Ons weet hoe moeilik dit is om by oefening uit te kom wanneer daar ’n nuwe baba in die huis is. Daar is so baie dinge wat in jou pad staan: gebrek aan tyd, ’n roetine wat nog nie wil vlot nie, klere wat nie lekker pas nie, ongemak in jou lyf en angs oor hoe veilig dit is om in die tyd van die pandemie onnodig met of sonder jou baba uit te gaan.
Jy’s waarskynlik moeg ook en die kans is goed dat jy nie wonderlik slaap nie. Hopelik kan ons rustige jogalessie jou help om aan die beweeg te kom en ook sommer lekker met jou baba te speel. Die voordele vir jou van ’n gereelde sessie op die mat is dat dit jou help om jou lyf weer jou eie te maak en ook om emosioneel meer gebalanseerd te voel. Vir jou baba help dit om groter liggaamsbewustheid te ontwikkel en die speeltyd is vir julle albei spesiale bindingstyd.
Enige ma en baba kan joga van ses weke ná die geboorte af aanpak. As jy ’n keisersnee gehad het, moet jy egter eers seker maak jou ginekoloog stem saam dat jy weer kan begin oefen.