TEEN MAAND 4

Wat kan jou baba doen?

Jou baba rol – waarskynlik eers van haar maag tot op haar rug, maar later ook anders­om. Sy lig haar bene en arms in die lug op en wieg heen en weer op haar maag! As jy haar uit ’n lêende posisie optrek, hou sy haar koppie mooi styf en regop.

Sy het nou haar hande ontdek en speel graag met hulle: Sy bring hulle tot voor haar gesig en bekyk hulle, en soms kry sy hulle per ongeluk by mekaar uit.

Sy kan nog nie sit nie en as jy haar heupe vashou, tuimel sy kant toe.

Help só: Magietyd bly belangrik, maar laat jou baba ook op haar rug lê en hou ’n inte­res­sante voorwerp net buite haar bereik aan haar linker- of regterkant. Help haar rol om dit in die hande te kry.

Wat gaan in joubaba se koppie aan?Sy begin leer dat haar optredes voorspelbare gevolge het, sy kan tussen gesigte en geslagte onderskei en haar geheue begin ontwikkel.

Help só: Laat sy dinge baie herhaal – dis hoe sy leer. Speel bekende liedjies. Begin ’n roetine instel en speel kieliespeletjies.

Hoe voel jou baba?

Sy huil minder, want sy het ander maniere gevind om haar emosies en behoeftes uit te druk.

Help só: Betrek jou baba by gesinsaktiwiteite. Laat sy saam aan tafel sit en die res van die gesin dophou.

Hoe kommunikeer jou baba?

Sy begin borrels blaas en maak geluid­jies – soos ’n kughoesie – om jou aandag te trek. 

Help só: Gesels met haar en gee haar kans om jou te “antwoord”. Reageer dan weer op haar geselspoging. Prys haar oor die geselsies. Blaas op haar gesig en kyk of sy dit kan terugdoen.

Het jy geweet?

Maak seker daar is ’n bewertjie bo haar bed of stootwaentjie wat sy kan dophou en waarna sy kan uitreik. Gee jou baba ook blootstelling aan verskillende teksture.

Het jy geweet?

Maak seker daar is ’n bewertjie bo haar bed of stootwaentjie wat sy kan dophou en waarna sy kan uitreik. Gee jou baba ook blootstelling aan verskillende teksture.

TEEN MAAND 5

Wat kan jou baba doen?

Jou baba kan ’n blokkie optel en met ’n bietjie oefening weer doelbewus laat val. Wanneer jy haar regop op jou skoot laat staan, kan sy haar gewig ’n paar sekondes lank op haar beentjies dra. Sy kan al mooi uitreik en raakvat.

Help só: Maak seker jou baba het allerhande interessante speelgoed wat in haar handjies pas.

Wat gaan in jou baba se koppie aan?

Jou baba se sig ontwikkel nou vinnig. Sy kan ver sien en bewegende voorwerpe volg. Sy hou van kleur en haar diepte-persepsie het verbeter. Sy is nou ook al fyner op geluide in haar omgewing ingestel.

Help só: Hang ’n bewertjie bo haar bed en doekruilstasie. Laat sy na bewegende voorwerpe kyk (maar nie op TV of op ’n skerm nie.)

Hoe voel jou baba?

Jou baba lag klokhelder en haar sin vir humor begin ontwikkel.

Help só: Maak simpel grappies. Laat speelgoed val en wonder dan waar dit is. Maak snaakse stemme na, of slaan jouself speels oor die kop.

Hoe kommunikeerjou baba?

Sy vorm klanke soos da, ka, ma en irgh, asook l, d, t. Sy kan ook haar toonhoogte en volume wissel.

Help só: Sing liedjies, sê rym­pies op en wip haar ritmies op jou skoot.

TEEN MAAND 6

Wat kan jou baba doen?

Sy leer onafhanklik sit, begin voorwerpe manipuleer en kan handjies klap.

Jou kleinding stoot haar al met haar arms op terwyl sy haar hele bors gelig hou. As jy ’n speelding voor haar neersit, kan sy selfs die gewig na haar een hand verplaas en met die ander hand daarna uitreik. As die voorwerp iewers voor haar lê, steek sy albei arms daarna uit en probeer vorentoe wieg. Anders gestel: Sy begin oefen om te kruip.

