveer vyf maande sal jou baba wanneer hy op sy rug lê, met sy voetjies vasskop en sy ruggie hol maak (kenners noem dit “bridging”). Vanuit hierdie beweging sal hy dan na ’n tydjie “per ongeluk” omrol op sy magie. ’n Paar keer se per ongeluk omrol motiveer hom dan om te probeer om bewustelik om te rol en nou begin hy dit “oefen” totdat hy dit teen so ses maande regkry. Teen ses maande behoort jou baba óf van sy maag na sy rug te kan omrol (en nie net per ongeluk nie) óf van sy rug af na sy maag. Sommige babas kan teen hierdie tyd al albei kante toe omrol.

Voete-speel is ’n ander belangrike bewegingsmylpaal en dit help baba onder meer om sy maagspiere sterker te maak. Hy druk ook graag sy voetjies in sy mond!

Hy hou daarvan om op jou skoot te staan.

Iewers tussen vyf en ses maande gaan jou baba leer om te sit. Hy sal aanvanklik vorentoe leun met sy handjies om homself te stut, maar teen ongeveer ses maande sal hy moontlik sonder hierdie ondersteuning regkom.

Hoe kan jy help?

  • Sit-, balanseer- en rolvaardighede is nou van die allergrootste belang vir jou baba want dít is die dinge wat die grondslag vorm vir bykans alle verdere motoriese ontwikkeling.
  • Laat hom beweeg! Wieg, rol en swaai jou baba gereeld. Speel vliegtuigie deur hom (stadig!) deur die lug te vlieg. Dit is baie belangrik vir sy spierontwikkeling en ruimtelike persepsie. Jy kan baie van dié oefeninge maklik tydens doekomruil- en aantrektyd inspan deur sy beentjies te buig en hom herwaarts en derwaarts te rol soos jy die doek onder sy boudjies inskuif.
  • Gebruik aksierympies om hom saam met jou te laat beweeg.
  • Trek baba in ’n stewige kartonboks in die huis rond of swaai hom rustig in ’n hangmat.
    Plaas sy gunsteling speelgoed soms net so effens buite sy bereik sodat hy moet werk om dit in die hande te kry.
  • Begin om jou baba laer om sy lyfie vas te hou. Só dwing jy hom om sy nek- en maagspiere te gebruik om regop te bly.
  • Skoot-staan is ’n ander speletjie wat jou baba se groot motoriese beweging teen ses maande ’n groot hupstoot kan gee. Laat hom dus gereeld op jou skoot staan sodat hy kan voel hoe dit is om gewig op sy bene te dra. Jy kan hom later in dié posisie laat bons.
  • Gee met ’n groot glimlag erkenning vir elke omrol-poging .

6 tot 9 maande

Wat kan baba doen?

Waar jou baba voorheen altyd gemaklik gevoel het op sy rug, begin hy dit nou byna verafsku en sal hy steen en been kla as jy hom op sy rug neerlê om ’n doek om te ruil. Jou baba wil nou sit, op sy maag omrol en kruip.

Jou baba behoort iewers in hierdie tydperk alleen te kan sit. Teen nege maande kan hy self gaan sit uit ’n ander posisie (soos lê) en weer in ’n ander posisie inbeweeg vanuit die sittende een. Soos met die omrol, gebeur kruip ook soms ‘per toeval’. Jou baba beland op een of ander manier in die kruipposisie, wieg ’n bietjie heen en weer, val plat en probeer die volgende dag weer. Só sal dit aanhou totdat hy net een dag laat waai.

Baie babas begin agteruit kruip, so jy behoort geensins bekommerd te wees as jou baba een van hulle is nie. Die meeste babas kruip goed teen nege maande hoewel sommige eers op so 10 maande kruip. Kruip word deur bykans alle kenners as baie belangrik en bevorderlik bestempel - veral vir hand-oog koördinasie en bilaterale integrasie.

Laasgenoemde gaan oor die vloeiende gebruik van die twee helftes van die liggaam wat onder meer belangrik is vir latere vaardighede soos huppel, knip en lees. As jou baba nie kruip nie en tekens toon dat hy wil begin loop, raadpleeg ’n arbeidsterapeut.

Hoe kan jy help?

Leer jou baba sit vanuit ’n lê-posisie: hou hom vas aan een arm; laat rol hom na die teenoorgestelde kant en trek hom dan in ’n sittende posisie op. Dít leer daardie spiere die gevoel van beweging.
Oefen die skouerspiertjies deur hom te laat skink – van die een plastiekbekertjie na die ander. Die gewig van die water in die bekertjie verskaf die weerstand wat nodig is om die skouer- en bo-armspiere te oefen. Alle babas is boonop mal oor die skink-speletjie!

Laat hom soveel soos wat hy wil op jou skoot bons.

Terwyl hy op jou skoot sit, lig jou een been net genoeg om ’n balansreaksie by hom uit te lok (dit verg regtig net ’n baie effense lig). Dít sal sy vermoë om sy balans te hou, bevorder.
Teen nege maande kan jy swemlesse begin oorweeg (sien meer hieroor by Hoe kan jy help? onder 3-4 jaar).

Moedig kruip aan deur onder meer speelgoed net buite sy bereik te plaas. Of sit met jou bene uitgestrek op die vloer en plaas jou baba op sy maag, dwars oor jou bene, met sy arms en bolyf aan die een kant van jou bene en sy bene aan die ander kant. Dít plaas hom in ’n natuurlike kruipposisie en dwing hom dalk om gewig op sy arms en bene te plaas.

As hy reeds behendig is met die kruip, maak die kruip ‘moeilik’ deur hom oor sagte struikelblokke soos kussings en komberse te laat kruip.

9 tot 12 maande

Wat kan baba doen?

Daardie eerste tree is die groot bewegingsmylpaal waarna almal in dié tyd-perk uitsien, maar dit is beslis nie gewaarborg – en ook nie belangrik nie – dat jou baba teen 12 maande gaan begin loop nie. Sommige kinders loop al op 9 maande, terwyl ander dit op 16 maande begin doen. In hierdie tyd:  

  • Begin jou baba homself optrek om te kan staan – teen basies enigiets van jou been tot dié van Wagter of ’n tafelpoot. Aan die begin sal hy lekker hard op sy sitvlak terug grond toe val, later sal die landing bietjie sagter word. Soos hy meer geoefen raak met die opstanery sal hy begin heen en weer wieg op sy bene in die staande posisie.
  • Die bogenoemde gewieg op sy bene kan vir weke aanhou voor hy eindelik sy eerste treetjie vorentoe gee, natuurlik terwyl hy aan iets vashou. Hierná begin hy al meer treë gee terwyl hy aan die meubels vashou. Kenners noem dít steunloop.
  • Baba beweeg ook maklik vanuit een posisie na ’n ander – hy gaan byvoorbeeld van sit na half-kniel; en van kniel, na staan, en weer terug.

Hoe kan jy help?

  • Trek vir jou baba gemaklike klere aan wat kruip, rol en optrek maklik maak.
  • Laat staan jou baba teen die bad wanneer jy hom uittrek vir badtyd en moedig só steunloop aan.
  • Laat hom in, uit, bo-oor en onderdeur dinge kruip, selfs teen ’n steilte soos ’n glyplank uit.
  • Laasgenoemde sal veral sy skouerspiere se sake werk.
  • Leer jou baba om agteruit met trappe af te klim.
  • Skaf ’n waentjie (of speel-speel grassnyer) aan wat hy  kan stoot. Dít het al menige kind “leer loop”.
  • Hou aan die haak-gedeelte van ’n klere-hanger vas, en laat jou baba die dwars-gedeelte vashou. “Trek” nou jou baba treetjie vir treetjie vorentoe.
  • Strek jou hande uit na jou baba wanneer hy staan en moedig hom aan om na jou toe te beweeg of hou sy hande vas as hy begin waggel.gie-tyd is nog steeds belangrik om daardie nek- en rugspiere te ontwikkel.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees