Om te eet is vir jou baba ’n groot sensoriese avontuur. Die gladde babapurees wat jy nou al sowat ’n maand gee, proe en ruik en lyk almal anders, is nie altyd ewe warm nie, en die hele roetine van die lepeltjie wat mond toe kom was vir jou baba nuut en stimulerend. Maak nóú gebruik van jou baba se natuurlike ontdekkingsdrang om nog ’n belangrike eetervaring bekend te stel: tekstuur.
Dis ’n baie belangrike fase van vaste kos en een van die boustene wat die grondslag vir gesonde eetgewoontes lê. Dit stel jou in staat om ’n nog groter verskeidenheid kosse aan jou baba te bied, dis goed vir haar mond- en kaakontwikkeling (en spraakontwikkeling), dit beteken sy sal minder geneig wees om eendag fiemies te hê en dit voer julle ’n stappie nader aan jou groot doel: dat baba teen ongeveer ’n jaar eet wat julle as gesin eet.
Begin deur waar moontlik jou baba se kos eerder met ’n vurk fyn te druk as om dit met die voedselverwerker of stokmenger te verpulp. So sal daar nog sagte klonte in wees.