As jy haar hande vashou, sal sy haar sommer self van jou skoot af optrek. Sy hou haar kop al mooi regop, staan langer en stewiger op haar beentjies en as jy nou ’n speelding bo haar hou, vat sy dit maklik met een handjie raak.

Help só: Wys haar hoe om ’n blokkie van die een hand na die ander oor te plaas.

Wat gaan in jou baba se koppie aan?

Jou baba se geheue werk volstoom. Sy kan gesigte, name, roetines, ’n paar woorde en gunstelingspeelgoed herken en onthou.

Help só: Speel wegsteekspeletjies waar jy ’n speelding onder ’n doekie toegooi en sy dit moet vind.

Hoe voel jou baba?

Sy steek haar armpies uit om opgetel te word of wriemel om neergesit te word. Haar liggaamstaal is goed ontwikkel en haar gesigs­uitdrukkings al pure mens.

Help só: Moet haar nie oorstimuleer nie. Jou baba het ook rustige alleentyd nodig. Sit haar soms wakker in haar bedjie neer sodat sy haar vir ’n ruk self besig kan hou of self aan die slaap kan raak.

Hoe kommunikeer jou baba?

Jou baba se klankies kry stembui­gings by. Haar oortjies luister spits en sy hoor jou selfs as jy saggies by haar kamer insluip. Sy reageer op haar naam en glimlag vir bekende, vriendelike stemme.

Help só: Lees boekies met een prent per blad. Speel lyfspeletjies en -rympies.

Het jy geweet?

Dis nou die ideale tyd omkiekeboe te begin speel.

Getty Images
Getty Images

MAAND 7

Wat kan jou baba doen?

Jou baba kan self sit en ’n ratel skud. Sy word nuuskierig oor haar lyfie en druk haar hande, vingers en tone in haar mond. Sy rol nou van haar magie af tot op haar rug – en dis nooit meer per ongeluk nie.

Jou besige lyfie sal nou op jou skoot rondwip as jy haar regop hou.

Daarby kan sy deesdae ’n blokkie in elke hand vashou sonder om dit te laat val. Sy kan ook ’n blokkie nader bring, met albei handjies omdraai en oor en weer aangee terwyl sy dit van naderby bestudeer.

Help só: Gee haar ’n tandering om aan te kou. Bêre dit in die yskas (nie vrieskas nie) sodat dit lekker koud kan word.

Wat gaan in jou baba se koppie aan?

Sy kan tot 15 minute lank alleen speel.

Help só: Moenie jou baba oorweldig met te veel speelgoed nie. Gee een of twee op ’n slag en wissel dit af. Speel gee-en-neem-spele­tjies.

Hoe voel jou baba?

Sy ervaar emosies soos vrees, jaloesie, hartseer, stres, liefde, geluk, opgewondenheid, woede en afkeur. Sy reageer ook op aanmoediging en lof. Haar buie kan egter blitsvinnig verander.

Help só: As jou baba sukkel om ’n slegte bui af te skud, kan jy haar aandag aftrek of na ’n ander omgewing gaan.

Hoe kommunikeer jou baba?

Jou baba se taalbegrip vorder goed. Sy reageer op die name van bekende voor­werpe of mense, al kan sy dit nog nie self sê nie.

Help só: Leer haar die name van alledaagse dinge deur daaraan te raak en die woorde elke dag te herhaal.

TEEN MAAND 8

Wat kan jou baba doen?

Jou kleinding kan nou ’n paar sekondes alleen sit. Sy fyn motoriese vaardighede begin ontwikkel en hy kan ’n voorwerp met sy duim en wysvinger vasknyp. Hy probeer sy bes om voren­toe te beweeg – en dan draai hy al in die rondte!

Help só: As jou baba al met selfvertroue vaste kos eet, kan jy nou sagte vingerkos begin aanbied.

Wat gaan in jou baba se koppie aan?

Jou baba verstaan sy omgewing ál beter en begin sin maak van hoe dinge werk, soos dat ’n klein boks binne-in ’n groot boks kan pas.

Help só: Plastiek-stapelkoppies is op hierdie ouderdom uitstekende speelgoed, so ook speelgoed wat ge­luide maak.

Hoe voel jou baba?

