Alleen & onafhanklik

akkreditasie
Jou kind ontwikkel belangrike vaardighede as hy op sy eie speel. So moedig jy dit aan.

Deesdae dink ouers dikwels dat hulle hul kinders elke oomblik van die dag moet vermaak. Jou kind verwag vanselfsprekend baie aandag, en jou peuter se oormaat energie en kort aandagspan laat jou dalk dink dat volgehoue stimulasie noodsaaklik is.

As jy jou kind egter aanmoedig om alleen te speel, ontwikkel hy belangrike vaardighede soos verbeelding, onafhanklikheid en kreatiwiteit. ’n Kind wat alleen leer speel, sal waarskynlik die soort mens word wat tevrede is met sy eie geselskap en wat regdeur sy lewe met nuwe en oorspronklike idees vorendag sal kom.

Alleenspel leer jou kind ook om kalm en gefokus te wees, vaardighede wat belangrik gaan wees wanneer hy die dag skool toe gaan.

Jy kan jou kind al van ses maande af leer om alleen en sonder volwasse betrokkenheid te speel. Ratels en speelringe kan jou baba ’n hele rukkie besig hou terwyl jy ’n koppie tee geniet.

Motiveer jou kind so

  • ¬Begin deur saam te speel en geesdriftig te maak of jy ook speel.
  • Laat jou kind ’n paar minute alleen en kom terug. Herhaal dié oefening, maar bly geleidelik langer weg sodat hy langer alleen is.
  • As dit lyk of hy bang word om alleen te wees, sê waarheen jy gaan: “Ek gaan net gou kyk of die kos gaar is.” Hou dan by jou belofte en keer ná ’n rukkie terug voor hy jou begin soek.
  • Skakel ’n monitor aan as jy buite hoorafstand is sodat jy kan luister hoe hy vaar.
  • Prys hom wanneer jy terugkom: “Ek is trots op jou, jy’s ’n groot seun om so mooi alleen te speel!”

Onder een jaar

Los jou baba in sy speelhok of op sy speelmatjie. Gee hom speelgoed waaraan hy kan raak en wat hy kan ondersoek, selfs met sy mond. Ratels, tanderinge en sagte speelgoed werk goed.

As jou baba al kruip, is dit ’n goeie idee om ’n kindervriendelike kamer met ’n hekkie te kies. Laat hom los om te verken. Gee hom speelgoed en laat hom ’n rukkie daarmee speel.

As jy ’n veilige omgewing verskaf met speelgoed wat vir sy ouderdom geskik is, sal hy heel tevrede besig bly.

Onder twee jaar

Gee jou peuter ’n boks met speelgoed waaruit hy kan kies wanneer dit speeltyd is. Boeke, legkaarte, blokkies, Duplo en ander opvoedkundige speelgoed is goeie keuses. ’n Boks met los goedjies wat hy een vir een kan uithaal, werk ook goed.

Jy kan ook vir hom bokse van verskillende groottes gee om mee te speel; maak net seker dis groot genoeg dat hy in en uit kan klouter sonder om vas te sit. Julle kan die bokse saam met kryt en verf versier. Verduidelik dan vir hom hoe lekker hy daarmee gaan speel.

Onder drie jaar

Namate jou kind ouer word, kan jy die dinge in sy speelkas vervang met inkleurboeke en kryte, handpoppies en goed om mee huis-huis te speel. Plaas ’n plastiektafeldoek op die vloer en gee jou peuter tuisgemaakte speeldeeg, ’n koekroller en plastiekkoekieuitdrukkers.

Dit ontwikkel sy tassin, wat baie belangrik vir sy fyn motoriese vaardighede is. Dié speletjie sal al sy aandag dadelik in beslag neem. Dit help baie om gesonde snoephappies byderhand te hou ingeval hy dalk honger word.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees