A tot Z van velsorg vir babas

akkreditasie
Wenke vir alles wat met badtyd en babavelsorg te doen het sodat jou klein liefding gesond, gelukkig en skoon is.

A- Aknee

Aknee is nie iets wat net tieners kry nie. Tot 40 persent van pasgeborenes kry dit ook, tipies wanneer hulle ’n paar weke oud is. Die oorsaak is jou swangerskapshormone wat nog deur baba se lyfie sirkuleer. Moenie daaraan druk of enigiets daaraan smeer nie! Dit pla jou baba nie en dit sal vanself verdwyn.

B- Babapoeier

Babapoeier werk goed as jou baba geneig is om te skaaf. Dit absorbeer ook oortollige nattigheid. Gooi die poeier eers in jou hande – moet dit nie direk op baba sprinkel nie, want dit kan maklik in ’n wolk uitkom wat baba kan inasem en laat stik.

C- Cm

Cm: 5 tot 10. Dis hoe diep jou baba se badwater in sentimeter moet wees.

D- Druk

Druk jou baba ná badtyd liggies met ’n sagte handdoek droog. Sy vel is baie sensitief en ’n growwe gevryf kan hom seermaak.

E- Elke dag bad

Elke dag bad is regtig nie nodig nie, veral as baba dit nie geniet om te bad nie. Gee hom gerus elke tweede dag net ’n sponsbad: Vee hom met ’n sagte waslap skoon, in al die voutjies, agter sy ore, in sy nek en tussen sy vingers en tone. Doen die boudjies laaste.

F- Fabrikaat van bababadproduk

Kies ’n gerespekteerde, betroubare handelsmerk.

G- Genitalieë

Die vagina is selfreinigend. Moet dus nie diep in jou babadogtertjie se geslagdele was nie. ’n Wit afskeiding is normaal en moet uitgelos word. ’n Babaseuntjie se voorvel moet ook uitgelos word. Die voorvel kan nog nie teruggetrek word nie. As jy dit probeer doen, kan jy dit beskadig. Beweeg die vel dus baie sagkens net sover as wat dit vanself kan wanneer jy hom was.

H- Harewas

Handel harewas eerste af. Hou jou baba met een arm en hand so vas dat sy koppie na agter en na onder lê. Sit jou duim en een van jou vingers oor sy ore. Met jou los hand giet jy water oor sy hare. Was dan met babasjampoe, en spoel af. Jy kan hom vir dié deel van die bad eers in ’n handdoek opgevou hou.

I- Items

Items wat jy gaan nodig hê tydens badtyd: bababad, nie-glip matjie of badstoeltjie, bekertjie om water oor baba te giet, sagte waslap of spons, sagte kappie handdoek, babareiniger, iets om onder jou knieë te sit as jy kniel by die groot bad en ’n badtermometer.

J- Jolyt in die bad

Babas vanaf ses maande wat al leer sit en speel het, sal badtyd werklik begin geniet. Dit kan ’n nat storie raak, maar moedig jou baba aan om te plas en te skop en speel. Gee ’n paar speelgoed ook, soos nestelkoppies. Bly baie naby, sommer met ’n hand op haar, sodat sy nie omdop nie.

As jou baba per ongeluk so spat dat water in haar oë beland, reageer kalm en vee dit met jou hand af. As baba nou al kan gewoond raak aan ’n bietjie water in die gesig, sal hare was en swemlesse in die toekoms aansienlik makliker wees. Bly steeds maar weg van badskuim – dis ’n plesiertjie wat kan wag vir die kleuterjare.

K- Katoen

Kies katoen en ander natuurlike materiale vir baba se klere en beddegoed. Was al jou baba se kleertjies voor hy dit begin dra. As sy vel besonder sensitief is, kan jy ’n spesiale waspoeier vir babas gebruik. Knip harde etikette uit die klere en maak seker nate is sag.

L- Liefdevolle aanraking

Liefdevolle aanraking soos wat tydens badtyd geskied, is vir jou baba baie stimulerend. Hy leer deur middel van sy hele lyfie sy omgewing ken en al die sensasies van ’n bad is vir sy sintuie soos ’n sessie by die gim vir ’n grootmens. Verwag dat hy lekker vaak en moeg sal wees ná ’n bad, want al die stimulasie is uitputtend ook.

M- Massering

Massering hou allerhande voordele in vir jou baba se gemoed en ontwikkeling. Oorweeg dit gerus om ’n kursus te volg, of smeer baba net liefdevol in met ’n spesiale babaroom of olie. Maak seker jou hande en die vertrek is lekker warm.

Begin deur sy beentjies te “melk” van sy bobeen tot onder by sy enkel. Streel dan sy voetjies bo en onder die sole. Doen dieselfde met sy arms en hande. Laaste kom die bors en rug aan die beurt. Sit jou hande plat op sy bors neer en streel na buite, en dan af met sy ribbebene. Maak klein sirkelbewegings al met sy ruggraat langs, en dan langer hale van sy skouers af na onder.

N- Naelstring

Jy kán jou baba bad voor die naelstring afgeval het. Maar hou dit kort en maak dan net seker dat jy die plekkie ná die bad besonder goed droogmaak. Ontsmet die wondjie dan met ontsmettingsalkohol sodat dit skoon is en kan uitdroog.

Moenie droë bloed probeer afkrap nie. Stel die plekke ná die bad aan ’n bietjie vars lug bloot. As jy te skrikkerig is vir die naelstringwond, kan jy die eerste bad uitstel tot nadat dit afgeval het. Pleks van bad kan jy jou baba dan net elke dag ’n bo-en-ondersponsbad gee.