Vandeesmaand gebeur iets nuuts: Jou baba is skielik skaam vir vreemdelinge. Skeidingsangs is algemeen, want hy begin verstaan dat hy en jy nie dieselfde mens is nie. Hy het nou baie koestering en gerusstelling nodig.

Help só: Speel waar’s-hy-daar’s-hy-speletjies sodat hy verstaan dat iets steeds bestaan, al kan hy dit nie sien nie. ’n Voorspelbare roetine laat hom veilig voel.

Hoe kommunikeer jou baba?

Jou baba kan tot 20 woorde herken, vir bekende liedjies lag en na ’n bekende voorwerp soek as jy dit vra. Sy klank­repertorium brei uit en hy kan nou t en w sê.

Help só: Gee hom speelgoedmusiek­instrumente om mee te speel. Nuwe klanke stimuleer sy gehoorontwikkeling. Moedig hom aan om dieregeluide na te boots.

Het jy geweet?

Op agt maande begin jou baba al sy daaglikse roetine verwag.

MAAND 9

Wat kan jou baba doen?

Jou baba seil op sy maag rond deur hom aan sy armpies vorentoe te trek. Hy sit al gemakliker op sy eie, hoewel hy soms omdop as hy konsentrasie verloor. Danondersteun hy hom egter met sy armssodat hy nie val nie. Hy kan al regop staan as jy sy handjies vashou, maar sal ná ’n kort rukkie weer grond toe sak.

Jou baba vermaak jou ook nou met ’n nuwe speletjie: Hy het ontdek dat hy iets doelbewus kan laat val. Hy sal alles laat val en arme ma moet dit optel!

Help só: Sit hom op sy magie neer met ’n gunsteling-speelding net buite sy bereik en laat hom vorentoe wriemel om daarby uit te kom.

Wat gaan in jou baba se koppie aan?

Jou baba se visuele vaardighede word verfyn. Hy kan grootte op ’n afstand van ’n meter skat en na voorwerpe drie meter ver kyk.

Help só: Sit saam op die vloer en rol ’n bal na hom toe. Kyk of hy dit kan vang en terugrol.

Hoe voel jou baba?

Jou baba word bewus van homself. Hy hou daarvan om in die spieël te kyk, het besliste voorkeure vir sekere mense en speelgoed en kan baie geheg wees aan ’n spesifieke speelding of trosie. Hy kan ook begin om ander met sy gedrag te manipuleer.

Help só: Betrek jou baba by die res van die gesin se aktiwiteite, veral met etenstyd om die tafel. Laat hom jou ook met takies in die huis ”help”.

Hoe kommunikeer jou baba?

Hy kan nou die woorde vir sy verskillende liggaamsdele begin leer.

Help só: Benoem sy liggaamsdele wanneer julle bad of aantrek, en vra hom om daarna te wys. Wys ook na jou eie.

Getty Images
Getty Images

TEEN MAAND 10

Wat kan jou baba doen?

Jou baba wieg al heen en weer in ’n kruipposisie en kan self van ’n lê- tot ’n sitposisie kom. Hy trek hom gedurig teen meubels op tot in ’n knielende of staande posisie. Soms laat hy die meubels los en staan ’n rukkie op sy eie.

Sy handjies werk al beter saam en hy kan klein en fyn dinge tussen sy wysvinger en duim optel.

Jou baba is reg vir rof speel! Laat wip hom op jou skoot of jou rug, hou hom onderstebo, swaai hom rond en dans saam.

Help só: Dis tyd om lekker wild te speel – swaai jou baba heen en weer of hou hom onderstebo. Hou net styf vas!

Wat gaan in jou baba se koppie aan?

Jou baba verstaan nou teenoorgesteldes soos groot en klein, warm en koud en in en uit. Hy besef ook dat voorwerpe spesifieke funksies het. Hy is teen hierdie tyd ’n regte na-aper – waai al oulik tot siens en sê tatta, of klap sy handjies wanneer jy joune klap. Hy verstaan wat jy vir hom sê en herken sy naam.

Help só: Hy sal speelgoed geniet wat grootmensdinge naboots, soos ’n speelgoedselfoon.

Hoe voel jou baba?

Ander babas begin jou baba nou fassineer. Hoewel hy nog nie met ander speel nie, speel hy graag langs ’n ander baba. Dis sy eerste bewuste kennismaking met sy eie portuurgroep.

