Om uit te melk beteken letterlik om die melkbuise wat direk onder die areola (die bruin deel om jou tepel) is, tussen jou duim en wysvinger vas te druk en so jou bors leeg te maak. Jy behandel jou borsweefsel meer sagkens as jy met die hand uitmelk, maar ’n hand- of elektriese borspomp werk natuurlik baie vinniger.

Die meeste vroue melk deesdae nie meer met die hand uit nie omdat daar soveel goeie borspompe op die mark is. As jy nog nie ’n borspomp gekoop het nie en verligting vir baie vol of oorvol borste wil bring, sal dit help as jy weet hoe om met die hand uit te melk!

As jy ’n borspomp gekoop het met die idee om uit te melk en ’n melkvoorraad vir jou baba op te bou, verander die reëls effens. Hier is wenke waarmee jy die beste uit albei situasies kan haal.

Met die hand uitmelk

Jy het nodig

  • ’n Groot, skoon waslap
  • ’n Kom of wasbak met warm water
  • ’n Gesteriliseerde koppie en bottels
  • ’n Gemaklike stoel met rugondersteuning
  • ’n Koelsak of yskas vir vars uitgemelkte borsmelk. Jy kan die melk in ’n vrieskas hou as jy dit langer wil berg. Melk kan drie maande lank in ’n staande vrieskas gevries word.

Wat om te doen

  • Baai jou kaal borste in warm water.
  • Sit op ’n stoel en ondersteun een bors met ’n bakhand terwyl jy die hele bors regsom en sagkens met jou vingerpunte in klein sirkelbewegings masseer, vanaf die basis van die bors tot by die tepel. Moenie net jou vel masseer nie, maak seker jy masseer al die borsweefsel ook.
  • Hou die koppie onder jou tepel terwyl jy die areola met jou ander hand in ’n c-vorm tussen jou duim en wysvinger vashou. Jy sal die geswelde buise onder jou vingers voel.
  • Druk en los jou duim en voorvinger vinnig in ’n sagte uitmelk-beweging.
  • Herhaal die beweging 10 tot 12 keer en roteer om die bors sodat al die melkbuise saamgedruk word.
  • Die melk sal uitspuit soos uit ’n stortkop of waterkan omdat daar sowat 10 melkbuisopenings by die tepel is.
  • Jy kan een bors omtrent vyf minute lank uitmelk of tot die spuitstroom begin drup. Herhaal alles met die ander bors. Melk dan albei borste weer vyf minute elk. Dit sal bykomende melkspuitreflekse stimuleer.
  • Moenie jou tepel afdroog nie. Gebruik die melk as ’n tepelroom om infeksie en gebarste tepels te voorkom.
  • As jy uitmelk om vol borste te verlig, melk net uit tot jou borste gemaklik voel en nie tot hulle leeg is nie. Sit koolblare op jou borste en trek dan ’n gemaklike, ondersteunende bra aan.

Kies ’n borspomp

Daar is baie borspompe om van te kies, daarom moet jy liefs ’n bietjie navorsing doen voor jy een koop. Of jy ’n hand- of elektriese borspomp koop of huur, hang af van jou omstandighede en vir hoe lank jy gaan uitmelk. Jy sal raad van iemand nodig hê wat weet waarvan hulle praat – verkieslik ’n laktasiekonsultant of ’n borsvoedingsondersteuningsgroep. Die grootste handelsmerke het ook inligting op hul webtuistes. Kyk na Medela, Pigeon, NUK of Philips Avent.

Uitmelk se moets & moenies

Die borsvoedingshormone prolaktien en oksitosien is die borsvoedingsenjin. Om te probeer uitmelk sonder ’n suigende baba is soos om ’n motor sonder ’n battery te probeer aanskakel.

As hierdie hormone nie gestimuleer word nie, het die motor nie brandstof nie. As jy sukkel met melk wat nie afsak nie, probeer om in ’n bad of stort te ontspan, of nestel jou baba in jou arms vir vel-tot-vel-kontak.

Onthou, dit is nie nodig om jou seer te maak, te kneus of te verbrysel as jy uitmelk nie. Uitmelk behoort nie seer of skadelik vir die tepels te wees, of probleme soos verstopte buise of ’n abses veroorsaak nie – tensy dit verkeerd aangepak word. Wanneer jy uitmelk moet jy versigtig wees om nie die melk met jou vuil hande of gerei te besmet nie.

Wanneer & waarom jy moet uitmelk

  • Jou baba het ’n probleem Vroeggebore babas het nie ’n goeie braakbeweging-, suig- of slukrefleks nie. Baie vroeë of siekerige babas word met ’n buis gevoer en die ideale melk vir hulle is uitgemelkte borsmelk. Boonop benodig babas met aangebore mondprobleme soos ’n gesplete lip of verhemelte, tongvergroeiing of slukderm-atresie uitgemelkte borsmelk. Party babas met Down-sindroom moet spesifieke voedingstegnieke aanleer.
  • Seer tepels Wanneer jy ’n dag of twee lank uitmelk, sal jou seer tepels ’n kans kry om te genees. Sorg dat jy raad kry oor of jou baba reg vassuig, want dit is die grootste oorsaak van baie borsvoedingsprobleme.
  • Oorvol borste Oorvol borste is soos harde ballonne en maak dit vir jou baba amper onmoontlik om die areola vas te gryp om te borsvoed. Wanneer jy uitmelk word jou borste sagter, wat vassuig vir jou baba makliker maak. Dit help ook om tepelbesering te voorkom en te verseker dat jou baba ’n vol voeding kry.
  • Mastitis Mastitis of borsontsteking tas gewoonlik net een bors aan. Hierdie bors word bloedrooi, ontsteek en is baie seer. Dit is noodsaaklik dat jy uitmelk. Berei jou bors versigtig voor deur koue koolblare minstens twee uur lank daarop te plaas, jou bors in warm water te baai en dit dan sagkens met warm babaolie te masseer. Melk dan rustig uit sodat jy die pyn kan beheer.
  • Verstopte buis Jy sal weet as jy ’n verstopte buis het; dis wanneer jy ’n harde knop in jou bors voel. Baai eerstens jou borste in warm water en masseer dan die knop met warm babaolie. Jy moet dan uitmelk sodat jy die melk aan die vloei kan kry. Jy kan jou baba aan jou laat suig om van die verstopping in die buis ontslae te raak.
  • Borsabses As een van die aandoenings hierbo nie opgelos word nie, kan ’n abses in jou bors ontwikkel. Uitmelk help met die behandeling omdat dit die melkvoorraad help behou en die bors dreineer. As jou gesondheidsversorger dit aanbeveel, kan jy van die melk in die aangetaste bors ontslae raak. So nie, kan jy dit vries of vir jou baba gee. Hou aan om met die ander bors te voed. Jou dokter sal die abses behandel deur ’n klein sny te maak en die abses te dreineer sodat dit kan genees.
  • Borsmelkgeelsug Hierdie seldsame en verwarrende diagnose beteken nie dat jy jou baba nie meer kan borsvoed nie. Jy hoef net vir 24 tot 28 uur uit te melk en jou baba met formule te voed om die geelsug te verminder.
  • Ander redes Jy kan uitmelk as jy wil uitgaan, opgeneem word in die hospitaal of terugkeer werk toe. Jy sal een keer moet uitmelk vir elke drie uur wat jy nie by jou baba is nie.
  • Tepelverwarring Baie ma’s wil hul baba liewer nie met uitgemelkte melk uit ’n bottel voer nie omdat hulle bang is hul baba sukkel dan om aan die bors te suig. Vandag weet ons dat as jou baba baie kort ná geboorte vassuig, die kans vir tepelverwarring kleiner is. Baie ma’s kry egter om verskillende redes nie die geleentheid daarvoor nie. Daar is altyd ’n kans dat jou baba die bottel sal verkies omdat dit makliker is om die melk uit te kry. Maar as jy wil aanhou borsvoed, is dit ook moontlik dat jou baba jou bors sal kies as jy volhou.