Is jy een van daai ouers wie se baba dag en nag sonder rede huil en oomblikke ná badtyd weer na suur melk ruik? Jy is nie alleen nie. Die helfte van alle babas jonger as drie maande spoeg elke dag. Dis natuurlik waarom pa’s en ma’s met klein babatjies éérs die spoegdoek optel en dán die baba.
Wanneer melk of kos wat in die maag is tot in die slukderm opstoot, noem ons dit refluks. Regurgitasie ontstaan wanneer hierdie teruggespoelde melk tot in die mond en selfs by die mond uitkom.
Refluks is niks ongewoons nie. Dit gebeur normaalweg sommer ’n paar keer per dag met gesonde babas, kinders en grootmense; gewoonlik ná ete. Die meeste mense weet nie eens dat dit gebeur nie. Regurgitasie is meer algemeen by babas omdat hul slukdermpie nog so kort is, maar kom teen sowat 12 maande vanself reg.