Help só: Reël ’n paar keer per week kort speelafsprake met ander babas van sy ouderdom.

Hoe kommunikeer jou baba?

Jou baba verstaan die woord “nee”, maar ignoreer dit graag.

Help só: Probeer om negatiewe sinne te beperk. Sê liewer “wees versigtig” as “moenie mors nie”. Sorg dat sy omgewing veilig is sodat jy nieheeltyd nee hoef te sê nie.

Elke baba ontwikkelteen sy eie pas, wat tot 10 weke van die gemiddeld kan verskil en steeds normaal is.

TEEN MAAND 11

Wat kan jou baba doen?

Jou baba kruip! En vinnig ook! Hy loop ook ál met die meubels langs of wanneer jy albei sy handjies vashou, maar het nog nie die moed om dit alleen aan te durf nie. As die afstand tussen meubels vir hom te groot lyk, sak hy af grond toe en skuifel tot waar hy wil wees.

Hy staan ook al vashouende op een been of op sy tone. Die meubelstuk wat hom ondersteun, hou hy eers met twee en later met een hand vas.

Help só: Wees reg om blitsvinnig te help as hy bo-op iets geklim het en nie weet hoe om af te kom nie.

Wat gaan in jou baba se koppie aan?

Is jou baba verveeld? Roetine is goed, maar jy kan sy ontdekkingsgees aanwakker deur alledaagse dinge soms anders aan te pak.

Help só: Eet op ’n ander plek of bad hom in die ander badkamer. Plak ’n nuwe prentjie op sy kamermuur of skuif sy doekruilstasie na die venster toe.

Hoe voel jou baba?

Sy humeur kan nou kop begin uitsteek. Frustrasie oor sy onvermoë om soms te kan doen en sê wat hy wil, lei tot buie wat vinnig skommel.

Help só: Maak dit ’n gewoonte om jou baba se emosies vir hom te verwoord. Sê “ek kan sien jy is kwaad/hartseer/gelukkig.” Dit bevorder sy emosionele intelligensie.

Hoe kommunikeer jou baba?

Jou baba se nieverbale taal ontwikkel goed. Hy wys na dinge en dit is sy manier om te vra wat die woord daarvoor is. Hy waai totsiens.

Help só: Kyk saam na boekies met eenvoudige prentjies. Vra hom om na ’n voorwerp op die blad te wys. So brei jy sy woordeskat uit, al kan hy nog nie praat nie.

Het jy geweet?

Help jou baba om te loop deur albei sy handjies vas te hou.

TEEN MAAND 12

Wat kan jou baba doen?

Die eerste treetjie! Dit sal eers sukkel-sukkel gaan, maar hy sal weer en weer probeer. Sy bene is wyd uitmekaar en hy hou sy armpies uitgestrek om hom te beskerm. As hy wil stop, val hy sommer.

Op fyn motoriese vlak is jou klein­ding vaardig genoeg om klein goedjies in ’n spesifieke opening te laat val of te plaas. Hy hanteer, neem en plaas voorwerpe akkuraat.

Help só: Skep ’n veilige omgewing waar jou baba sy mobiliteit kan oefen. Hou sy handjies vas en oefenloop saam met hom. Prys sy pogings.

Wat gaan in jou baba se koppie aan?

Sy nuuskierigheid ken geen perke nie. Alles word uitgepak. Jou baba is nie stout nie – dis hoe hy leer.

Help só: Draai van sy gunsteling-­speelgoed in koerantpapier toe en laathy dit oopskeur en herontdek.

Hoe voel jou baba?

Die woordjie ”myne” word net so ’n deel van jou dag as jou baba se besitlikheid oor sy gunsteling-besittings.

Help só: Hy is te jonk om te leer deel. Trek sy aandag af met ’n ander voorwerp as sy besitlikheid ’n pro­bleem word.

Hoe kommunikeer jou baba?

Jou baba begin eerste woordjies ge­bruik, maar verstaan al baie meer woorde, eenvoudige opdragte en vragies.

Help só: Voer kamma-gesprekke waarin hy kans kry om te antwoord. Leer hom rympies.

Het jy geweet?

Sorg dat jou huis babavriendelik is. Dit gee hom die vryheid om te verken, klim en seil.