As jy baba wil skud

akkreditasie
Jy ken die gevoel. Niks wat jy doen, troos jou baba nie. Sy huil en huil en daar begin 'n woede in jou opbou... Voor jy jou humeur verloor, lees hier.

Babaskudsindroom – dis hartseer dat daar selfs so ’n woord bestaan. Maar as julle meer hiervan weet, is die kanse kleiner dat jy of jou man julle sal skuldig maak aan dié soort kindermishandeling.

Die feite sal jou ook help om die sindroom in jou baba te herken, as jy vermoed dat ’n oppasser haar dalk al geskud het. Onthou, net vyf sekondes se harde geskud is al wat dit vat om jou baba ernstig te beseer, of erger nog, noodlottig te beseer.

As die geskud ’n gewoonte word wat oor ’n tydperk geskied, kan jou baba eendag gestrem wees omdat haar brein bietjies-bietjies seerkry.

Wanneer iemand jou baba skud, selfs al is dit net matig, ruk haar kop hewig na voor en agter. Omdat ’n baba se nekspiere nog swak is, en omdat haar kop in verhouding tot die lyfie so groot en swaar is, is die effek van ’n geskud van ’n baba nie vergelykbaar met dieselfde geskud van ’n volwassene nie.

’n Ouer of oppasser kan die baba dalk net matig skud terwyl hulle met haar raas, maar hulle besef nie watter skade dié optrede kan aanrig nie. Die effek is inderwaarheid dieselfde as om haar op die grond te laat val.

Met die geskud kap die brein teen die binnekant van die skedel. Dit veroorsaak kneusing, swelling en bloeding op die brein wat kan lei tot die dood of tot permanente skade.

Soos breinselle vernietig word en suurstof na die brein verminder, vind neurologiese veranderings plaas. Baie tipies is ook bloeding in die retina – die ligsensitiewe deel van die oog.

Een hardhandige skudsessie kan lei tot die dood, en ligter skudsessies het weer ander gevolge soos vertraagde groei, blindheid, motoriese afwykings, skade aan die rugstring, bloeding op die brein of ’n koma.

Wie skud wie?

Suid-Afrikaanse statistiek is nie beskikbaar nie, maar die prentjie in Amerika lyk só:

  • Slagoffers van babaskudsindroom is meestal babas jonger as ’n jaar, veral in die 3-8 maande-groep. Peuters en kleuters kan egter ook só beseer word.
  • Meer seuntjies as dogtertjies word geskud.
  • Die skuldige is meestal ’n ouer, of die ma se maat – die pa, stiefpa of kêrel.
  • Twee risikofaktore vir kindermishandeling, waaronder babaskudsindroom val, is stres en armoede.

In Amerika is 2-3 babas uit 10 000 slagoffers van dié vorm van geweld. Een uit vyf van hulle sterf, en sowat ’n derde oorleef sonder ernstige gebreke.

Die res hou gestremdhede oor, soos gedeeltelike of totale blindheid, gehoorverlies, spraak- en leerprobleme, ernstige verstandelike agterstand, probleme met geheue, ontwikkelingsvertragings, verswakte intelligensie of verlamming.

Hoe weet ek?

Die simptome gaan baie afhang van hoe erg die baba geskud is. Die baba kan die volgende simptome toon:

  • Bloeding in die oë
  • Lomerigheid
  • Prikkelbaarheid
  • Gedragsveranderings
  • Braking
  • Moeisame asemhaling
  • Verminderde eetlus
  • Ongelyke pupilgrootte
  • Stuiptrekkings of toevalle
  • Onvermoë om sy kop op te lig of sy kop is permanent na die een kant gedraai
  • Onvermoë om met sy ogies te fokus en voorwerpe te volg
  • Bewusteloosheid
  • Bleek of blou vel
  • Dikwels is daar geen uiterlike tekens van trauma nie, maar dit kan wees dat die nek of ruggraat ook seergekry het, of dat die baba bloukolle het op sy arms of skouers waar hy vasgehou is, of dat hy ’n gebreekte rib het.

Wees bewus daarvan dat simptome nie noodwendig onmiddellik verskyn nie. Die ouderdom van die kind, die aantal skudepisodes en die graad van geweld wat gebruik word, is al drie faktore wat ’n rol speel in hoe die sindroom manifesteer.

Wanneer die simptome lig is, dink ouers en dokters dikwels aanvanklik dat dit griep of breinvliesontsteking is. In kwaai gevalle verloor die baba sy bewussyn, of hou op asemhaal.

Die persoon wat die baba geskud het, doen dan moontlik KPR en sal tipies sê dat ander tekens van besering tydens die toedien van KPR opgedoen is. Andersins word die baba in die bed gesit, in die hoop dat hy sal slaap en dat die simptome weg sal wees wanneer hy wakker word.

Voorkoming

1. Kies jou baba se oppasser of crèche met groot omsigtigheid. Maak seker dat die mense wat na jou baba kyk, weet dat hulle haar nie moet skud nie. Dikwels sal ouers uitdruklik aan oppassers sê dat hulle nie die kind mag slaan nie – maar maak seker dat jy uitdruklik sê dat hulle nie jou kind mag skud nie. Verduidelik ook hoekom, want baie mense dink slaan is erger as skud, maar die teendeel is waar.

2. Beheer en verstaan jou eie en jou maat se frustrasie. Dis beter om jou skreeuende baba vir ’n ruk in sy bedjie te los en om die huis te stap tot jy gekalmeer het, as wat dit is om beheer te verloor. Dit vat net ’n paar sekondes van skud om skade aan te rig. As jy alleen is, vra en aanvaar hulp van familie, vriende en bure sodat jy ’n blaaskans kan kry. As jy voel dat jy al gevaarlik naby daaraan was om jou frustrasies op jou baba uit te haal, praat met jou dokter of ’n sielkundige. Vra hulle om jou te help om kalm te bly en jou te leer hoe om jou woede te beheer. Dis die moeite werd.

3. Verstaan jou baba. ’n Klein baba kán nie stout wees nie, en die gedrag wat jou frustreer, is nie doelbewus nie. Troos jouself daaraan dat babasorg met verloop van tyd makliker sal word en dat ’n gehuil wel sal oorwaai, al voel dit nie so nie.

4. En as die ondenkbare gebeur en jy of jou maat skud die baba? Kry dadelik mediese hulp en vertel vir die dokters wat gebeur het. Moenie uit skaamte swyg nie, want dan maak jy dinge net erger. Jou optrede en eerlikheid kan jou baba se lewe red, of keer dat hy lewenslank gestrem is.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees