Die Engelse benamings lip tie en tongue tie is dalk bekender as die Afrikaanse lipknoop of tongknoop, maar tog weet baie mense nie wat dit is sonder om ’n foto daarvan te sien nie. Volgens die webtuiste webmd.com is dit ’n algemene probleem en wil dit voorkom asof seuns drie keer meer geneig as meisies is om daarmee gebore te word. Alle mense word gebore met vliese in hul mond wat frenums of slymvliesplooie genoem word, sê dr. Zana de Wet, ’n tandarts by Dr Tooth Little in die Pretoriase voorstad Montana. “Frenums is spiervesels binne-in ’n slymvlies wat verbindings tussen party mondstrukture vorm. Hulle heg die bo- en onderlip aan die tandvleis vas, en ook die tong aan die mondvloer. “Die doel van ’n frenum is om mondstrukture soos die tong stabiel te hou, maar soms is hulle oorontwikkel en word hulle vergroeisels wat as lip- en tongknope bekendstaan.”

Wat doen dié knope?

’n Lipknoop ontstaan wanneer die lipfrenum die bo- of onderlip baie styf aan die tandvleis van die bo- of onderkaak anker sodat die aangetaste lip net beperkte beweging het, verduidelik Zana. In die geval van ’n tongknoop is die tong weer met die mondvloer vergroei, wat die beweging en gebruik daarvan beperk. Tong- en lipknope word soms oorgeërf. In ander gevalle word dit aan sekere genetiese afwykings of sindrome gekoppel. Dit is egter baie algemeen en kan maklik behandel word, sê Zana. Abnormale frenums word dikwels nie eens opgemerk nie of eers baie laat gediagnoseer. ’n Tongknoop kan byvoorbeeld so diep onder die tong wees dat net ’n kundige dit kan raaksien. Die knope kan deur ’n pediater, borsvoedingskonsultant, spraakterapeut of tandarts gediagnoseer word. Ondersoeke wys gewoonlik ’n duidelik abnormale hegting van die lip aan die tandvleis of van die tong aan die mondvloer. As die baba se lip beweeg word, word die tandvleis waar die frenum geheg is duidelik witter. Die tong het nie normale beweeglikheid nie en ouer kinders kan nie tong uitsteek nie. As hulle dit probeer, het die tong ’n kenmerkende hartvorm omdat die punt aan die mondvloer vas is.

Hoe dit taal raak

Tussen 0,2 en 2 persent van babas word met ’n tongknoop gebore, sê Cordelia Fairlie, ’n oudioloog en spraaktaal-terapeut by die Familieterapie-sentrum op Krugersdorp in Gauteng. “Die erns verskil van kind tot kind en dit kan kinders se spraakontwikkeling aantas. Behandeling hang van die ernstigheidsgraad af,” sê sy. ’n Tongknoop kan veroorsaak dat die tong nie na al die posisies in die mond kan beweeg wat nodig is om sekere klanke te vorm nie. Klanke wat veral geraak word, is l, t, d, n, r. Dis omdat die tong tot bo teen die harde verhemelte moet strek om hierdie klanke te kan artikuleer. Soms leer kinders om hul tong elders te plaas ten einde die klank uit te spreek, sê Cordelia. As die tongknoop met ’n kind se artikulasievaardighede inmeng, moet dit so vroeg moontlik behandel word om te keer dat sy geskrewe werk later sy gesproke taal weerspieël.

Hoe dit borsvoeding raak

Omdat die toestand die beweging van ’n baba se lippies of tong beperk, sukkel baie babas met borsvoeding, sê Françoisé van der Westhuizen, ’n borsvoedingskonsultant by die Melkbekkies-borsvoedingskliniek in Gauteng. “ ’n Lipknoop wat baie styf is, kan keer dat baba se lippe behoorlik opvleuel om aan die bors te kan heg. Hy moet sy lippe dus saampers om die bors in sy mond te probeer hou en ’n seël te vorm. Babas met ’n lipknoop doen dikwels suigrofies op omdat hulle verkeerd heg. “In die geval van ’n tongknoop kan die tong nie behoorlik op en af beweeg om die bors te masseer sodat die melk kan uitkom nie. Die baba moet dan sy tong op ander maniere probeer inspan,” sê Françoisé. Dit kan probleme veroorsaak soos:

  • Pynlike borsvoeding – dit kan voel asof ’n rasper op jou tepels doenig is en of jou baba jou tepels byt of kou;
  • Gebarste of stukkende tepels;
  • Verstopte melkbuise en mastitis;
  • ’n Gesukkel met vashegting, sodat jou baba heeltyd van jou bors afgly;
  • Klikgeluide terwyl jou baba borsvoed;
  • Borsvoedings wat baie lank duur terwyl jou baba onversadig voorkom;
  • ’n Stadige gewigstoename en selfs gewigsverlies;
  • Te min nat en vuil doeke;
  • Refluks omdat foutiewe hegting veroorsaak dat baba baie lug sluk terwyl hy voed; en
  • Verminderde melkproduksie omdat die borste nie behoorlik leeggemaak word nie.

Françoisé sê dit kan ’n nuwe ma oorweldig laat voel en haar laat twyfel aan haar vermoë om haar baba te borsvoed, maar gelukkig is daar oplossings. “ ’n Borsvoedingskonsultant kan jou help deur die baba se posisie op die bors aan te pas en hom te leer hoe om dieper en beter te heg en so die pyn en ongemak te verlig.”

Wat gebeur as dit nie behandel word nie?

Behalwe vir spraak- en borsvoedingsprobleme is nog komplikasies van lipfrenums dat daar openinge tussen die tande ontstaan. Dit kan net reggestel word met die verwydering van die frenum en meegaande ortodontiese behandeling.

Hoe word knope behandel?

Daar is baie menings oor die behandeling van frenums, sê die Pretoriase tandarts dr. Zana de Wet. As die vergroeisel so hewig is dat dit jou baba keer om normaal te funksioneer, moet dit so vroeg moontlik behandel word. As dit net ’n tande- of tandvleisprobleem veroorsaak, kan die behandeling wag tot al jou kind se permanente tande teen omtrent 12 jaar oud uitgekom het. Een van die volgende behandelingstegnieke word gewoonlik ingespan, sê Zana:

  1. ’n Frenotomie ’n Snit word in die frenum gemaak sodat die tong of lip losser kan kom. Dis ’n blitsvinnige prosedure en help veral om borsvoeding makliker te maak.
  2. ’n Frenektomie Die frenum word in sy geheel verwyder.

Bogenoemde prosedures kan op verskillende maniere plaasvind:

  1. Konvensionele chirurgiese metode Die frenektomie geskied onder narkose en die wond word met steke geheg.
  2. Lasertegnologie Dis ’n vinnige en doeltreffende metode wat nie steke nodig het nie omdat daar nie bloeding is nie.
  3. Elektro-kouterisasie ’n Metaalstafie wat met elektrisiteit verhit word, word ingespan om deur die frenum te sny. Bloeding is ook min maar daar is ander moontlike komplikasies wat dit minder geskik as laser maak.

Pasgebore babas ondergaan gewoonlik ’n laser-frenotomie, sê Zana. ’n Spesifieke sagteweefsel-laser word gebruik om die frenum los te laat sodat die onmiddellike borsvoedingsprobleem behandel kan word. Dit kan sommer in die eerste paar dae ná geboorte plaasvind. Slegs oppervlakverdowing is nodig en dit kan in die dokter se spreekkamer gedoen word. Die baba kan onmiddellik ná die prosedure op die bors geplaas word om te voed. Hierdie behandeling word deur opgeleide tandartse behartig of deur mond-en-kaak-chirurge. “Frenums wat later gediagnoseer word, kan ook met laser behandel word. In sulke gevalle is ’n frenektomie gewoonlik aangewese,” sê Zana. Vroeë behandeling vind net plaas as die frenum keer dat ’n baba normaal voed of as dit hom keer om normaal te praat. 

KRY HULP

Cordelia Fairlie 072 414 9348 of cordelia.fairlie@gmail.com

Françoisé van der Westhuizen 082 940 5008 of melkbekkies@gmail.com

Dr Zana de Wet 012 548 3381