Sommige ma’s ervaar tande kry as ’n ware uitdaging wat met weke se ongemak en pyn vir hul babatjie gepaardgaan. Baba & Kleuter het by verskeie kenners gaan aanklop oor hoe ’n mens verligting kan bring.
Nege uit tien keer is die simptome wat jy sien nie aan tande te wyte nie, is iets wat pediaters dikwels sê. Dis hoekom die middels wat aangebied word nie verligting bring nie. Baie babas tussen vier en ses maande oud is gedurig met hul hande in die mond en kwyl dikwels, maar dis ook een van die maniere waarop hulle teksture en smake ontdek, en dít het niks met tande te doen nie.
As jy dink jou baba kry tande maar binne ’n week is daar nog nie ’n tand te sien nie, is die simptome waarskynlik aan iets anders te wyte.