O- Ore en oë

Hou jou nuwe baba se kop buite die water sodat haar ore droog bly. Jy kan ’n oorpluisie slegs gebruik om baie, baie sagkens die skulp van die oor skoon te maak as dit werklik nodig is. Moet nooit ’n oorpluisie in jou baba se oor druk nie. Ore is eintlik selfreinigend en die bietjie was wat daar sit, is in orde.

As die was vir jou baie dik lyk, gaan eerder dokter toe. Vee agter haar ore skoon, want dikwels loop melk af en gaan sit daar. As jou baba se ogies reiniging nodig het, gebruik ’n wattebolletjie wat met louwarm water klam gemaak is. Vee van die binnehoek by die neus af sagkens afwaarts en na buite.

P- pH

ph, of die suurvlak, van baba se vel. ’n Baba se vel is anders as ’n volwassene s’n, want dit is nog aan die ontwikkel. Jou baba se vel is dunner, vervaardig self bitter weinig sebum (wasagtige stof) en die beskermende suurmantel moet ook nog ontwikkel. Kies dus spesiale babavelsorgprodukte wat gemaak is om die beste versorging te bied vir ’n baba se dun, delikate vel.

Q- Quicksilver

Quicksilver is die outydse Engelse woord vir kwik ... ’n giftige metaal wat deesdae nie meer algemeen in koorspenne gebruik word nie. Skaf gerus ’n badtermometer aan, want dis nuttig en gerusstellend om te weet dat die temperatuur van die badwater net reg is (iewers tussen 38 en 40,8 grade Celsius).

R- Roetine

Moenie die waarde van ’n konsekwente bad-en-slaaptydroetine onderskat nie. As jy elke aand dieselfde patroon volg, sal jou baba leer wat om te verwag en mooi begin saamwerk.

Sy sal lomerig raak en self haar bedjie begin soek. Badtyd word dan die deel van die dag waar dinge rustiger en stadiger gedoen word. Dink daaraan as die inleiding tot slaaptyd. Julle onttrek julle van die besige dag en die res van die besige huis. Warm water, strelende reuke, ’n sagkense massering en gedempte lig lui die aand in.

S- Skilferkors

Dis ’n baie algemene babakwaal wat ouers baie meer pla as wat dit die baba pla. ’n Skubberige skilferkors op die kopvel is normaal en glad nie ’n teken dat baba vuil is nie.

Die oorsaak is bloot ekstra sebum wat deur jou hormone vervaardig word. Moenie daaraan krap nie – jy kan jou baba se vel seermaak. Was gerus jou baba se hare met ’n babasjampoe. As die kors egter baie dik is en selfs na die wenkbroue versprei, kan jy jou apteker om raad vra.

T- Tydsberekening

Menige ma is al onkant gevang deur ’n poef in die badwater. (Haal diep asem, jy sal oorleef.) Moet liefs nie te kort ná ’n voeding bad nie. Wanneer jou baba drink, is dit ’n teken aan die derms om ook te werk.

Gee dus eers ’n kansie dat die dermpies hul sake ná die voeding kan afhandel. Namate jou baba ouer word, sal jy agterkom dat hy geneig is om op spesifieke tye te poef. Pas jou badtyd daarby aan. Maar moenie die tyd so lank rek dat jy ’n honger baba bad nie, want dis ook ’n resep vir krokodiltrane.

U- Uitsonderings

Uitsonderings op dié badreël mag nooit geskied nie: Laat jou baba nooit, ooit alleen in die bad nie. Nie eens vir ’n sekonde nie. Babas kan baie vinnig en in baie min water verdrink. Ignoreer die deurklokkie en die telefoon.

V- Voorbereiding

Voorbereiding van die kamer waar jy jou baba gaan bad, is belangrik. Maak die vensters, gordyne en deur toe sodat die kamer lekker warm bly en sodat daar geen trek is nie. Skakel die verwarmer aan as dit koud is. Sit jou baba se skoon uitrusting reg en maak al die drukkers en knope oop.

Sit ’n nuwe doek reg, asook enige room wat jy wil gebruik. ’n Sagte handdoek, waslap en seep moet byderhand wees. As jy gaan kniel by ’n badjie, sorg dat jy ’n dik handdoek onder jou knieë het. Maak jou hare vas, haal jou horlosie en juwele af. Daar moet ’n droë plekkie wees, dalk ’n doekruilmatrassie, waarop jy baba ná die bad kan neerlê om hom aan te trek.

X- X staan vir soentjies

Badtyd is vertroeteltyd. Probeer self ontspanne wees oor baba se badtyd sodat sy geen stres by jou aanvoel nie. Soen haar en sing vir haar – dit sal vir haar heerlik wees en die positiewe assosiasies wat dit met badtyd skep, sal beteken dat sy altyd uitsien na dié spesiale tyd van die dag.

Y- Yslike aanpassing

Sommige sensitiewe babas geniet nie aan die begin badtyd nie. Dan is dit beter as jy en jou man al twee help bad sodat dit vinnig verby kan wees. Help jou baba om aan te pas deur seker te maak die badjie, water en kamer is warm en gemaklik.

Hou haar stewig vas, glip haar voete eerste stadig in die water in met ’n hand onder haar boudjies, en sit ’n waslappie oor haar bors. Dit sal haar help om gekoester te voel.

Z- Zzz staan vir goeie nagrus

Wat het badtyd dan met slaap te doen? Dit gee jou ’n wonderlike geleentheid om jou baba met die hulp van spesiale badprodukte bloot te stel aan geure wat kalmerend is, soos laventel, kamille of vanielje. Jou baba sal nie net ruik soos ’n baba nie, maar ook soos een slaap!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees