book-icon Uitgawe Augustus & September 2018

Al die groot mylpale

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Die eerste drie lewensjare word as die heel belangrikste in kinders se ontwikkeling beskou. In hierdie tyd ontluik jou baba teen ’n geweldige pas: van ’n hulpelose pasgeborene wie se bewegings hoofsaaklik deur reflekse gereguleer word tot ’n interaktiewe kleuter wat in sy eie wêreldjie koning kraai. Tydens swangerskap word ’n verbysterende 100 biljoen breinselle in jou baba se brein gevorm. Hierdie selle is met geboorte meestal nie verbind nie, maar oor die volgende 18 maande vorm verbindings teen ’n verbysterende spoed. Hoekom is dit belangrik? Want dit is dié verbindings tussen die breinselle in die vroeë lewensjare wat die grondslag vorm van jou baba se volle latere ontwikkeling. Een van jou sleutelrolle as ma is om sy ontwikkeling te verstaan, jou baba te help om sy mylpale te haal en te leer hoe om sy wêreld baas te raak.

Jou baba se sosiale en emosionele ontwikkeling is belangriker as enige ander ontwikkelingsgebied. Dis noodsaaklik vir sy latere skoolprestasie, lewensgeluk en ’n suksesvolle loopbaan en verhoudings. Sukses word hoofsaaklik gebou op die vermoë om met ander kontak te maak, betekenisvolle verhoudings te vorm en ander in ag te neem. Hoewel jou baba gebore word met die inherente behoefte om te sosialiseer, is hy te emosioneel onvolwasse om dit te doen. Dit beteken dat hy nog nie in staat is om sy emosies te bestuur nie en by geboorte nog nie eens verstaan dat hy los van jou bestaan nie. In die eerste paar maande sal jou baba ’n band met jou ontwikkel wat die grondslag van alle ander verhoudings in sy lewe sal vorm. Hy sal leer dat hy ’n mens apart van jou is en sal begin om sy emosies te beheer deur hom self te leer kalmeer. In die kleuterjare sal hy vriendskappe ontwikkel en leer om met ander saam te werk om ’n gesamentlike doelwit te bereik. Dis aangrypend om te kyk hoe hierdie vaardigheid ontvou en jy kan help deur ’n grondslag daarvoor te lê.

Van die eerste dag af en dwarsdeur die eerste maande sal jou baba baie sterk op jou gesig fokus. As jy hom kans gee, sal hy jou gesigsuitdrukkings naboots en selfs probeer om met jou te kommunikeer. Ondersteun hierdie vroeë sosiale kontak deur genoeg tyd opsy te sit om met jou baba te gesels terwyl jy hom sowat 20 cm van jou gesig af vashou en oogkontak maak. Dit is die afstand waarop jou baba ordentlik op jou gesig kan fokus. Wanneer hy ’n gesig trek, boots dit na sodat hy kan weet hy het ook ’n invloed op jou. Probeer sy boodskappe verstaan en gebruik woorde om te beskryf hoe hy voel, selfs al is hy nog so klein. Dit gee erkenning aan hom as unieke mens en help intelligensie, gedrag en binding aan.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees