In die eerste ses maande of so is dinge eintlik maklik. Wanneer jy borsvoed, doen jy die heel beste ding vir jou baba, want borsmelk is die ideale kos. Navorsing en ’n mens se gesonde verstand sê dit vir jou. Maar wanneer die tyd vir vaste kos aanbreek, is sommige ma’s so bang hulle doen iets verkeerd dat hulle uitsluitend kos gee wat op die winkels se babarakke verkoop word.

Ander ma’s gaan weer op hol en skakel enigiets en alles uit wat perdalks ’n allergiese reaksie kan veroorsaak. Alles van eiers en suiwel tot vis en neute word met groot agterdog bejeën en eerder nie voorgesit nie. Die geure van ma se kombuis is ook nie vir dié arme babas beskore nie.

Nog ’n groep wil weer met kos bederf en gee vir baba roomys, koekies en kitskos. Gewone water is nie goed genoeg nie – hul baba moet koeldrank kry, en stroopsoet tee. Dit voel of hulle hul arme bloedjie straf wanneer groente af en toe op die tafel verskyn. Doodgewone gesinskos word as minderwaardige afskeepkos beskou.

Dis geen wonder almal is so deurmekaar nie. Maar dié reis van die eerste happie kos tot jou kind op ’n jaar of wat saam met die gesin aansit, hoef regtig nie vol hobbels te wees nie.

Begin wanneer baba reg is

Begin wanneer jóú baba reg is, maar nie voor vier maande oud nie en ook nie ná ses maande nie. Jou baba sal jou wys wanneer dit tyd is vir kossies. As sy honger voorkom, kan jy eers probeer om haar melk meer te maak. As dit nie werk nie, is die tyd waarskynlik ryp vir vaste kos.

Wees op die uitkyk vir die volgende tekens by jou baba:

  • Sy wys belangstelling in kos deur daarna te gryp of uit te reik.
  • Sy boots jou koubewegings na.
  • Sy het goeie kop- en nekbeheer.
  • Sy kan met rugondersteuning sit, dus in ’n eetstoeltjie.
  • Sy maak haar mondjie oop wanneer jy kos met die lepel nader bring.
  • Sy hou die kos in haar mond pleks daarvan om dit uit te spoeg.
  • Haar geboortegewig het verdubbel.
  • Sy laat jou weet wanneer sy versadig is deur byvoorbeeld haar koppie weg te draai.

Wat gee ek eerste?

Haar eerste kossies kan ’n tuisgemaakte vrugtepuree, groentepuree of ysterverrykte pap wees: iets so eenvoudigs soos ’n stukkie ryp, pap piesang of gestoofde appel- of peerpuree, aartappel, patat, pampoen of wortel. Sorg net dat die tekstuur heeltemal glad is. Probeer die een kossoort vir twee of drie dae en stel dan iets nuuts bekend.

Wanneer jou baba twee weke lank vaste kos geëet het, kan jy begin om ’n tweede maaltyd aan te bied, ook net ’n paar happies. Begin daarna gerus om kos te kombineer.

As jy vrugte- of groentepuree gee, kies vars kos wat nog lyk soos dit in die natuur gelyk het. So weet jy dat niks ongesonds bygevoeg is of iets voedsaams verlore gegaan het nie.

Die lysie van dinge wat jou baba nié moet inkry nie, is kort: suiker, sout, gerookte kos, ver­werkte kos, koeimelk, heuning, blikkieskos, lekkergoed, kitskos, snoepkos en laevet-suiwelprodukte.

Volvetkaas en -jogurt word tot op twee jaar aanbeveel.

Jou baba kan en mag uit al die voedselgroepe eet. Hoe groter die verskeidenheid kos wat jy insluit, hoe beter. As sy iets uit jou bord uit wil gaps, laat dit toe. Wanneer sy ’n jaar of 18 maande oud is, wil jy eintlik hê dat jou baba saam met julle eet (mits julle natuurlik gesond eet).

Jou baba kan en mag uit al die voedselgroepe eet. Hoe groter die verskeidenheid kos wat jy insluit, hoe beter. As sy iets uit jou bord uit wil gaps, laat dit toe. Wanneer sy ’n jaar of 18 maande oud is, wil jy eintlik hê dat jou baba saam met julle eet (mits julle natuurlik gesond eet).

Hoeveel gee ek?

Spring weg met net een vastekos-maaltyd per dag – en ook net ’n happie of twee. Die geheim in hierdie stadium is om alles geleidelik te doen. Begin deur een lepel van ’n kossoort te gee. Melk gaan nog tot op 12 maande die grondslag van jou baba se dieet vorm. Moenie doelbewus minder probeer voed wanneer jy vaste kos begin gee nie. Jou melk is só goed vir jou baba en dit bly ’n belang­rike bron van voedingstowwe. 

Spyskaart aan die begin

 Spyskaart aan die begin
Spyskaart aan die begin

Só kan ’n tipiese spyskaart vir die eerste twee weke lyk.

Spyskaart vir week 3 en 4

 Spyskaart vir week 3 en 4
Spyskaart vir week 3 en 4

Spyskaart vir 7 tot 9 maande

As jou baba goed op dreef is met die nuwe smake, kan jy begin om ’n groterverskei­denheid kosse bekend te stel. Stel vleis, vis, eiers of suiwelproduktebekend in ’n vorm wat aangepas is by haar vermoë om te kou. En onthou diewagwoord: geleidelik. Begin ook nou om drie maaltye per dag te gee.

Só lyk jul spyskaart

 Spyskaart vir 7 tot 9 maande
Spyskaart vir 7 tot 9 maande

Alles oor allergieë

Jare gelede is gemeen die beste manierom allergieë te voorkom, is om verdagte kos weg te hou van babas wat jonger as12 maande is.

“Navorsing het egter gewys dat hierdie maatreël nie help om allergieë te voorkom nie,” sê Inge van Niekerk, ’n dieetkundige van Klerksdorp in Noordwes.

“Die beste plan teen allergieë is om jou baba minstens vier tot ses maande lank eksklusief te borsvoed. Jou borsmelk veg teen allergiewekkende molekules tot jou baba se immuunstelsel self daarteen kan baklei.”

Borsmelk maak daarby jou baba se dermwand vinniger volwasse, wat help dat die allergiewekkende molekules nie daardeur dring nie.

Vroeë blootstelling aan allergene (stowwe wat allergieë veroorsaak soos kos, troeteldierhare, stuifmeel en myte) helpallergieë voorkom. Jou baba se immuunstelsel leer van jongs af om hierdie aller­gene te verdra.

Getty Images
Getty Images

Moontlike allergene

Kossoorte wat maklik allergieë veroorsaak, kan die volgende insluit:

  • Eiers
  • Melk
  • Grondboontjies
  • Neute
  • Vis
  • Soja
  • Koring

Doen dit so

1. Die kos wat maklik allergieë veroorsaak behoort ingesluit te word wanneer jy vir jou baba vaste kos begin gee. Gee een van hierdie kossoorte op ’n slag en doen dit net elke drie tot vyf dae. Die meeste allergiese reaksies vind eers plaas wanneer jou baba ’n soort kos die tweede keer eet, en sommige reaksies verskyn meer as ’n dag nadat die kos geëet is.

Deur een nuwe kossoort op ’n slag bekend te stel en ’n paar dae tussenin te wag, maak jy dit baie makliker om die skuldige kossoort te identifiseer – as jou baba wel’n reaksie kry.

2. Die nuwe kossoort moet altyd soggens gegee word sodat jy jou baba deur die dag kan dophou om te kyk of daar ’n reaksie is. Gee die eerste keer liefs net ’n halwe tot een teelepel, die tweede dag tot twee teelepels en op dag drie ’n groter hoeveelheid. Dis omdat sommige allergiese reaksies dosisafhanklik is en hoe meer jy gee, hoe erger sal die reaksie wees.

3. Inge sê dis belangrik om seker te maak dat jou kind gesond is wanneer jy die moontlike allergene bekendstel. “Sy moe­nie ’n hoë koors of verkoue hê, hoes of onlangs ingeënt gewees het nie.”

Simptome van ’n allergiese reaksie

Matige simptome (wat die vel, asemhalingstelsel of spysverteringskanaal beïnvloed):

  • Rooi gesig
  • Opgehewe rooi uitslag om die mond, tong of oë (kan na die lyf versprei)
  • Swelling, spesifiek van die lippe, oë of gesig
  • Toe of loopneus (genies)
  • Waterige oë
  • Naarheid en braking, maagkrampe en diarree, bloederige stoelgang
  • Jeukerige mond en keel

Ander simptome wat oor ’n tydperk uitslaan

  • Ekseem
  • Refluks
  • Vertraagde groei
  • Hardlywigheid en diarree
  • Maagseer
  • Knieserigheid wat met huil gepaard­gaan

Indien jou kind enige van die boge­noem­de simptome wys, moet jy haar liefs dokter toe neem.

Ernstige simptome

  • ’n Toe of fluitbors
  • Swelling van tong en keel wat die lugweg laat toetrek, swaar asemhaling, hoes of heesheid
  • Skielik dalende bloeddruk
  • Duiseligheid, deurmekaarheid, verlies van bewussyn en ’n swak, vinnige pols

Die goeie nuus is dat die meeste kinders hul allergieë teen omtrent vyf jaar oud ontgroei, veral allergieë vir melk, eiers, soja en koring. Allergiese reaksies op neute, vis of skulpvis word egter nie maklik ontgroei nie.

Afhang­end van die soort allergie kan toetse elke 12 tot 18 maande uitgevoer word om vas te stel of die allergie al ontgroei is.

Reaksies kan binne minute of eers ’n week later plaasvind, hoewel die meeste binne 28 uur inskop. As jy onraad vermoed, hou op om die kos te gee en maak ’n afspraak by jou dokter.

Hou in gedagte dat die simptoom of simptome deur iets anders veroorsaak kon gewees het en dat die allergeen dalk nie die sondebok is nie.

Neem jou baba dadelik hospitaal toe as die reaksie ernstig is, soos as sy moeilik asemhaal of kwaai opswel. So ’n hewige reaksie word anafilakse genoem en kan lewensbedreigend wees.

Eet gesond
  • Dis glad nie nodig of gewens om sout of suiker by jou baba se kos te voeg nie.
  • As jy iets anders as melk te drinke wil aanbied, is water die beste keuse. 
  • Bly weg van gebraaide kos – jou baba se spysverteringstelsel kan dit nie hanteer nie.
  • Kinders onder ’n jaar mag nie heuning kry nie.
  • Moenie moed verloor as jou baba ’n spesifieke kos een keer uitspoeg nie. Probeer ’n week of wat later weer. Dit kan tot 15 keer se probeer kos voor hy daarvan hou. 
  • Hoe keer jy dat jou kind net ongesonde goed eet? Moet dit nie koop nie. As julle nie aartappelskyfies, koekies en lekkers in die huis aanhou nie, is dit maklik om nee te sê.